Copyright 2017 -

 

Die Spook van Donkergat

Dit was die 1ste Junie 1902. ‘n Snerpende windjie het oor die water van Langebaan se kant af uitgejaag voor die opkomende son uit om die begin van ‘n nuwe dag aan te kondig. Dit was die dag na die tekening van die Verdrag van Vereeniging, maar die Ingelse het dit nie geweet nie en die Boere het dit ook nie geweet nie, inteendeel, niemand op die verlate spoegie grond by Donkergat was daarvan bewus nie, want Donkergat was so ver weg van Vereeniging af, dit kon net sowel op die anderkant van die maan gewees het. Terwyl die Engelse hulleself regmaak vir die slagting, het Hermanus van Wijk haastig geskrabbel op die agterkant van die stukkie landkaart wat hy nog oor gehad het van die Muldersdrif slag. Toe hy klaar is skeur hy die papier in twee en gee een helfte vir Klaas, sy agterryer. “Klaas, vat so en bêre dit goed op jou lyf. Dis jou helfte van ‘n kaart van waar ek die Kruger Ponde begrawe het,” sê hy. “Nou, dit werk so, as ons albei die slag vandag oorleef, dan kom ons bymekaar, sit die twee helftes bymekaar, grawe die goud op en maak gat skoon vir Port Natal. As ek sneuwel, dan soek jy my liggaam, vat my deel van die kaart en die goud is alles joune. As jy sneuwel, dan doen ek dieselfde. Verstaan?”

“Ja Ouwie, ek verstaan.” Het Klaas gesê.

“Nou goed ou vrind, hier gaat ons; mag God ons behoed vandag.” Sê hy met ‘n weemoedige stem terwyl hy sy baadjie styf om hom trek teen die koue windjie en sy hoed laag oor sy ore druk sodat dit nie afval tydens die geveg nie.

Maar Hermanus en Klaas het een ding nie in ag geneem nie. Hulle het nie nie in ag geneem dat albei van hulle dalk kan omkom in die geveg nie. Teen middag was daar nie ‘n staande boer in sig nie. Die wat nie dood op die slagveld gelê het nie, het al lankal al ver weg gehol voor die Kakies uit. Die slag van Donkergat was oor en so ook die Anglo-Boere Oorlog. Hermanus en Klaas se ligame het vergaan tot stof daar op die spoegie grond by Donkergat maar hulle geeste kon nie tot rus kom nie. Al daai goud en verlore drome het hulle wakker gehou en gemaak dat hulle vir ‘n laang tyd na die slag nog steeds daar in die omgewing gespook het.

Maar hierdie storie is nie rêrig oor hulle twee nie. Eintlik is hulle twee allankal ou nuus.

In 1966 het die Walvis jagters by Donkergat nou net mooi genoeg gehad van die twee ou donners  se gespokery. Hulle maak die honde mal, hulle jaag die volk op ‘n hoop en met volmaan aande hou hulle al wat leef en beef uit die slaap. Toe kom ‘n ou met die naam van Guede op ‘n blink plan af. Hy laat kom ‘n siener uit die Kaap en hou ‘n séance. So vind hulle uit wie die twee arme skepsels is en hoekom hulle almal so uit hul rus uit hou.  Met ‘n bietjie navorsing spoor hy toe twee agter klein kinders op van die twee ou spoke en nooi hulle na Donkergat om met hulle voorsate te kom praat oor die steurnisse. So vind die twee agter kleinsuens toe uit van die skat kruger ponde, vind dit en die twee ou ballies se siele kon utieindelik rus. Of so het hulle gedink. Noudat die skat in die hande van hulle nasate was, en die se families stinkryk geword het oornag, het die twee niks meer gehad om die Donkergatters mee te versondig nie. Maar, daar was net een dilemma:

“Ouwie, kan ons nou maar huis toe gaan?” Vra ou Klaas toe.

“Jaaaa Ou Klaas, dit sou lekker wees, ne’? Maar daar’s net een probleem...”

“En wat’s daai Ouwie? Vra Klaas weer, terwyl hy sy deursigtige kop krap.

“Spoke kan nie op water loop nie, Klaas. Daar’s net een kêrel wat ek nog ooit van gehoor het wat op water kon loop en dit was die Here. En nie ek of jy is daai Gees nie.”

“Hmmm...So wat nou gemaak Ouwie?”

“Ons sal maar die lang pad om moet loop, Klaas, die lange pad om...”

“Baas meen Geelbek om?”

“Ja Klaas, Geelbek om.” Sug Hermanus van Wijk.

“Eish...”

Die twee sit toe maar weer agteroor op die menasie se stoep en reken toe hulle sal dit nog doen, eendag sal hulle nog die langpad omstap huis toe...daar by Geelbek verby...maar dit het toe nooit gebeur nie.

Maar hierdie storie is ook nie oor die twee ou spoke se nasate nie. Hulle prokureurs het gesorg dat hulle en hulle families in die vergetelheid van anoniemieteit verdwyn het en enige iemand wat sou durf waag om iets oor hulle te skryf is met sewe soorte duiwels gedreig om te verhoed dat ou vriende en verlangse familie uitvind waar hulle is en die spannetjie dan kom pla vir onverdiende liefdadigheid.

Gedurende die tyd van die nou amper vergete Suid Afrikaanse Bos Oorlog van 1966 tot 1989, was daar twee militêre installasies in die dorpie van Langebaan, net so skuins oorkant die water van Donkergat en omtrent 20 km van Saldanha af. Die een was die 4 Recce Batteljon en die ander was die vloot basis, SAS Flamingo. Die Vloot basis was op die water – hoe dan nou anders – reg langs die hotel. Die Recces was so ‘n kilometer of twee in die pad op. Albei groepe het woes by die hotel gekuier, waar hulle dan ook so tyd om taks koppe gestamp het en mekaar gebliksem het dat die kak so wit gesit om hulle tande. Nee, die twee spanne het minder as niks vanmekaar gehou nie. Hulle het nie eers gewag vir ‘n Saterdag aand vir ‘n dronk geveg nie. Hulle het sommer enige aand van die week mekaar aangevat, net soos die geleentheid hom voorgedoen het. Dan het hulle mekaar gemoker met stoele en glase, tafels rondgegooi, mekaar deur vensters gegooi en mekaar selfs by die balkon afgegooi! Die hotel se bestuur het op ‘n stadium hier in die 80’s bitter gatvol geraak vir die spul. Moenie ‘n fout maak nie, die spanne kon drink en die hotel het baie geld uit hulle gemaak. Maar die skoonmaak elke keer na so ‘n dronk-geveg het die bestuur eenvoudig dwars in die krop gesteek. Toe’s daar so ‘n jong bestuurdertjie – hy’t die army gegippo met ‘n G5K5 siek sertifikaat, by the way – en hy kom toe met hierdie blink plan vorendag: Skei die twee spanne. Maandae aande word net Recces in die kroeg toegelaat, Dinsdae aande Vlooties. Woensdae aande Recces, Donderdae aande Vlooties. Vrydae aande Recces en Saterdae aande Vlooties. Sondae is die bar toe (Dominee se so) en die eerste Maandag van elke maand ruil hulle om sodat die ander span dan weer kans het om op ‘n Saterdag aand te party.

Hierdie plan het great gewerk. Alhoewel soldate en matrose nog steeds onder mekaar baklei het waneer hulle dronk geraak het (wat elke aand was by die Flamingo Hotel), was die groot bakleiery darem op ‘n einde. Dit was eers twee jaar later dat die boekhouding gewys het dat die drankverkope in die kroeg op ‘n afdraende inklinasie gegaan het na hierdie instelling, want toe die rede vir baklei weggevat is, toe het die rede vir so baie drink ook by die deur uitgegaan. Teen die tyd dat die hotel eienaars geforseer was om die hotel aan Flora en Fauna te verkoop, toe was die jong bestuurdertjie ook al lankal vort en deur sy derde boyfriend iewers in die Kaap.

Maar hierdie storie is ook nie oor daardie G5K5 bestuurdertjie nie. Nee, die storie is oor iemand heeltemal anders.

So is dit dan dat een Vrydag so rondom 12vm in 1984, skuins voor Krismis, ‘n maererige Vlootie op en af deur Langebaan se strate ry met sy Datsun 120Y. Die’ Datsun was ‘n spoggerige Kapoen kleur, blink gepolish van sy chrome bumpers af tot by sy swart Firestones. Vir die wat nie weet nie, Kapoen is ‘n fyn skakering van oranje, so neffens tussen k&k en pampoen. Die mannetjie cruise stadig, want hy’t niks anders te doen nie. Dan skielik sien hy ‘n girl langs die pad stap. ‘n Girl wat hy noggie vantevore op die dorp gesien het nie. Hy slack so bietjie af en loer haar so oor sy donker brille. Die girl kyk vir hom ook so oor haar donkerbrille. Hy sien sy’s aan die maer kant haarself, amper tingerig so effe soos ‘n tink-tinkie. Toe ry hy so’ stadig dat sy moet loop botstil staan of sy loop hom verby.

“Mirrag,” groet hy die girl. “Ek’t jou nog nooit hier gesien nie?”

“Nee,” sê sy, “ek is hier op vakansie.”

“O? Van waar is jy dan?” vra hy weer.

“Suidwes,” sê sy, “en ek is alleen. My Pa-hulle kom eers Woensdag.” Voeg sy by.

“So waar bly jy intussen?

“Hier by die Flamingo Hotel,” sê sy, “my Pa het solank vir my ‘n kamer bespreek. Ek swot in die Kaap, dis hoekom ek vroeër hier is.” Die knaap steek sy hand by die venster uit.

“My naam is Grobbie.”

“Tara” se die girl en druk sy hand ‘n stewige een.

‘Nes ‘n Suidwes girl hoort te doen!’ Dink Grobbie so by homself.

“So wat maak jy nou?” Vra hy.

“Aag niks, ek loop sommer rond.” Sê Tara.

“So wil jy dalk ‘n entjie saam met my ry? Dan wys ek jou die dorp,” sê Grobbie hoopvol.

“Hoekom nie!” Sê Tara en voor hy kon se  ‘Windhoek’, to sit die girl van Suidwes in die Datsun se passasiers sitplek.

So ry die twee deur die dorp en gesels land en sand. Hy wys haar die stadsaal, die Koelie se Kafee, die poskantoor, die Moutons se garage...

“Lus vir Coke?” Vra Grobbie. Sy keel is droog en hy swaai in by die Koelie se kaffee.

“Sure,” sê sy, “dis blêddie warm hier by julle, al is julle so na aan die see.”

Vinnig spring hy uit en met ‘n “ek’s nou terug!” Verdwyn Grobbie in die kaffee.  Twee cokes, ‘n pakkie Gunston 20 sigarettes en ‘n pakkie spearmint bubble gum...moet hy kondome ook kry? Wonder hy, maar laat die gedagte verby gaan so gou as wat dit in sy kop opgekom het. Een-twee-drie is hy terug in die Datsun. Die groot-oog girl van Suidwes sit nog net daar vir hom en wag in die passasiers sitplek. Sy glimlag liefies as sy die coke aanvat en Grobbie se hart loop mis ‘n slag oor dit so mooi is. ‘Damn, miskien moes ek afterall daai kondome gevat het!’ Dink hy.

Grobbie ry met die hoofstraat af. By die hotel draai hy links en anderkant die Kerkie weer regs.  Die girl van Suidwes vat twee sulke klein slukkies uit die blikkie coke dan steek sy haar arm by die venster uit en tip die blikkie om. Waneer die laaste van die coke op die teerpad uitloop, gooi sy die blikkie dat hy dáár trek die bosse in. “Is daar iets fout met die coke?” Vra Grobbie onthuts terwyl sy bek oophang.  

“Nee, ek dink nie so nie.” Sê sy, “Maar gee my joune lat ek proe,” en met die vat sy
Grobbie se blikkie uit sy hand uit en gooi dit ook dat dit so dáár trek die bosse in. Dan smile sy breed terwyl sy vorentoe duik en onder die sitplek krap. Daaronder trek sy ‘n six pack black labels uit. “Sy maak een blikkie oop en plak dit tussen sy bene. “Ek het die vir ons by die drankwinkel gekry terwyl jy coke en siggies gaan kry het,” sê sy en lag skalks. ‘‘n Girl so na my hart!’ Dink Grobbie. Hy is so impressed met haar, hy ry amper die Datsun van die pad af.

“Yster!” Skree hy en smile.

“Cheers!” Sê sy, terwyl sy een vir haarself knak.

“Cheers jouself! En sorry vir die lam coke!”

“No problem,” se die Suidwes-meisiekind en drink die blikkie in een laaaang sluk leeg en gooi dit oor haar skouer tot op die agter sitplek. Dan burp sy so hard dat Grobbie kon sweer die Datusn se voor-ruit bol buitentoe!  Hy prober sy blikkie ook in een teug leeg suig maar misluk misrabelik en stik bier oor die Datsun se dash dat dit naderhand lyk soos ‘n visdam. Saam lag die twee so hard dat hulle skaars kan asem haal. Toe sy haar asem weer so effe terug het, maak sy nog twee Black Labels oop.

“Vertel my bietjie van waar jy vandaan kom.” Sê Grobbie, terwyl hy die meisiekind so uit die hoek van sy oog bekyk. Sy sit met haar bene gekruis op die sitplek. Sy is wragtag maer, dink hy. Kniekoppe soos krieketballe. Die kort denim rompie trek styf oor haar maer bobeentjies en hy verbeel hom hy kan ‘n perserige panty vir hom sien uitloer daar uit die skaduwees van die mikkie. As dit nie was vir die los wit t-hempie wat sy aangehad het nie, sou hy haar ribbetjies kon sien deursteek en haar tities was nie veel meer as twee bystekies nie.

“Omitara.” Sê sy. “Dis die naaste dorpie aan ons plaas. Ons is so 150km Noord daarvan.”

“Tara? Omitara? Is daar ‘n verwantskap?” Vra Grobbie. Tara bllas deur haar neus en rol haar oë. Ja jong, ek was die laaste van vier kinders. Laatlammetjie. My Ma-hulle het nie geweet wat hulle getref het toe ek opdaag nie en het nie geweet seker meer wat om ‘n kind te noem nie.”

“Waar die joos is dit? Noorde?” Vra Grobbie.

“Dis so effens noord van die middle af, as jy op die kaart kyk. So om-en-by 110km Oos weer van Windhoek af. Jy ken darem seker vir Windhoek?” Lag sy terwyl sy na sy kant toe kyk.

“Al daarvan gehoor.”Skerts hy saam. “So wat maak jou Pa hulle op die plaas?”

“Bees boere, jong. Ons boer met Bramane. Het jy hulle al gesien? Hulle het so ‘n groot skof op die nek en wegle horings soos ‘n Afrikaner.”

“Hang ore soos ‘n Indiese heilige koei?” Vra Grobbie.

“Einste ja. Dis hulle daai.” Sê Tara.

“So wat maak ‘n pragtige girl soos jy op ‘n Suidwes plaas?

Tara snork. “Komplimente gaan jou nerens kry nie jong. Ek soek na ander kwaliteite in ‘n man.” Sy lag weer. Grobbie loer haar skuins aan en bewonder haar boskaas swart krulle waardeur sy haar lang wit vingers lui-lekker trek. Hy wonder watter kwaliteite sy van praat en of hy dalk enige van hulle het. “Anyway, sê sy, nie veel nie. Ry perd, jaag beeste aan; ek het op die plaas skool gegaan tot ek tien was en toe is ek Windhoek toe - Kosskool toe tot matriek, en nou swot ek in die Kaap. Voila!” en sy gooi haar arms soos ‘n wafferse ballet danser in die lug.

“Wat swot jy daar?” Grobbie bewonder die meisiekind se lenige lyf nog steeds. Die wit vel van haar gesig en arms ets soos goud are af in swart graniet teen haar raaf-swart hare.

“Regs-sekretarieel.” Sê sy. “Nog ‘n jaar oor dan is ek klaar.

“En dan? Werk by ‘n prokureurs firma?” Raai hy.

“Ja, hopelik hier in die Kaap, ek hou van dit hier. My Ma wil natuurlik hê ek moet Windhoek toe kom, maar ek reken, met vliegtuie vandag, 200km of 2000km, wat maak dit saak? En die Kaap is baie mooier as Windhoek, that’s for sure!”

“Nou kom ek wys jou nog ‘n stukkie van die Kaap wat jy nog nie gesien het nie!” Sê Grobbie toe die Datsun se wiele in die grondpad inbyt wat rondom die Lagoon loop al die pad tot by Donkergat.

Hulle draai in by Geelbek om te kyk na die spookhuis en stop om veld blommetjies te pluk wat Tara in haar swart krulle rangskik. “Vertel my van wat jy doen,” vra Tara terwyl hulle op hul rue in die veld le en opkyk na die wolke wat ver bo hulle verby dryf.

“Ag jy weet, dis Army.” Sê hy.

Oh,” sê sy, “ek dag dis Navy” en sy lag weer daai klok helder laggie van haar.

“Het jy die bote gesien daar onder teen die kaai langs die hotel?” vra hy.

“Sulke gryses?”

“Ja daai.”

“Lelike goed,” sê sy. Grobbie lag.

“Ek moet saam stem. Maar dis ons lewe daai. Hulle is Crash Boats; of Air Sea Rescue Launches as jy wil fancy klink,” sê hy.

“Ry jy op hulle?” vra sy.

“Of course, wat anders dink jy doen ons met hulle! En dis seil.”

“Wat?” Sy lig haar kop op.

“’n Mens seil op ‘n boot, nie ry nie.” Sê Grobbie gemaak-vermakerig.

“Maar die goed het dan enjins, nie seile nie? Ek dag jy ry hulle, soos ‘n kar!” Lag sy.

“Hulle het stuurwiele ook, dit beteken niog nie jy ry hulle nie, niggie.”

“Skies, ek dag ek vra maar net.” Sê sy. “Anyway, dit lyk of hulle in ‘n museum hoort!”

“Nie ver verkeerd nie juffie, daai perde het diens gedoen in die 2de Wereld Oorlog. Kom ons ry! Daar’s nog baie om na te kyk!” En hy spring op.

So ry die twee nuut-ontmoetes en gesels land en sand. Toe hulle hulleself weer kom kry, toe staan hulle voor ‘n hek en so ‘n hengse tamaaie Recce kom na die Datusn toe aangestap. “Shit!” sê Grobbie. “Dis Donkergat die’. Dit behoort aan die Recces.

“Halt!” Skree die ou grote. “Wat de fok soek jy hier?”

“Nee niks!” Skree Grobbie terug. “Ry sommer bietjie rond met my girlfriend!” en met die’ gooi hy die Datsun in reverse en draai sy neus spin-spin in die teenoorgestelde rigting. Sonder om te stop laat wikkel hy die Datsuntjie so vinnig as hy kan weg van Donkergat af. In die tru-spieeltjie hou hy die verdomde Recce dop. Die’ swaai sy R4 bokant sy kop in ‘n dreigende houding. Eers toe hy om die draai en buite sig is, haal Grobbie weer asem. “Sjoe! Dit was close! Hyg Grobbie.

“Wat de joos was daai?” Vra Tara oorstelpt.

“Dis Donkergat,” sê Grobbie. “Dis Recce grond. Hulle het een of ander geheime opleidings of toets stasie daar. Niemand weet rêrig wat hulle daar doen nie en ek wil nie met hulle sukkel as ek alleen is nie.”

“Oh well, ek het genoeg van die natuur gehad anyway. Kom ons gaan terug hotel toe en kry iets om te eet.” Sy krap weer onder die sitplek en hierdie is die laaste twee biere ook! Ons het nog nodig!” Grobbie loer haar sywaarts. “Moenie worry nie,” voeg sy by. “My Pa sal betaal!” en sy lag vir die komiese glimlag op sy gesig. ‘n Entjie verder loer die meisiekind so onderlangs na hom en sê, “so, jou girlfriend, ne’?

“Ag skies man,”apologeer Grobbie, “ek het nie mooi geweet wat om vir die donner te sê nie, toe glip dit sommer uit.” Toe klap die meisiekind haar hand so hoog op teen Grobbie se binnebeen dat hy kon sweer daar sal nie ‘n polonie skil kan ingly tussen haar pinkie en sy donderbus nie.

“Dis okay,” sê sy non-chalant, “ek het hoeka nie ‘n boyfriend nie.” Sy lag klokhelder tewyl sy haar verlekker in sy rooi-gebloosde wange en sy gee sy bobeen so ‘n drukkie. Die res van die pad dorp toe moes Grobbie sy bes doen om nie na die meisiekind te kyk nie en die hand in die waai van sy been te ignoreer om te keer dat sy donderstok nie nie pen-orent kom staan om te kyk wie sy rus so kom versteur nie.

By die hotel gekom, sak die twee in die bar restaurant in. Twee T-bones en nog ses biere later vra Grobbie, “Jou Pa sal nie omgee nie?”

“Nee wat jong, hy sal dit nie eens agterkom nie. Ons bly hier vir vier weke.” Grobbie kyk die skrale meisiekind met die swart boskaas oorkant hom op en af en hy dink onwillekeurig aan wat hy alles met haar kan doen in vier weke. Salig!

“Nou sê my bietjie, wat is dit met jou en die Black Labels? Ek dag julle Suidwesters drink almal Windhoek Lager?” Vra Grobbie.

“Daai’s kameel piepie.” Sê sy. “Ek hou niks daarvan nie. “Ek het Black Label leer ken hier in die Kaap en ek love dit!”

“Ja wel, vyftig-dusiend mynwerkers...”

“Ja, ja, ek het al daai een gehoor, kan nie verkeerd wees nie!” Lag sy. “En hulle rook ook die’” en van onder die t-hemp, seker uit ‘n bra strap of êrens, trek sy ‘n pakkie texan plains. Behendig stamp een se agterkant vas op die tafel. Dan steek Grobbie dit vir haar aan met sy Bic. “Thanks,” sê sy terwyl sy ‘n lang wolk blou rook bo hulle koppe uitblaas.

“Sjoe, nou’t ek alles gesien.” Sê Grobbie.

Die meisiekind lag weer en sê, “Nee, noggie alles nie!” en Grobbie se gedagtes val weer voor by sy broek in soos hy wonder wat kan sy daarmee bedoel. Maar hy’t nie nodig gehad om lank te wonder nie want toe albei van hulle hulle sigarette dood gedruk het in die asbak met die Flamingo hotel se log onder-in, sê sy, “Kom ons gaan op na my kamer toe. Ek moet gaan piepie.” Grobbie was nog nooit in sy lewe deur ‘n meisiekind genooi vir ‘n piepie nie. Hy’t geen idee wat van hom verwag word nie so, sonder ‘n woord staan hy op en volg haar deur die restaurant, deur die lobby en op by die trappe tot by kamer nommer 48. Daar haal sy ‘n sleutel te voorskyn en lei hom soos ‘n dorstige perd die kamer binne. Skielik stop sy in haar spore en Grobbie loop terstond in haar rug vas. Sonder ‘n huiwering draai sy om, sit haar hande om sy nek en soen hom lank en stadig. Dan lei sy hom tot by die bed en stoot hom plat. “Wag jy hier vir my, ek gaan net gou-gou piepie, okay?” Grobbie kon nie ‘n woord uitkry nie en het net sy kop geknik soos ‘n imbesiel.

Die kamer is half skemer. Die son was besig om onder te gaan buite. Binne lyk dit of die plek laas gedekoreer was in 1909 toe die hotel gebou was. Die meubels was van hout en stok oud, maar doenlik. Die bed staan in die middel van die vloer en het ‘n guitige blommetjies deken bo-oor. Skielik besef Grobbie dat die girl nie die badkamer deur toegemaak het nie. Toe hy opkyk, kyk hy vas in haar waar sy op die toilet sit. Hy kan hoor hoe haar piepie straal die water slaan en sy glimlag vir hom terwyl sy haar neus optrek. Om haar enkels lê so ‘n pers strepie; hy was toe reg met die kleur vroeër, besef hy. “Hey! Kyk weg!” Sê sy terwyl sy die toilet papier afrol. Toe Grobbie weer terug kyk toe die toilet begin spoel, toe kom sy aangestap na hom toe en hy sien die stukkie pers het in die badkamer op die grond agter gebly. ‘HKGK’ dink Grobbie by homself toe Tara op die bed klim, hom plat op sy rug druk en hom hartsogtelik begin soen.

Daardie Vrydag agtermiddag het aand geword en die aand het nag geword. Daar agter die toe deur van kamer 48 van die Flamingo Hotel op Langebaan het passie ge-eb en ge-dy eers soos die golfies van die Lagoon en later soos die golwe van die oop see. Toe Grobbie die volgende dag more sy oë versigtig oopmaak, voel hy of hy lê op die sagste bed waarop hy nog ooit geslaap het. Deur die gaas gordyne glimlag ‘n opgewekte sonnetjie en buite hardloop die brandertjies gelate uit op die strand. Die seë voëls se gekwê klink vir Grobbie soos ‘n swanesang en half bo-oor hom, soos ‘n sagte sy-serpie, lê die meisie van Suidwes, met haar swart krulle wat stout sy neus kielie. Uit hierdie bed uit, besluit Grobbie, wil hy nooit weer opstaan nie. En hy het amper ook nie; nie daardie dag nie en ook nie die volgende dag nie. Die twee het net so nou-en-dan opgekom om asem te skep vir kamer-diens en seekos en sjampanje was aan die orde van die dag.

Daardie Maandag oggend het Grobbie homself met moeite van Tara af weggeskeur. Maar die Vloot het geroep en hy moes nog na sy woonstel toe gaan vir ‘n stort en ‘n skoon uniform. “Sorry Babe, ek willie maar ek moet.” Sug Grobbie.

“Solank jy net terugkom vannaand. Ek moet seker ook ‘n bietjie vars lug kry ne’?” Skerts sy.

“Nou dis die ander ding, ek is aan diens vannaand. My shift maak eers 12 uur klaar, maar onthou, ek is net hier langsaan by die Base en ek kom dadelik sodra my shift klaar is.” Hy soen haar op die voorkop waar sy kruisbeen op die bed sit. Sy maak haar oë toe.

“Belowe?” Vra sy.

”Belowe.” Be-aam hy.

“Goed,” sê sy en soen hom op die mond. “Bye...en maak gou! Ek wag vir jou!” Met die is Grobbie by die deur uit.

Later daardie oggend op P1551 se boeg vertel Grobbie die ander manne van sy naweek eskapades. Toe hulle by Donkergat verby vaar, onthou hy van die groot Recce by die hek. “Hey, en toe ry ek amper ‘n Recce vrêk! Sê Grobbie.

“Aitsa! Wat meen jy?” Vra Lemon. Lemensky was ‘n snaakse karakter. Hy was eens op ‘n tyd ‘n lid van die Vloot se Marine Korps. Die rumour was dat hy eendag sy disk geflip het met ‘n korporaal en hom vir sewe weke in die hospitaal ingeslaan het. Toe word hy Langebaan toe verplaas na hy sy DB tyd uitgedien het in Simonstad. Maar daaroor praat niemand nie.

“Ek en die girl ry nog so lekker en die volgende oomblik toe staan die bliksem in die middel van die pad!”

“Waar was die?” Steek Lemon weer.

“Daar.” En Grobbie wys in Donkergat se rigting. “Die pad was toegemaak met doring draad en ‘n boom en daai groot bliksem met ‘n R4. Ek dag hy gaan my skiet!” Sê Grobbie.

“Hey Lemon, is dit nie dalk daai selfde bliksem met die rooi hare wat jou kakebeen gebreek het nie?” spot E.T. E.T. het sy bynaam uit die fliek uit gekry. Hy was so ‘n laaaang donner met ‘n koppie wat heeltemal te klein was vir sy lyf.

“Einste daai gemmer bliksem.” Sê Grobbie. “Einste hy!” Die ander lag. Lemon is die moer in.

“Issie! My kaak was nie gebreek nie! Dit was net erg gekneus! Besides, kan julle onthou hoe’t hy’ gelyk na die tyd?”

“Ja,” sê Tubby, “Maar ek dink dit was Osie wat hom so gedonner het. Jy was toe al lights out!” Die ander lag weer. Osie aan die wiel, knik sy kop heftig en grinnik.

“Se moer man! Ek wassie uit nie! Jy dink aan ‘n ander keer!” Snou Lemon vir Tubby toe. “Vra vir Tjietjos, hy was by! Ek het hom pimpel en pers geslaan met ‘n bar stoel!” Skree Lemon.

“Ja toe nou manne, stop julle nonsens daar op die voor dek! Maak solank reg vir vasmeer ons is amper in Saldanha!” Maak Osie die spul stil voor iemand seer kry. Tubby is maar bietjie stadig as dit by dink kom en Lemon is weer bietjie vinnig waneer dit by humeur kom. Menig van sy maters moes al les op sê sedert die bakleiery by die hotel se kroeg stop gesit is.

Later oor middagete haal Lemon weer die Recces op. “Ouens,” fluister hy geheimsinnig. “Ek het uitgefigure wat daai Recces by Donkergat doen.”

“Wat?” Wil van die ander weet.

“Wel, Koos het vir my gesê dat Man-oppie-Perd (Koos se girlfrend wat in die Recce kombuis werk, maar dis ‘n ander storie  daardie) hom vertel het die gespuis doen duik oefeninge daar. Dis soos ‘n kursus om limpet mines aan bote vas te plak of so iets.”

“O ja het al daarvan gehoor,” sê Brandjie. “Maar ek het gedink hulle doen dit in Simonstad?” Lemon ignoreer hom soos E.T. die stop straat by die Weskus pad se aansluiting ignoreer. “Wat sê julle ouens, vannaand gaan kuier ons bietjie vir hulle?” ‘n Paar ouens lag senuagtig. “Chicken?” Skiet Lemon hulle kant toe. “Ek sê julle wat, vanaand as daai ape slaap dan suiker ons hier oor die water met ‘n DSB en trek ‘n staaldak parade op hulle. Toe, wie’s in? Ons kan in en uit wees voor hulle die komberse van hulle kan afgooi!” Die manne het te lanklaas die geleentheid gehad om ‘n Recce te moer en gou-gou was almal hard besig om Lemon se plan te ondersteun en te verfyn.

Donkernag daai aand sit tien van hulle in’n ses-man rubber duck die stuk in Donkergat toe. Nee sê was nie ‘n opsie nie en Grobbie’t maar net hard gebid dat hy voor middernag sou terug wees om vir Tara betyds by die hotel te kry. Soos die koue windjie snerpend deur sy ribbekas sny, so’ droom hy van daai warm sagte bed in kamer nommer 48 waar sy Suidwes girl vir hom wag. Hy dink aan haar swart krulle en haar sagte wit vel onder sy vingers. In sy gedagtes trek hy patroontjies met sy vingers oor die vlakte van haar maag en soen haar rosige lippies hartsogtelik en sag.

Die DSB se boeg teen die sand ruk hom uit sy droom wereld uit en Lemon se saggies. Almal uit! Kyk uit vir wagte!” Die tien-stuks leopard crawl teen die stukkie strand uit so vinnig as hulle kon. Man-man sleep ‘n balsak en onder in elkeen is daar ‘n staaldak. Tussen die bossies kom hulle tot ruste. Tubby skiet gehurkend in ‘n oostelike rigting en verdwyn tussen die naaste geboue in. ‘n Paar minute later kom hy weer te voorskyn.

“Phewt!” Fluit hy saggies. “Die coast is clear! Geen wagte!” Dis mos die Recces se plek die. Geen nut vir wagte nie, niemand sal mos hier kom rond fok nie. Hulle draf tussen die geboue in met Lemon heel voor in die koor. Skielik stop hy en hou sy vuis in die lug:

“Halt! Wat is daai?” Die tien-tal staan vas soos een man.  Hulle luister; dan sê Voster: “Dis die fokkers! Dis hulle wat so snork!” Lemon smile in die donker. Hierdie gaan ‘n makliker parade wees as wat hy gedink het!

Die Recces is poot-uit. Gô-uit! Die hele dag lank was dit ‘n geduikery, ‘n gehardlopery, ‘n gesitup-ery, ‘n gepushup-ery en ‘n geskree-ery. Die arme drommels het alles gery behalwe girls gery. So die span het al vroeg-vroeg bed se kant toe gestaan en alhoewel dit toe eers tien uur was, was die hele span al lankal uitgepass in hulle staal stretchers. Die tien vlooties sluip soos ratels op hulle mae al agter die snork geluide aan. Dit lei hulle om die menasie na ‘n lang slaap blok. Nou hierdie geboue was sulke lang maer geboue met ‘n deur aan elke ent. Weerskante in die lengte af was ‘n ry beddens, elkeen ‘n meter uitmekaar uit en geskei deur ‘n staalkas. “Okay kerels,” fluister Lemon die laaste instruksies. “Line up!” Die vlooties kom staan een agter die ander met Lemon aan die voorpunt. “Odds links, evens regs!” Fluister Lemon weer. Dan vat hy die deurknop in sy hand en draai dit oop. Toe bars chaos los. Die vlooties hardloop die slaapkwartiere binne met ‘n moerse geskree en laat die balsakke waai links en regs. In die donker het hulle geen keer nie. Hulle looi die slapende Recces pimpel en pers!

Lemon skree, “Laat hulle val waar hulle wil, Manne en mag hulle hard val!” Die Recces skrik verward wakker. Hulle gil in hulle verbouereerdgeit. Diegene wat die storie van die spook van donkergat ken was oortuig dis die geeste wat hulle aan val. Die wat nie die legende geken het nie, was oortuig dat die oordeelsdag aangebreek het. Een ou wat al vantevore op die grens was spring deur ‘n venster agter sy bed en sny himself aan vlarde. Lemon pluk die deur aan die anderkant van die gebou oop en vlieg na buite soos ‘n vlermuis uit ‘n grot. Die span vlooties hardloop dat hulle so klein word reguit vir die rubber duck nog voor ‘n Recce kon voet neersit op die koue sement vloer.

Op die menasie se stoep sit die twee ou spoke. “Wat de joos...?” Sê Hermanus van Wijk. Klaas kyk ook styf-styf oor sy skouer in die rigitng van die skielike geraas. Iewers agter hulle het die hel nou sopas oopgeskeur want die wreedaardigste geween en gekners van tande vul die stil naglug. Skielik kom Lemon om die menasie se hoek gevlieg. Klaas pluk sy voete onder die bankie in waarop hulle sit.

“Hiert jou Satan!” Gil hy kliphard, oortuig dat die duiwel nou moeg gewag is en maar self kom kyk wat vat hom en die Ouwie so lank om by die huis te kom. Dan kom nog een om die draai gehol en dan nog een en nog een.

“Goede genade Klaas, waar kom die goeters vandaan? Hulle lyk kompleet of die duiwel hulle jaag!” skree Herman van Wijk bo die geraas uit.

“Jaaa Ouwie! Die duiwel kom ons haal! Ek denk hy is de vieste in omlat ons so lank vat!” Hermanus tel nege naellopers en toe nommer tien om die draai kom, toe steek hy sy kierie uit. Nommer tien se voet haak vas en hy val himself des-moers op die menasie se stoep.

 “Hiehiehiehiehie!” Lag ou Klaas dat hy eintlik sy maag moet vashou. “Ouwie! Kyk hoe trip jy die klein swerkater nou!” Die twee ou spoke lag hulself half boeglam! Hulle het lanklaas so baie prêt gehad. Maar dan hou ou Klaas op met lag en se; “Ouwie, Ouwie!” en hy stamp Hermanus met ‘n knopperige elmboog in die ribbes. Hermanus lag nog eenstryk deur maar toe hy die benoudheid in Klaas se stem hoor, vee hy die trane uit sy oë en sê half ge-irriteerd,

“Ja Klaas, wat is dit nou?”

“Ouwie! Kyk Ouwie, kyk!”

“Kyk wat Klaas?!” Sê hy ongeduldig.

“Kyk Ouwie!” en dan volg Hermanus ou Klaas se vinger. Voor hulle staan Grobbie. Hy hou sy kop vas en hy skree soos ‘n maer vark.

“Jou dom donnerse bemoei-sieke flippen beeslies! Vir wat trip jy my!”

“Huh?” Sê Hermanus en hy kyk vir ou Klaas.

“Ja jy! Jou verrimpelde voël vel! Wie de fok is jy anyway?!” Skree Grobbie. Hermanus staar na Grobbie. Dan waai hy sy hand voor Grobbie se oë verby. Grobbie dyns terug.

“Jy...kan my sien?” Vra Hermanus.

“Ouwie...Ouwie!” Sê Klaas half-dringend.

“Nie nou nie!” Sis Hermanus.

“Natuurlik kan ek jou sien jou simple Beesblaas! Vir wat het jy my getrip?!” Raas Grobbie weer. Hermanus lag senuagtig.

“Kyk Klaas, die mannetjie kan ons sien!”

“Ja Ouwie! Ekke hom weet! Kyk Ouwie!” Dan sien Hermanus waarna ou Klaas die hele tyd wys. Daar op die grond lê Grobbie. Om sy kop is ‘n groot plas bloed soos ‘n stralekrans. Hermanus se een voet sit in die plas.

“Sies!” Skree Hermanus en pluk sy voet terug. Dan kyk hy stadig op. Grobbie staan ook regop voor hom, nog steeds in ‘n dreigende houding asof hy hom enige oomblik gaan pot.  “Oh Dêm. Sorry ou Seuna. Ek het dit nie bedoel nie.

“Jy beter sorry wees jou bewerig ou sakkie bene!” Ek kon blêddie dood gewees het!” Skree Grobbie.

“Maar...”

“Maar wat?!” Skree Grobbie, sy gesig sentimeters van Hermanus s’n af.

“Maar...” Hermanus kan dit net nie uitkry nie. Dan kom Klaas tot sy redding.

“Maar djy es!” sê hy en wys na die grond.

“Ek is wat!” Skree Grobbie en dan kyk hy af na waar Klaas wys.

“Djy es hom dôd!” Se Klaas.  En daar op die grond lê hy. Sy kop oopgekap teen die rand van die trap dat hy sy eie breins kan sien in die gapende wond. “Ek is...Ek is...Neeeeee!!!!” Skree Grobbie se spook. Hy hardloop teen die trappe af in die rigting van die strand. Haai! Ouens! Wag vir my! Wag vir my!” Op die strand sien hy sy makers die rubber duck die see in stoot en een vir een spring hulle op. Hy hardloop agterna maar voor hy die water raak, steek sy bene vier-spoor vas in die sand. Hy beur so al wat hy kan maar die water in kan hy nie. “Hey! Ouens! Wag vir my! Wag vir my!!!” Maar niemand hoor hom nie. Hulle kyk nie eens in sy rigting nie. Toe die rubberduck se laaste klanke in die donker verdwyn, staan arme ou Grobbie nog steeds daar op die sand. Hy ruk soos hy snik en uit sy keel kom net sulke skor geluide. “Ek’s hier! Julle ouens! Wat van my!” Uiteindelik  besef hy in sy hart dat daai lot op die rubber duck nie gaan omdraai nie en dat hulle nie eens besef dat hy is nie op die bootjie nie. Dan draai hy maar om en stap sleepvoet terug na die menasie se stoep toe.

Op die stoep is die ligte aan. Recces staan oral verward rond in onder broeke en slaap klere. By Grobbie se lyk sit die Kaptein op sy hurke. “Hierdie een is dood, manne. Korporaal, kontak 4 Recce en se vir hulle wat hier aangaan. Stuur die diens offisier en verwittig SAS Flamingo. Ook die Polisie. Ek neem aan die res van hulle is iewers daar op die water in ‘n rubber duck. Die donners.” Dit alles staan Grobbie se spook en gade slaan uit die skaduwees uit. Dan is daar ‘n hand op sy skouer. Kom ou seun, daars niks meer hier vir jou vanaand nie. Kom saam met ons.” Ou Klaas en Hermanus van Wijk lei die nuwe spook tussen die geboue deur weg van die lewendes sodat hy nie die tragiese gebeure van sy eie dood hoef te aanskou nie. “Toemaar ou seuna, dis nie so sleg nie, Donkergat is ‘n lekker plek! Ons is al amper ‘n honderd jaar hier!”

“Tja my kleinbaas, dis ‘n goeie plek die; ‘n goeie plek. Djy sal daarvan hou, jy sal sien!”

Terug in Langebaan in kamer nommer 48 het die meisiekind van Suidwes later aan die slaap geraak. Toe sy die volgende oggend wakker word was Grobbie nog steeds nie daar nie. Die hele dag het sy vir hom gewag maar Grobbie het nie gekom nie. Toe haar Ma-hulle die Woensdag daar aanland, was Grobbie nog steeds afwesig. Niemand by die vloot basis het daaraan gedink om vir haar te kom sê wat met Grobbie gebeur het nie, want niemand het van haar geweet nie. Toe Lemon en die ander by SAS Flamingo se kaai aangeland het, het die MPs vir hulle alreeds daar gewag en teen middernag was al nege van hulle opgesluit in Saldanha se militêre selle. Nie een van hulle het aan haar gedink nie; hulle het meer probleme gehad om aan te dink as wat Tubby breinselle gehad het en die dooie Grobbie se naweek-eskapades wat nieteenstaande aanleiding gegee het tot die hele tragedie, was nie in enige vorm naby die oppervlak vir enige van hulle se gedagtes nie.

Die girl van Suidwes was eers kwaad, toe het sy snot en trane gehuil waarna sy nog kwater was vir daai vlootie wat haar so in die steek gelaat het. Haar Ma het sy niks vertel nie. Van Grobbie het sy prober vergeet deur die eerste en beste Recce daai volgende Saterdagaand by die disco nader te sleep. Drie maande later was sy pregnant. Haar Ma het gehuil en haar Pa het belowe om die donnerse army rot vir wilde varke te voer. Haar Ma het haar gaan haal in die Kaap en ‘n rukkie later is sy en die Recce getroud. Na die baba se koms het dinge net afdraend gegaan. Kort voor lank het die Suidwester genoeg gehad van die army lewe en is van die Recce geskei. Sy het haar baba gevat en is terug plaas toe. Later het sy haar diploma oor die pos klaar gemaak en gaan werk by prokureurs in Windhoek. Vandag wonder sy nog soms wat van daai dêmmitse Grobbie geword het en wat sy verkeerd gedoen het wat so vreeslik was dat hy haar sommer net so moes laat staan.

Die Recce het homself per-ongeluk met ‘n limpet myn iewers in Angola opgeblaas. 

En ou Grobbie, die arme knaap is nog steeds daar op Donkergat met die twee ou spoke as enigste geselskap. As die winters windjie so treurig sing daar deur die ou verlate geboutjies op Donkergat dan kan ‘n mens hom nog hoor wéén as jy mooi sou luister. Hy wéén oor daai meisie van Suidwes wat hy daar op Langebaan moes los, die een wat vir hom gewag het daar in die Flamingo Hotel se kamer nommer 48; daai kamer met die sagste bed in die wereld wat hy nog ooit op geslaap het.

f t g