Copyright 2017 -

 

Hoekom Bobbejaan nie kan praat nie

Lank lank gelede, toe die son en die maan nog jonk was, kon al die bobbejane praat. Hulle het bedags in die veld gespeel en saans in die Berg stories vertel om die kampvuur. Hulle het te lekker gebly en niemand gepla nie, want daar was niemand om te pla nie.

Toe eendag na ‘n groot reën storm, verskyn Boer op die horison. Boer kom aangestap oor die vlakte. Hy stop in die veld en kyk om hom heen. Hier sal ek vir my ‘n plaas bou, sê hy vir homself. Hy pak toe sy perd af en maak ‘n vuur om ‘n koppie koffie te maak. Toe kap hy ‘n klomp bome af en bou vir hom ‘n huisie en ‘n stal vir sy perd. Die volgende dag kyk hy uit oor die veld en sê vir homself, hier sal ek mielies plant en dan kan ek lekker eet. Hy maak toe die ploeg agter sy perd vas en ploeg die veld om. Voor die verstomde bobbejane se oë verander hulle veld in ‘n mielieland. Hulle is baie ontsteld hieroor en besluit om met Boer daaroor te gaan praat.

Die volgende dag stap hulle na Boer en sê, Boer, ons is baie ontsteld omdat jy ons veld in ‘n mielieland verander het. Ons het nou geen meer plek om te speel en te lag en gesels nie. Dit raak vervelig om bedags ook rondom die vuur te sit en stories vertel want ons doen dit alreeds saans. Boer dink hieroor en frons. Hy kyk na sy mielieland en kry ‘n blink idée. Kyk, sê hy vir die bobbejane, aangesien julle nou niks te doen het in die dag nie, kom werk vir my in die mielieland. Die bobbejane kyk vir mekaar en frons, want hulle weet nie wat werk is nie. Toe besluit hulle om maar in te stem en te kyk wat is werk nou eintlik.

Die volgende dag roep Boer die bobbejane bymekaar en deel die werk uit. Julle twee plant mielies, julle twee werk die ploeg, julle twee dra water aan en lei nat en so gaan hy voort. So deel Boer al die werk uit en gaan sit dan op sy stoep en rook sy pyp. Boer voel baie tevrede met homself en dink hy is baie slim. Die bobbejane werk op sy plaas dat die sweet hulle aftap en hulle rue krom staan vir die hele dag deur.

Daardie aand om die kampvuur het niemand lus vir stories vertel nie, want hulle lywe is te seer en al wat hulle kan doen is kla. Die ou bobbejane kyk die spulletjie so en besluit hulle moet ‘n plan maak. Die probleem is ons kan praat, se die oudste bobbejaan. Die ander frons en kyk na hom. As ons nie met Boer gaan praat het om te kla oor die mielieland in ons veld nie, dan sou hy nooit vir ons die werk gegee het nie. Omdat ons kan praat, moet ons nou werk. Die ander praat onder mekaar en stem saam met die ou bobbejaan. Hulle werk omdat hulle kan praat!

Die volgende aand om die kampvuur dreun dit van die bobbejaan stemme. Oud en jonk bespreek die praat-probleem. Hulle besluit toe dat die enigste oplossing om nie te werk nie, is ook om nie te praat nie.

Die volgende oggend in die mielieland, sit die bobbejane rond en staar in die verte. Boer kom daar aangestap en sê, Toe toe, hoekom sit julle so hier rond, begin werk, die son sit al hoog! Die bobbejane staar rond, krap vlooie en sê nie ‘n woord nie. Hulle maak of hulle Boer glad nie kan verstaan nie! Boer raas later tot sy ore pienk is, maar die bobbejane roer nie ‘n vinger nie. Toe raak Boer so kwaad dat hy skree, nou goed julle lui diere, as julle nie kan praat nie, kan julle ook nie werk nie! Skoert van my mieieland af en gaan terug Berg toe! Boer se pienk ore is vir hulle so snaaks, dat hulle almal uitbars van die lag! Toe staan die bobbejane lui-lui op en drentel terug Berg toe. Op pad uit die mielieland uit, eet hulle vir oulaas so ‘n paar mieliepitte.

Van daardie dag af het die bobbejane nooit weer gepraat nie en al wat ‘n mens nog in die donker kan hoor, is hoe hulle lag as hulle dink aan Boer se pienk ore.

Fluit Fluit, die storie is uit!

 

f t g