Copyright 2017 -

 

Die Groen Mini se As

 

1980 – Die Kaap gloei in die hittige Desember son. ‘n Jong lat en sy maters parkeer ‘n 1971 Mini Minor in Bellville swembad se parker terrein; British Racing Green.  By die draaihek betaal hulle elkeen sy 25c en kry ‘n blou rubber rekkie om die arm.  Tenspyte van die feit dat die swembad oorloop van glinsterende lywe, is hulle gereëlde plekkie onder die boom  oop. Hulle gooi hul handoeke op die grond uit en gaan lê kasiaal op hul rue. Deur hulle donkerbrille smelt hulle met hulle smeulende blikke die meisies se bikinis af van hulle lywe af. Die meisies weet, en hulle swaai hul wulpse lyfies nonchalant soos hulle by die jong latte verby paradeer, elkeen op sy eie missie...elkeen op sy eie missie. So stap die somer vakansie aan. Sonskyn dag na sonskyn dag; Paraderende meisies dag na dag en die jong lat en sy maters word nie moeg nie.

Tot daai een dag, daardie noodlottig dag toe hy haar opmerk. Die girl met die kortste groenste rompie aan en die mooiste, sexieste paar beentjies wat onder hulle uitsteek wat hy nog ooit in sy lewe gesien het. Om te sê die bene het onder die mini uitgesteek is eintlik ‘n paradoks. Eintlik was die mini so kort dat dit soos ‘n lampskerm bo-op die bene gelyk het. En die jong lat se bek hang oop en kwyl loop by die een kant van sy mond uit en al waaraan hy kan dink is die bulb onder daai groen lampskerm en hoe bitter graag hy daai liggie sou wou aanswitch.

Die lat staan op van sy handdoek af op asof in ‘n waas. Sy arm is in die lug voor hom uitgestrek en sy wysvinger hang slapperig vooraan sy hand in ‘n powere amper hulpelose poging om die girl aan sy maters uit te wys. Maar uit sy mond kom nie ‘n enkele word nie. Die boodskap vanaf sy brein wil nie by sy lippe uitkom nie. Iewers op die pad soontoe raak dit verstrengel in ‘n lang lel koorsagtige kwylerige belustigheid waaroor hy absoluut geen beheer het nie. “Hey ouens...ky...kyk daarie girl daar...”Maar teen die tyd wat hy dit kon uitkry, was sy al in en uit die snoepie se ry en het ‘n roomys in die hand. Hy staar met naakte belustigheid na haar en alhoewel hy dit nie besef nie, beweeg sy tong in maat saam met hare soos sy lustiglik die roomys lek. Na wat vir hom soos ‘n ewigheid voel staan hy op en stap in haar rigting. Presies wat hy wou sê of doen waneer hy by haar uitkom had hy geen idée nie en dit voel vir hom hy float in die lug. Die warm sement onder sy voete dring nie deur tot by sy brein nie en later daardie aand in sy bed sou hy wonder waar hy sy voete so gebrand het.

“Ja?” Sê sy. “Kan ek jou help?” Die lat skrik hom boeglam. Hy’t nie besef hy staan al voor haar nie. Hy’t geen idée wat om te antwoord nie. Sy brein is dood, sy kop is leeg, sy hele lyf is geparaliseer. Asof in ‘n droom hoor hy homself sê:

“Skies, waste roomys eet jy? Dit lyk nice, ek wil ook een kry.” Die girl kyk hom aan asof hy van die maan afgeval het. Dan antwoord sy:

“Dis ‘n Jelly Top silly, het jy nog nooit een gehad nie?”

“Nee,” sê die lat, “maar dit lyk lekker, thanks.” Dan reik twee senapses in sy brein uit na mekaar en maak genadiglik kontak. “Jis, mag ek vra, wat is jou naam?”

“Hoekom?” vra sy met ‘n fyn glimlaggie om haar mond.

“Uhhh...ag sommer want...jy weet...Myne is Jake...” sluk die idioot hard aan ‘n droë ding in sy keel so groot soos ‘n Kruger Wildtuin miskruier bol.

“Daisy” Sê die girl met die sagste stemmetjie en sy steek die kleinste handjie uit na die lat se kant toe. Hy vat haar hand en raak verlore in haar oë. Haar smile mesmerize hom so dat dit alweer vir hom voel of hy float. Dan val haar jelly top op sy voet en hy skrik uit sy stupor uit wakker.

“Jou roomys het geval.” Sê hy.

“Jou skuld,” sê sy. “Nou skuld jy my ‘n ander een!” en sy lag. Haar lag klink vir hom soos ‘n Engele sang. “Kom Jake, ek stap saam met jou snoepie toe dan  kan jy vir ons Jelly Tops kry.”

Vyf minute en twee Jelly Tops later gesels die lat en die girl land en sand asof hulle mekaar jare lank al ken en die lat het ook teen daardie tyd skoon van sy maters vergeet wat nog steeds op hulle handoeke onder hulle boom lê en die twee aangaap met bekke wat oophang soos die van vars snoeke op die vlek tafels van Sandbaai se hawe.

Soos die dae en weke verby vlieg, probeer die lat alles in sy vermoeë om sy hande onder daai groen mini in te kry. Maar niks maak nie. Sy gee hom nie ‘n windhond se innings nie. Hy vry vir die vale vrekte, probeer elke triek in die boek, maar waneer sy dwalende hande by daai mini se soom kom dan stop haar eie kleine handjies hom plotseling en oor haar brose lippies kom ‘n ferm “Nee Jake…”. Dan voel die lat soos ‘n klein hondjie wat ‘n raps gekry het en hy kan sommer voel hoe sy ore hang soos ‘n worshond s’n op ‘n koue oggend. Maar Jake was ‘n moeilike leerling en hy was gedetermineerd dat eendag sal hy in sy doel slag. Sy gedetermineerdgeid was aangevuur deur sy makkers se gespottery oor sy onbeholpenheid met die girl. Hulle sê vir hom dat hy moet oppas, waneer hy eendag wel sy hand onder die mini inkry gaan hy agterkom dat sy dra die broek! Wag maar, dink hy dan, eendag sal hy sy hand by daai groen mini se soom verby kry; eendag sal hy daai lampie aanskakel en dan sal al sy makkers hulle woorde moet sluk!

Die somer vakansie was later verby. Bellville swembad het sy hekke slegs op ‘n Saterdag oopgemaak want deur die week het die kinders mos huiswerk en Sondae, wel Sondae was Sondagskool, oggend diens, familie tyd oor middagete, dan middag slapie en dan ‘n aand diens om die dag mee af te sluit. Niks tyd vir swem op ‘n Sondag nie. Maar die lat was kranig. Hy’t nie moed opgegee nie. Weeksdae het hy vroeg opgestaan en vir Daisy skool toe gery. Agtermiddae het hy vir Daisy netbal toe gery. Naweke het hy meer familie tyd by haar ouers spandeer as by sy eie. Die British racing Green Mini Cooper het amper op autopilot die paadjie tussen sy huis en hare gery. Eendag, toe dit al lyk of dit winter se kant toe wil staan en die groen mini al hoe minder uit die kas uitkom, besluit die lat dat sy tyd nou min word om by sy doelwit uit te kom. So midde ‘n warm vry sessie in haar ouers se driveway, trek hy haar so teen hom vas en wieg haar twee stywe boudjies so een in elke hand, druk haar lyfie styf teen hom vas, skraap al sy moed bymekaar en vra: “Prinses, dink jy nie dis tyd nie?”

Met haar arms so om sy lyf geknoop en haar enkeltjies styf teen mekaar, vra sy “Tyd vir wat, my skat?”

“Tyd dat ons…”

“Wat my skat? Wat wil jy sê?” Haar stemmetjie vol afwagting.

“Tyd dat ons ons verhouding na die volgende vlak toe neem nie?” Die girl gryp hom om sy nek, staan op die tippies van haar toontjies en soen die lat hartsogtelik.

“O Jake! Jy maak my so gelukkig!” Sing sy. “Kys! Jy wil hê ons moet kys! Ja, ja, ja!” Gil sy en hy kyk verward oor haar skouer of haar Ma nie dalk uit die huis uit gaan storm om te kom kyk wat hy met haar dogter aanvang nie.  Maar die Antie wys nie haar gesig nie en die lat weet dat hy nie sy boodskap mooi reg oorgedra het nie.

“Ja, dis wat ek wil hê,” sê hy amper met ‘n sug. In die stilligheid hoop hy dat as hulle gekys is sal dit dalk die storie verander. Dalk sal sy hom dan toelaat om verby daai groen mini se soom te kom. Hy soen haar en skuif sy hande van haar boudjies na haar heupe en skuif sy hand stadig in die rigting van die mini se soom. Maar die oomblik toe sy vingers daaraan raak, vat daai klein handjie hom aan sy pols en hy hoor daai ferm en familiêre “Nee Jake” in sy oor. Maar die keer las sy by: “Nie hier nie, my Ma kan enige oomblik uit die huis uit kom.”

Met die belofte laat die lat hom omkoop en daardie dag ry hy daai Mini Cooper in haar straat af huis toe met ‘n hart wat hewiglik bons in sy borskas. Voor hy by die huis kom stop hy by sy makkers en vertel van hy is nou ge-kys en hy vertel van die promise…en hulle lag vir hom en vertel hom om te oppas vir daai broek wat sy dra onder die groen mini dra.

Weke gaan verby en elke keer as die lat naby die mini se soom kom, dan het Daisy ‘n ander verskoning. “My Ma is net langsaan, silly.” Of, “Wat se geluid is daai?” Of “Kom ons gaan kry eers iets om te eet, ek is dood honger”. Die lat sit op Moedverloor se vlakte. Gaan hy dan ooit sy hand onder daai mini in kry? Hy beraam planne, hy maak stories op, hy bespreek sy dilemma met sy pelle, maar no way. Geen manier nie. Niks maak nie. Die mini se soom bly so uit soos bok ry op die dominee se stoep!

Maar toe eendag, toe gebeur daar iets. Die girl se huis raak aan die brand. Die lat is byderhand en hy storm by die huis in. Rook bolling by verskeie vensers uit en vlamme staan punt in die wind op die dak. Hy strompel deur die rook en hy red die girl. Dan storm hy weer by die huis in en red haar Ma. Dan storm hy weer by die huis in en red haar Ouma en dan storm hy vir ‘n laaste keer by die huis in en red die Ousie.

Die brandweer arriveer. Die lat is ‘n hero! “Jy’s my hero!” skree die girl so tussen snot en trane deur. En val die moeë lat om die nek. Die brandweer spuit die vuur dood. Haar Ma sit tussen die orgidieë soos een in sak en as; letterlik seker in die as. “Wel seun, jy’s ‘n hero vandag,” së die brandweer hoof. Jy kort ‘n medalje vir jou braafheid! Ek sal beslis jou naam deurgee deur die regte kanale.

“Jake, Jake!” huil die meisiekind terwyl sy haar trane aan sy vuil hemp se kraag afvee. “Jy het my lewe gered vandag! En my Ma s’n! En my Ouma s’n! En Fransiena s’n!” Die lat kyk na Fransiena. Hy’t geen idee hoe hy daardie logge liggaam uit die vuur gered het nie. Iewers ver onder in die dieptes van sy rook-benewelde brein is daar iets wat vir hom wil sê sy moes hom gedra het en nie andersom nie. Maar Fransiena smile breed deur die trane terwyl sy die lat prys vir sy braafgeid. “Jake,” koer die girl skielik in sy oor, “is daar enige iets wat ek vir jou kan doen om dankie te sê dat jy my lewe gered het?”

Die lat kyk die girl verward aan. Het hy reg gehoor? Enige Iets? Dan pluk hy homself bymekaar en sê,“ag jirre Daisy, jy weet mos, as daar een ding is wat ek die graagste in die hele lewe wil hê, dan is dit mos om net EEN keer my hand onder jou groen mini in te sit.” Die girl kyk af na haar blou jeans en besluit, nee, hulle sal nie doen nie. Dan vat sy die lat aan sy hand en trek hom agter haar aan die huis in.

“Kom saam met my,” sê sy. Soos ‘n hondjie loop hy agter haar aan. Sy lei hom by die trappe op. Hy strompel oor die derde een. Sy lei hom deur wat oorgebly het van die voordeur, hy volg haar gewillig. Sy ly hom in die gang af. Hulle skop stukke gebrande hout uit die pad uit en waai rook uit hulle oë uit. Dan lei sy hom in haar slaap kamer in. Dis pikswart. Alles is gebrand. Die bed is gebrand, die kas is gebrand, die gordyne is gebrand, die spieël is gebreek. Maar langs die gebrande bed staan die laaikas waar hy weet sy die groen mini bêre. Dis ook swart gebrand. Die girl trek ‘n laai oop. “Fransiena het dit net gister gewas,” lag sy skalks. Binne in die laai makeer die klere sweet blou boggorol. Net soos dit gister van die wasgoedlyn afgekom het! “Dit mag dalk bietjie na rook ruik,” sê sy.

“Ek gee nie om of dit na vrot bokkoms ruik nie!” Sê die lat in afwagting. Die girl krap rond in die laai. Dan frons sy. Sy trek nog ‘n laai oop en krap vinniger. Die lat se mond is oop en daar is kwyl in sy een mondhoek. Hy staar gretig oor haar skouer na die inhoud van die laai, hopende vir ‘n glimpsie groen. Die girl raak verward. Sy pluk nog ‘n laai oop en krap naarstigtelik rond. Niks. Dan verstar sy. Stadig draai sy om en kyk na die stoel wat in die hoek van die kamer staan. Die stoel is swart van die brand, nes al die ander goeters. Op die stoel lê ‘n hopie as. Stadig soos ‘n robot met pap batterye stap sy na die oorblyfsels van die stoel toe. Sy vee met haar hand deur die as. Heel onder op die stoel lê ‘n klein stukkie groen lap. Sy tel dit op asof in ‘n trans. “Ek het vergeet om dit weg te pak gisteraand…dis uitgebrand.” Sê sy. “My groen mini is uitgebrand!” Sê sy harder. Die lat staar na die stukkie groen lap in haar hand en sy gesig vertrek in ‘n warboel van gevoelens. Maande van bek-lek-en-sterswaai vir ‘n kansie onder daai damn mini spoel deur sy kop. Visioene van misgunning en spottery dryf soos ‘n kar met mal perde deur sy gedagtes.  Afgryse en wanhoop spoel oor sy hele wese!

“Neeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeee!!!!!!!!!!!!!!!!!!” Gil hy. “Neeeeeeeeeeeeeeeeeeee!!!!!!Double Damn Neeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeee!!!!!!!” Gil hy weer! Die girl skrik haar amper boeglam vir die erns en agressie in sy stem. Sy hoor ook die pyn en die verlies daarin en wonder wat die hel doen sy nou??!! Jake gryp sy kop vas asof hy bang is die ding gaan ontplof. Hy spin in die kamer rond soos ‘n afkop hoender en as en verbrande goeters spat die wêreld vol.

Die girl skree, “Jake! Relax Jake! Dis mos nie rêrig die groen mini wat jy wil hê nie, dis mos vir my!” Maar dan is dit asof die lat skielik die deur raaksien en hy maak ‘n beeline daarvoor. Hy hardloop al skreeuende in die gang af. Hy stamp goeters uit die pad uit, hy trap gate in die hout vloer! Die girl gil weer: “Jake! Kom terug Jake! Ek wil dit vir jou gee!!!” Maar die lat hoor niks. Hy storm by die deur uit. Hy storm by die trappe af, hy stamp die brandweerman uit die pad uit, hy storm by die girl se Ma en haar Ouma en by die verstarde Fransiena verby.

“Wat gaan nou met die laaitie aan?” Sê die girl se Ouma terwyl  sy hom agterna kyk met ‘n frons tussen haar oë. Die lat storm in die driveway af en by sy kar verby. Amper asof in een beweging retireer hy ‘n paar tree en spring agter die stuurwiel in. Dan jaag die groen mini in die straat af met skreeuende bande kompleet asof die rooi duiwel hom jaag. Agter hom in die oorblyfsels van die afgebrande huis se deur staan die verskrikte girl met die oorblyfsels van die groen mini in haar uitgestrekte hand. “Jaaaaake!!!” skree sy, maar hy hoor haar glad nie. Die groen mini verdwyn om die draai in Keerweder vir die laaste keer en die girl het die lat nooit weer gesien nie.

Blykbaar loop die 1971 British Racing Green Mini Cooper nog steeds daar in Bellville se strate rond. Soms sien mense hom in die parkeer terrein by die munisipale swembad. Maar die lat met die groen-mini-obsessie is nooit weer met ‘n oog gesien nie. Sommige mense sê hy’s in Stikland Hospitaal, ander sê weer hy is land uit. Nog ander reken hy’t homself iewers van ‘n krans afgegooi, miskien Tafelberg of Leeukop of een van daai plekke waar die girl hom so ge-terg het met die groen mini. Persoonlik dink ek Stikland of dalk selfs Valkenburg is ‘n goeie roep, maar na die val van Apartheid het baie dinge verander. Na soveel jare, wie sal ooit weet?

 

 

  

f t g