Copyright 2017 -

 

Die Eendstert

Van vêr af kon jy hom hoor aankom; soos ‘n reuse hommel by wat vleg deur ‘n landery vol sonneblomme kom die geraas oor die bult, dan om die draai and dan uiteindelik op in Malmesbury se hoofstraat, tot binne sig van die dorps-siele wat Suidwaarts tuur om te sien wat de joos hulle saligheid so onbevraagd-onbeskof binnedring.  ‘n Euwel uit die dieptes van die hel; so dink die dorpenaars by wie die yster masjien met sy speek wiele en handlebars wat lyk soos Dominee Servaas se wegle snor verby tjommel. “Ja! Ry maar net reguit aan en uit die dorp uit!” skree ‘n ou tannie hom agterna, maar haar skirl stem maak dit nie bo die motorfiets se geraas uit nie. Op die sypaadjies gryp mammas hulle kindertjies se handjies styf vas en Omies sit hulle arms beskermend rondom ou tannies, asof om hulle van die satan se verderf self te beskerm. By Salie se negosie winkel se voordeur, steek vier notseusies uit wat neskurig loer om te sien wat die konsternasie in hulle stil dorpie se hoofstraat veroorsaak. Maar voor die gevaarte sy onheil oor hulle kon saai, vee die groot arm van Selina, Salie se vrou hulle al vier met een veeg terug die winkeltjie in. Mense staar die gedierte agterna en Omies brom in hulle dik baarde: “Beelsebub op wiele...” en “Here behoed ons van Legio...” en die uitgespoke Tant Gesie wat haar laaste tand die vorige winter in ‘n half-gaar aartappel afgebreek het, skree “Dis een van daai moffies uit die Kaap uit, se ek julle!”

Die mense gaap die ding aan soos hy by hulle verby tjommel teen die pas van ‘n rustige gallop. Op die motorfiets sit ‘n ou wat lyk of die laaste kos wat hy in sy lyf ingekry het die oorskiet was van Tant Gesie se half-gaar aartappel die vorige winter. Sy broek en boots blink in die namiddag son soos die chrome aan die groot motorfiets. Dit is gitswart nes sy leer baadjie wat ongeerg voor oopgezip is sodat die wind dit laat bol staan rondom sy uitsteek ribbekas wat netjies afgeets was teen sy vuil wit t-hemp.

                “Hou net reeeeguit aan...” Sis Gert Henningse deur sy tande terwyl hy die gevaarte agterna staar. Maar tot die groot konsternasie van ieder en elk wat die skouspel aanskou, maak die motorfiets so ‘n Kaapse draai voor die Royal Hotel en parkeer reg voor die voordeur!“Gif-adder!”Sis Gert nog ‘n keer.

                Voor die hotel swaai die moee eendstert sy been van die Harley af. Met die lang skraal vingers van ‘n klavierspeler maak hy die helmet se band onder sy ken los en haal dit van sy kop af. Van iewers uit die leer baadjie se binnekant kom ‘n ewe swart kam te voorskyn en die eendstert trek dit met behendige hale deur sy olierige hare. Dan stap hy die trappe op en betree die dorp-manne se heiligdom ewe nonchalant.

                Binne die kroeg heers ‘n luierige luim. Dis leeg behalwe vir ou Van der Bijl wat skewering half aan die slaap oor ‘n stoel gedrapeer is naby ‘n venster waardeur die agtermiddag son patroontjies trek met die rook van sy pyp. Dis nog te vroeg rerig vir drinktyd; die manne wat gewoonlik die kroeg beset op ‘n Saterdag aand is nog besig om trekkers te bere of perde uit te span en kom gewoonlik eers so na aan sononders daar aan. Van der Byl is ‘n ander storie. ‘n Sad storie. Hy’t sy vrou verloor twee jaar gelede aan die griep en sy plaas verlede jaar aan die landbank. Sonder kind of kraai erens in die wereld had hy geen ander heenkome as die dorp waar hy gebore was nie en bly nou in ‘n kamertjie agter die kooperasie waar hy vir ‘n paar sjielings per week die vloere vee. Niemand kon dit oor hulle Christen hart kry om ou Van der Byl uit die dorp uit te skop net omdat hy bankrot was nie en menige het ‘n sug van verligting geslaak toe die Ko-op hulle oor hom ontferm het, tenspyte van sy rekening van etlike honderde ponde wat hulle moes afskryf die dag toe die hof die bankrotskap oor hom uitgespreek het. Te oud om weer te begin en niemand om hom in te neem nie, het hy maar op die plaas bly slap tot die nuwe eienaars ingetrek het en toe in die kroeg kom sit totdat die Ko-op hom kom haal het. Nou het hy ‘n drank probleem. ‘n Grote; maar die dorp se mense kyk maar daar verby. Arme man.

                Die enigste ander mens in die kroeg daardie tyd van ‘n Saterdag middag was Maggie.Maggie was die dogter van een van die mees gesiene mans op die dorp. Hendrik van Maasdorp was dieLandbank se bankbestuurder en jy het hom nooit in die publiek gesien sonder ‘n pak klere en ‘n das en ‘n swart leer briewetas in sy hand nie. Selfs in sy kantoor het die briewetas styf langs sy lessenaar gestaan asof hy geduldig wag vir die einde van die werksdag sodat hulle huis toe kan gaan. By die huis het Annie met ‘n stewige hand oor die huishouding regeer. Sy kon hekel, op die telefoon praat en die bediendes rond order alles op dieselfde tyd. Sy was ‘n meester van multitasking en ‘n pilaar van sedes en etiek in die gemeenskap. Maggie was wat die jong manne op die dorp sou noem ‘n visioen van skoonheid en ‘n Engel uit die hemel en die ou tannies sou haar noem ‘n Goddelike geskenk van maagdelike hubaarheid. En ‘hubaar’ was Maggie in tientalle opsigte...al vir die afgelope agt jaar. Want sien, Maggie was al vier-en-twintig en tenspyte van die jong boer seuns se talle probeerslae, het sy tot dusver nog net mooi vir hulle geglimlag en ieder en elkeen van hulle huweliks aanbiedinge van die hand gewys. Trou is nog nie vir haar nie, sy is nog te jonk, sê sy net altyd waneer haar Ma droewig kla en haar Pa frons oor nog ‘n wel-af boerseun se hand wat in die as geslaan is deur hulle koppige dogter.

                Maggie werk agter die kroeg toonbank. Nie offisieel nie, offisieel werk sy in die kombuis of in die kantoor, of sy dra kos aan waneer die kroeg vreeslik besig raak, of doen enige iets anders wat die logge Tannie Fransie haar gee om te doen. Tannie Fransie bestuur die hele hotel. Tannie Fransie se man, wat toevallig dieselfde naam as sy het maar meer as die helfte kleiner is as Tannie Fransie, bestuur die kroeg. “Die kroeg is ‘n man se werk, Fransie,” sê Tannie Fransie altyd. Die laaste 3 jaar of so al, gebruik Oom Fransie vir Maggie agter die kroeg toonbank net waneer hy die kans kry. Hy mag dalk baie kleiner wees as Tannie Fransie, maar hy is nie te min ‘n slim besigheids man. Hy het al lankal agter gekom dat waneer jy ‘n mooi jong meisie agter die toonbank het, dan koop die manne baie meer drank as wat hulle andersins sou koop. Alhoewel Tannie Fransie en Maggie se Ma en Pa nog nooit die saak sodanig bespreek het nie, stem hulle beslis so in die stilte saam dat dit ewenwel dalk nie so ‘n euwel ding is nie, want dan kry Maggie ook sommer mos meer te doene met die jong manne op die dorp en dalk, net dalk, kweek die kroeg ‘n gesonde romanse.

So dink die desperates in Maggie se lewe.

Maar Maggie dink nie so daaraan nie. Werk is werk en sy geniet die vriendelike gesêlskap in die kroeg. Sy geniet ook die vreemdelinge wat so dan en wan daar inkom. Die kroeg is gewoonlik die eerste stop plek op die dorp vir enige nuwe aankomelinge en dan is Maggie daar om hulle eerste te verwelkom met ‘n vriendelike glimlag en ‘n koue lafenis...soos die een met die swart stoofpyp denims, die swart leerbaadjie en die netjies-gekamde-goed-ge-oliede eendstert haarstyl wat op daardie oomblik op haar afgestap kom. Sy boots klop-klop-klop op die kroeg se harde hout vloer en sy sien aan die pinkie van sy linkerhand dra hy ‘n goue ring. Maggie glimlag breed. “Middag vreemdeling,” sê sy vriendelik. “Van waar gehasie?”.

“Middag Poppie,” sê die eendstert. “Swygend warm hier op julle dorp, ne?”

“Dit is,”sê Maggie, “en ek het net die ding daarvoor.” Sy steek haar hand na die eendstert toe uit. “En die naam is nie Poppie nie. Dis Maggie.” Die eendstert verloor so bietjie van die brawade om sy lippe, maar dan sien hy Maggie se bree glimlag huiwer nie vir ‘n oomblik nie. Hy vat haar hand en glimlag net so breed soos sy: “Bertus van Schalkwyk,” sê hy. “Noem my sommer Barry! En Maggie! Wat ‘n pragtige naam vir ‘n beeldskone juffrou!” Voeg hy by.

“Nou ja toe, Barry, wat sal dit wees? Lag Maggie. En so begin die ding.

‘n Uur en ‘n half en 3 biere later, vra Barry, “Maggie, dis al amper donker. Dink jy ek kan dalk ‘n kamer kry by die hotel?”

“Sure,” sê Maggie. Kom, Tant Fransie is nog nie hier nie, kom sommer saam met my dan boek ek jou gou in.” Sy lei hom deur die bar en uit by ‘n sydeur wat na die hotel se voorportaal lei. By die toonbank skryf sy sy details op in die groot briuin legger wat Tante Fransie vir die doeleindes gebruik en gee die eendstert ‘n sleutel. “Kamer 201.” Sê sy. “Dis lekker groot en het ‘n mooi uitsig oor die hoofstraat.” Sy beduie in die rigting van die trappe. “Die hotel is redelik leeg.” Fluister sy. “So ek gee jou die beste kamer. Ek stuur gou-gou vir Getruida op met skoon beddegoed en handoeke.” Sy kyk in die rigting van die deur waar die motorfiets staan. “Enige bagasie wat Klaas vir jou kan opvat kamer toe?” Vra sy.

“Ek travel light Po...Maggie. My bagasie is of aan my bas of in my saal sak. Ek gryp hom sommer self gou, geen rede om ou Klaas te pla daarmee nie,” sê hy. “En Maggie, thanks vir die kamer,” en daarmee is die eendstert by die deur uit om sy saalsak te kry.

“Sien jou later...?” Roep Maggie agterna en die eendstert waai sy hand in haar rigting vir ‘n ja voor hy by die deur uit verdwyn. Maggie smile by haarself terwyl sy terug stap kroeg toe. “Wat ‘n koddige knaap!” Dink sy by haarself. “En daai hare!”Maar iets in haar agterkop hoop die hitte van die aand dryf hom kroeg toe vir ‘n lafenissie.

Hoe later hoe kwater en teen agtuur dreun die kroeg soos ‘n goed ge-oliede John Deere stroper. Stefaans, Koos Doep en Klein-Jan se seunsdomineer die snoeker tafels. Die ouer omies hou hulle self besig met ‘n 101 kompetisie by die veerpyltjie borde en die Holloway tweeling het hulle hande vol met kos en versnaperinge aandra vir die honger gaste. Skielik vang Maggie die eendstert uit die hoek van haar oog waar hy die kroeg binne tree deur die ingang na die hotel se voorportaal. Sy skraal figuur huiwer momenteel in die deur en sy oë dartel deur die kroeg soos die van ‘n wildsbok wat ‘n oopte in die bos betree het en eers sy omgewing bespied voor hy sy kop laat sak om verder te wei. Maar dan stap hy kordaat op die kroeg toonbank af, sien vir Maggie en pyl op haar af soos ‘n hert op ‘n poel glinsterende water iewers op ‘n dorre vlakte.

“Naand Maggie,” sê hy. Hy lyk minder stowwerig as vantevore en het ‘n skoon wit hemp aan, die wye kraag flambojant oor die van die leerbaadjie geslaan. Uit die’ se binne sak kom ‘n pakkie Texan Plein te voorskyn. Maggie stoot ‘n asbak nader en haal ‘n pakkie hotel vuurhoutjies vir hom onder die toonbank uit. Sy glimlag breed. Koos Doep aan die eendstert se linkerkant skuif vieserig opsy en bekyk die mannetjie asof die kat hom sopas daar ingesleep het.

“Naand Meneer,” sê Maggie en kyk vlugtig na Doep se kant toe, skielik effens skrikkerig om die eendstert op sy naam te noem waar die ander haar kan hoor. Barry volg haar blik en knik sy kop so asof hy besef wat aangaan. “Wat kan ek vir jou kry?” Vra sy.

“’n Koue vir hierdie allemintige hitte van julle en asseblief Juffrou, is daar ‘n menu miskien om ietsie te bestel om te eet?” Vra hy.

“Daar’s nie rerig ‘n spyskaart nie, ek ken dit sommer uit my kop uit.” Sê Maggie terwyl sy vir Barry ‘n bier uit die kraan tap. “Vannaand is daar wors en mash potatoes, Steak en eier met...” Dan draai Koos Doep om na haar kant toe.

“Nog twee pramfiene en coke, Maggie!” Skree hy en skater van die lag vir ‘n grap wat Stefaans van Wyk hom vertel het. Die’ se vinger is nog in die lug gepunt na Barry se kant toe. Waneer hy sy lag in ‘n mate kan betoom, sê hy vir Barry, “As dit te warm is hier vir jou, dalk moet jy daai baadjie uittrek!” En die span rondom hom skater weer van die lag. “Poepol!” Skree een van hulle en almal bars weer in ‘n hernude lagbui uit. “Wat is jy anyway?” Vra Koos. “’n Moffie?” En almal skater weer soos hulle lag.

“S-Steak sal reg wees Maggie, dankie.” Kry die eendstert dit uit en ignoreer die groot boerklong wat bree-bors langs hom staan, tenminste twee keer so breed en so lank soos hy.

“Hey, maer drel, ek praat met jou!” Skree Koos hier neffens die eendstert se oor en steek hom met ‘n wysvinger in die ribbes. “Antwoord my!” Maggie sien toe hier kom moeilikheid en besluit dis tyd om vir Koos kort te knip.

“Koos, los die man uit, jou ongemanierde klot.” Sy stoot 2 glase brandewyn en coke in sy rigting, en trek effektiewelik ‘n lyn tussen Koos en Barry op die kroeg toonbank. Vir Barrysê sy, “ek stuur die steak vir jou na die eetkamer toe. Vat jou bier saam,” en sy beduie met haar kop in die rigting van die deur waar hy vandaan gekom het. “Dis reguit deur die voorportaal, jy sal dit sien.” Koos wou nog iets sê, maar sy moed het hom terstond begewe toe hy die blou vlamme in Maggie se oë sien dans.

“Maar die eetkamer is slegs vir hotel gaste...” probeer hy toe nog een keer, maar Maggie snou hom toe:

“Hy is ‘n gas in die hotel, jou Neandertal, en hou jou smoel en jou hande van betalende hotel gaste af of wil jy dalk he ek moet Tant Fransie roep om dit vir jou te kom sê?” Die noem van Tant Fransie se naam laat Koos in ‘n koue sweet uitslaan en die hare op die voorarms van verskeie van sy vriende regop staan.

“Nee, nee, dis okay Maggie, ons speel sommer maar net,” sê Koos terwyl hy omdraai met die twee brandewyne in sy hand. Hy en sy vriende rommel-rommel onder mekaar terwyl hulle oor loop na die snoeker tafels se kant toe en so nou en dan oor hulle skouers loer in die rigting vand ie eendstert wat gedwee sy pad maak na die eetkamer met sy beker koue bier in sy hand.

‘n Halfuur later kom vat een van die Holloway tweeling by Maggie oor en sê, “Toe, gaan eet, jy is seker al dood van die honger.”

“Dankie Frederika,” sê sy, “en ek het beslis ‘n breek nodig van al hierdie drank asems!”

“Miems,” sê die Holloway meisie, “Dis Miems, nie Frederika nie,” maar Maggie het al haar voorskoot af en onder die toonbank ingegooi en weggedraai en hoor nie meer die muis-gesig meisie nie. Sy glip by die sydeur agter die toonbank uit en sit op ‘n drafstappie af eetkamer toe. Dalk is die eendstert nog daar. Hy lyk ten minste na interresanter gesêlskap as enige van die dronk boerklonge met hulle enkel-spoor-gedagtes en klouerige growwe hande.

Barry sit toe nog daar, eenkant in ‘n hoekie by ‘n tafeltjie vir twee. Die res van die eetkamer is verlate en die staf het al meeste van die ligte afgedraai sodat die eetkamer in ‘n sagte warm gloei van geel en donker-oranje gebaai is. Sy wink vir Abraham in sy wit gewaad om haar aandete te bring en stap na Barry se tafel toe. “Sal jy omgee as ek hier sit?” vra sy. Barry wip soos hy skrik. Hy kyk oor sy skouer en spring op van die stoel af.

“Sure, sure, wat ‘n aangename verrassing,” sê hy. Sy gaan sit oorkant hom.

“Dis my aandete.” Sê sy, skielik dom.

“Dit my groot lekkerkry gee jy dit saam met my wil geniet!” Sê Barry en sy bars uit van die lag.

“Waar kom jy vandaan, Barry?” Vra sy.

“Kaap,” sê hy, “Rondebosch. Was jy al daar?”

“Nee, nog nooit. Is dit naby die see? Vra sy.

“’n Klipgooi van die strand af.” Sê Barry. “Was jy al by die see?”

“Nee, ook nog nooit nie.” Sug sy. “Vertel my van die see.”

“Die see, Meisiekind...” hy kyk in haar rigting of dit orraait is. Sy glimlag genee terug. “Die see is die mees onvoorspelbare ding wat jy nog ooit teegekom het.”Gaan hy aan. “Ek meen, een dag kan sy so stil-siel-salig en glad wees soos ‘n groot slapende baba en net die volgende dag kan sy al die issigrimmigheid en geite van ‘n dusiend grou katte onder ‘n grys wolkombers he. Dit is so groot, dit verdwyn oor die horison en as jy met ‘n boot sou kon ry tot by die horison, sou jy sien dat daar nog een is en nog een, en nog een.”

“Nee! Dit kan nie so groot wees nie! Jy maak dit sommer op!” Lag sy.

“Beslis nie, meisiekind, beslis nie. Ek het al op ‘n boot gery van die Kaap to in Port Nolloth. Ek het gesien hoe groot sy is en hoe beduiweld sy kan raak.”

“Hoekom noem jy die see ‘n sy?”

“Omdat sy so wispelturig is. Net ‘n vroumens kan so wees! Geen man sal dit ooit waag nie!” En die twee lag saam vir Barry se grappie.

“So waarheen is jy oppad, Barry met die ysterperd?” Vra Maggie.

“Jo’burg.” Sy roep my.

“Nog ‘n vrou?” Vra Maggie. Barry knipoog vir haar.

“’n Lang storie, maar ja, beslis nog ‘n vroumens.

“Was ook nog nooit daar gewees nie.” Sug Maggie. “Was nog wrintie nooit uit Malmesbury nie.” Barry rek sy oë terwyl hy die laaste steak sousies met ‘n repie brood van sy bord afvee.

“Klink my na iets wat ons iets aan sal moet werk Meisiekind. Sê hy saggies.

Te vinnig is Maggie se aandete uur om en sy moet terug gaan kroeg toe. “Jy sal more seker dan op jou pad wees?” Vra sy.

“Seker kort na sonnop, voor die dag te warm word. Dis nog ‘n lang pad na die Goudstad toe.

“Nou ja, dan sal ek jou groet, ek sal jou seker nie more oggend sien voor jy ry nie en ek is nie seker jy wil weer by die kroeg ‘n draai maak na net-nou nie. Jammer jong, die ouens kan maar simpel raak as die brandewyn en coke eers begin praat. In die daglig is hulle baie kalmer, ek belowe.”

“Dis okay, no harm done,” en hy smile so ‘n skewe ene.

“Sit jy rustig, Abraham kan vir jou nog ‘n bier bring. Hy kan dit op jou kamer rekening sit as jy wil.” Sê sy terwyl sy opstaan. “Dankie vir die gesêlsie, Barry, en voorspoed met jou reis.”

“Bye Maggie,” hy staan op en knik in haar rigting amper soos ‘n ridder wat voor die koningin buig. “Dit was lekker om jou te ontmoet. Ek sal verseker hier stop oppad terug Kaap toe.” En met die draai Maggie om en stap terug kroeg toe, onseker oor die snaakse pyn-gevoeletjie wat soos ‘n mespunt diep onder in haar siel vassteek.

Die res van die aand in die kroeg het vir Maggie verbygegaan soos in ‘n waas. Haar gedagtes was by die see en by die Goudstad en het aanhou dreig om met haar weg te hardloop. Op ‘n stadium kon sy sweer sy het die eendstert sien staan in die deur van die hotel se voorportaal en hy het stip na haar gestaar. Maar toe sy weer opkyk was die deur toe en hy was weg soos ‘n skim in die nag.

Daardie nag in haar drome het Maggie geseil op ‘n klein bootjie op ‘n woeste oseaan. Sy’t gery agter op die eendstert se ysterperd met die wind in haar hare en die son in haar oë. Sy’t gerol en gemol van die Kaap tot in die Transvaal en die volgende oggend was sy natgesweet en verstrengel in haar lakens. Haar kussing was op die grond en sy het groot-oog en met ‘n kloppende hart reggemaak vir Sondag middagete by die hotel.

Uitgetooi in haar Sondag wit voorskoot en ‘n gestyfde kappietjie op haar kop wat Tante Fransie op aandring as ‘Regulasie’, bedien Maggie die omies en tannies van Malmesbury wat kom aansit by die hotel vir middagete. Sommige van die respektabele vrouens in die gemeenskap reken dat dit is onheilig om op ‘n Sondag waneer ‘n vrou vir haar huisgesin moet kook in die hotel te loop eet. Ander reken weer kook is werk en daarom is dit beter om in die hotel te gaan eet. Sommige van die omies ruik sterk na au de cologne om die drankasems van die vorige aand te probeer verbloem. Sommige van die jong mans lyk nog bra hoenderkop en sou veel eerder nog in hulle kooiens gele het. En toe gaan die eetkamer deur oop en die eendstert staan in die oop deur en Maggie laat val amper die van Bruggens se hele Sondag maal op die grond. Hy vang haar oog en glimlag breed. Hy lyk spiekeries, dink sy. Die leerbaadjie is weg en om sy nek pryk selfs ‘n das. Die stoofpyp jeans en die boots is wel nog dieselfde. ‘Travel light,’ hoor sy hom sê. Sy glimlag skamerig terug en begin die van Bruggens bedien. Eers Oom Ben, Dan Tant Dorie en dan die 4 van Bruggen orrelpypies in order van ouderdom. Uit die hoek van haar oog hou sy die een Holloway meisie dop wat gedwee die eendstert by die deur ontmoet en hom na ‘n oop tafel toe begelei met ‘n wit servet en ‘n spyskaart in die hand. Sy neem kennis van waar hy gaan sit en sodra sy klaar is met die laaste van Bruggentjie se aartappels en groente, stap sy doodluiters oor in sy rigting.

“Middag! Hoe verbaas is ek om jou hier te sien! Ek dag jy is al lankal in die lang pad?” Sê sy bykans uitasem.

“Middag Maggie, ek is bly jy werk vandag. Ek het gehoop ek sal jou sien. Vanoggend toe ek opstaan en die voeltjies sing so mooi, toe besluit ek sommer, Barry, daar’s niks wat jou jaag nie. Bly nog ‘n dag! Toe boek ek maar weer in.”

“So ry jy more?” Vra sy.

“Verseker! Aandag, aandag, more is Maandag!” Sê Barry in ‘n koddige stem. “Maar sê my, Maggie, wat van jy gaan wys my bietjie die mooi plekke hier rondom jou dorp? Ons kan sommer met die motorfiets ry!” Stel Barry voor. Maggie skrik haar oor ‘n mik! Verbeel jou! Sy, die dogter van die Landbank se bank bestuurder! Agter op ‘n Motorfiets! Haar Pa kry die aapstuipe as hy net so ‘n voorstel op ‘n vyf myl afstand sou hoor! Maar Maggie was nou nog nooit juis een wat vir haar Pa geluister het nie. Sy was vier-en-twinting en mos haar eie baas!

So sy sê: “Klink wonderlik! Ek was nog nooit op ‘n motorfiets nie!” Fluister sy. “Maar my Pa sal die aapstuipe kry as hy uitvind! Hy sal my en jou tien-teen-een verseker vermoor!”

“O no! Dit sal nie werk nie. Miskien het jy iets om mee te ry?” Fluister hy terug. Maggie kyk rond en vra;

“Wat wil jy eet?” Hy kyk ook rond, gemaak-grootoog en sê, “Wat ook al vir jou die beste lyk. Surprise me!” en met die loop Maggie vinnig kombuis toe om die order in te sit. Agter op ‘n motorfiets! Mapstieks! Sy het ‘n ou bakkie, maar dit sal mos nog nooit soveel pret kan wees soos daai brombeer-brulpadda-ysterperd nie! En anyway, dink sy, hy gaan more oggend vroeg ry, dan sien sy hom nooit weer nie en sy sal nooit weer die kans kry om op daai ding te ry nie. Haar Pa kan dan maar raas en moan, gedane sake het mos geen keer nie. En so sonder dat sy dit besef het Maggie klaar haar mind opgemaak. Vandag ry sy op die eendstert se ysterperd, al val die berge om haar neer!

Later daardie middag, ontmoet sy vir Barry langs die stroompie buite die dorp. Toe sy daar aankom, wag hy alreeds daar vir haar. Eers verduidelik hy vir haar hoe die motorfiets werk, waar sy gaan sit, waar sy haar voete moet sit en hoe sy om sy lyf moet vashou. Dit klink alles vreeslik opwindend vir Maggie, veral die om die lyf vashouery. Sy bid maar so in die stillgiheid dat niemand haar sal herken onder die helmet wat hy vir haar gee en onder haar ken vasgespe nie. Toe sit die twee in die grondpad af, eers stadig sodat Maggie haar sit kan kry maar toe hulle die teerpad slaan, toe laat Barry die ysterperd les opse en die dreuning van sy kragtige enjin jaag trillings van rou plesier deur Maggie se bene en deur haar heupe tot bo by die kroontjie van haar kop. Haar lang hare wat onder die helmet uitsteek wapper agter haar soos ‘n storm vlag aan ‘n skip mas en die wind waai in haar gesig sodat sy haar oë styftoe moet knyp en haar kop wegsteek agter die beskerming van Barry se leer baadjie. Hulle het gery en gery, posbusse en naambordjies het saam met bome en stippellyne by haar verbygevlieg en naderhand het sy gevoel hulle moet nou seker al amper in Johannesburg wees! Uiteindelik het Barry die motorfiets laat afslack en hulle het omgedraai. Die brombees het so ‘n paar keer gesluk vir asem voor Barry hom weer oopketel die wind in laat sing het. Toe hy haar later weer langs die stroompie aflaai waar hy haar opgelaai het, kon sy skaars staan. Dit het vir haar kompleet gevoel of die duiwel nog daar tussen haar bene vibreer n hulle moes eers vir ‘n wyle langs die stroompie sit en asem skep vordat sy uiteindelik kon terug stap huis toe. Elke tree was vir haar ‘n belewenis en die hele gebeurtenis het haar laat tintel van plesier soos ‘n skooldogter in die parkeer area na die matriek dans.

Barry is toe ook nie die volgende dag vort nie en ook nie die volgende nie. Inteendeel, het hy ‘n kamer by Tant Fransie in die hotel op ‘n weeklikse basis begin huur. Hy en sy motorfiets het ‘n ‘feature’ geword op Malmesbury en Oom Wynand van die Shell garage het hom selfs van tyd tot tyd gevra om te kom help met groot werk. “Hy’t ‘n ware gawe vir enjins,” het oom Wynand vir die Dominee gesê toeBarry eendag weer onder die Dominee se Mercedes se enjin kap doenig was. “Maar broer, die man kom nooit kerk toe nie,” het Dominee gesê. “Sy talente kom verseker van die Satan,” het hy bygevoeg en vieserig weggestap. Maar Oom Wynand het ‘n goeie mechanic herken as hy een gesien het en dit was nie lank nie, toe bly Barry in ‘n kamer by die garage as deel van sy vergoeding vir werk by die garage.

Vir die volgende ses maande was Barry en sy motorfiets ‘n permanente gesig op die dorp. Mettertyd was dit algemene kennis dat hy en Maggie ‘n item was. Haar Ma het eers flou geword, haar Pa het geraas en belowe om die klein swerkater se ballas af te sny, Dominee se vrou het selfs ‘n susters vergadering geroep om die saak te bespreek. Inteendeel, niemand op die dorp was daarvoor tevinde nie; allermins die hubare jong mans van die kontrei wat nog gereken het hulle staan nog ‘n kans met Maggie. En toe kom die nuus. Die verskriklikke nuus, die ondenkbare nuus, die nuus wat die dorp in rep en roer gehad het soos geen nuus nog ooit tevore nie.

Dit was ‘n Sondag oggend na kerk en Maggie het besef dis nou of nooit. Sy kon nie die nuus langer vir haarself hou nie. Haar Pa was in sy studeerkamer en haar Ma in die kombuis. “Ma,” het sy saggies gesê. “Kan Ma asseblief na Pa se studeerkamer toe kom?” Haar Ma het opgekyk met daardie alwetende oë wat net ‘n Ma kan he.

“Ag toggie my kind, wat het jy nou aangevang?” Sê sy.

“Ag Ma, kom net asseblief na die studeerkamer toe. Ek moet met julle praat.” Pleit Maggie.  Sy stap die lang gang af na haar Pa se studeerkamer met haar Ma agterna. Toe die twee vrouens sy heiligdom betree, kyk haar Pa op.

“Wat gaan hier aan?” brom hy. “Sara?” sê-vra hy terwyl hy vraend na sy vrou kyk.

“Die kind wil iets met ons bespreek, Servaas.” Sê haar Ma.

“Hm. Kan dit wag? Ek is besig” brom hy weer.

“Nee dit kan nie wag nie Pa, dis ‘n ernstige saak wat ek met julle moet bespreek.” Sê Maggie. Sy syg in ‘n groot bruin leer stoel voor haar Pa se lessenaar neer en sê, “Pa, Ma, ek is...swanger.”

Wat hierna gebeur het, is nie heeltemal duidelik nie. Maggie praat nie graag daaroor nie of sy kan nie meer mooi onthou wat die vloei van gebeure was na haar onthulling nie.Klaarblyklik het haar Ma terstond haar asem verloor en op die vloer neergesyg in ‘n floute van die saliges. Maggie het die volgende dag die dorp verlaat in ‘n huur motor, sonder dat sy die kans gegun is om vir Barry totsiens te sê. Wat gebeur het tussen haar Ma se floute en die huurmotor is ‘n geheim wat Maggie nooit met enigeiemand anders gedeel het nie. Miems Holloway het net gesê dat Maggie het ‘n opgeswelde blou oog gehad en ‘n sny oor haar onderlip. Sy het dit self gesien toe die huurmotor by die garage gestop het vir petrol en Miems daar verby gestap het oppad hotel toe vir haar oggend skof.

Die huurmotor het vir Maggie Suid gevat, Kaap toe. Die stad van Barry se herkoms. In die Kaap het die huurmotor haar afgelaai by die Magdelena Tehuis vir Ongehude Moeders. Daar is sy by die hek ontvang deur vier Susters in swart gewaade en daar het sy gebly vir 6 maande tot na die baba se geboorte. Haar dae het bestaan uit bybel lees, bid, kerk dienste, nog meer bid en meer bybel lees. Sy was vriendelik met al die ander meisies daar. Meeste van hulle het tragiese stories gehad, stories wat vir Maggie geleer het hoe bevoorreg haar eie lewe was maar ook hoe ingeslote sy al die jare op Malmesbury was. Van Barry het sy niks gehoor nie. Aan die begin het sy probeer om boodskappe uit te kry na hom toe saam met meisies wat huistoe gegaan het, maar het nooit iets terug gehoor nie. Haar Ma het haar getrou een keer ‘n week gebel maar haar Pa het haar nie toegelaat om te gaan kuier nie. Sy het vir Maggie vertel dat Barry die pad gevat het Johannesburg toe, toe hy die nuus gekry het dat Maggie swanger was.

Twee maande voor Maggie se baba sou kom, word haar Ma siek. Sy beland in die Karel Bremmer hospitaal in die Kaap. Tuberkulose, was die dokters se diagnose. Haar Pa kom by haar Ma kuier, maar by Maggie sit hy nie sy voet nie. Maggie kan ook nie op haar eie by die hospitaal uitkom om haar Ma te sien nie en haar Pa wil haar in elk geval nie daar he nie, want sy is ‘n klad op die familie naam. So word Maggie se Ma beter en gaan terug huis toe sonder dat Maggie haar sien. Die Kaap is vir Maggie nie ‘n mooi plek nie. Dis vaal en mistroostig soos haar hart oor Barry; en snags droom sy van ‘n brullende ysterperd wat volspoed van haar af wegjaag terwyl haar Pa eenkant staan en hardop lag soos ‘n besetene van Beelsebub. 

Maggie het die koms van haar baba met blydskap ingewag. Sy het haarself voorgeneem dat sy die beste Ma op aarde gaan wees vir haar seun en dat sy hom al die vryheid sal gee wat sy nooit gehad het nie. Sy het hom belowe dat sy hom sou leer van sy Pa, van hoe ‘n wonderlike sagte man hy was, hoe hoflik en goedgemanierd en dat sy sou sorg dat hy eendag nes sy Pa is. Sy het hom selfs ‘n naam gegee. Klein Barry; nes sy Pa.

Maar haar Pa het daarop aangedring dat sy nie die baba moes sien na die geboorte nie en dat dit dadelik vir aanneming opgegee moes word. Die’ nuus, toe Maggie vra waar is haar baba na die geboorte, het Maggie finaal gebreek. Dit was ‘n stom en bleek mensie wat alleen agter in die huur motor gesit het toe die in Malmesbury se hoofstraat opry na die huis van die Landbank se bank bestuurder.

‘n Week het verby gegaan voor enigeiemand vir Maggie gesien het nadat sy teruggekeer het van die Magdelena Tehuis. Eers het Tant Fransie vir haar loop kuier en toe haar Ma se beste vriendin, Tant Gesie van Jaarsveld. Toe het almal gekom; een vir een. Die Holloway sussies was ook daar en selfs ou Gertruida van die hotel was daar. Almal het kom kyk hoe dit gaan en hulle medelye kom uitspreek met die vreeslike ding wat sy oorgekom het en dan oor daai swerkater wat haar net so in die steek gelaat het in haar uur van nood. “Good Riddance!” het Tant Malie geskree.

Haar Ma was maar oeserig. Die Tuberkulose was al vêr gevorder toe die dokters dit opgetel het en die prognose was maar sleg. Ou Dokter Stenekamp was al om die ander week daar en in die laaste dae, al om die ander dag. Op haar einde het haar asem so geroggel dat Maggie eintlik gebid het dat die Here haar maar liewers moes kom wegvat om die leiding te stop. Deur dit alles het haar Pa, waneer hy by die huis was, op ‘n regop stoeltjie langs haar bed gesit vir ‘n halfuur op ‘n keer; rug styf, skouers vierkantig en sy starre blik op die venter gerig, waarvan die gordyne permanent toegetrek was. Die res van die tyd het hy agter ‘n toe deur in sy studeerkamer spandeer. En toe kom daar nog nuus. Skokkende nuus, aaklige nuus en die keer was die nuus net vir Maggie se ore.

Dit was die Sondag middag voor danksegging. Maggie se Pa het soos gewoonlik na sy halfuur sessie van staar na die toegetrekte gordyne homself sonder ‘n woord na sy studeerkamer verwyder. Maggie se Ma het oop oë gelê en staar, ook na die gordyne, maar nie ‘n ooglid geknip toe haar man opstaan om te loop nie. Maggie was besig om skoon water in die waskom te gooi. Sy’t die ou man vies agterna gekyk. Dink hy dalk dat hierdie soort optrede hom in die hemel sal bring? Voel hy dalk dit is sy Christelike plig om by sy vrou se sterwens bed te sit maar hy hoef nie met haar te praat nie? Selfs nie eens te erken dat sy in die kamer is nie? Sy bring die kommetjie na haar Ma se bed en begin haar gesig afspons. Die eens ronde gesig met die rosige wange het verander in ‘n skedel oorgetrek met was-wit vel. Haar lippe was gebars en so droog soos perkament, maak nie saak hoe baie vaseline Maggie daaraan smeer nie. Toe lig haar Ma haar hand en stoot die lappie weg. “Te koud?” Vra Maggie. Die ou vrou skud haar kop liggies.

“Nee my kind. Die lappie is fyn. Maar ek moet met jou gesêls. Maak bietjie toe daai deur.” Sê haar Ma saggies en stadig. Dit klink kompleet of sy haar laaste asem enige oomblik gaan uitblaas.  Maggie maak die deur toe, alhoewel die kanse dat haar Pa daar sou verby loop maar skraal was. As hy eers in sy studeerkamer was, het jy hom nie daar uitgekry met ‘n donderbus nie. Sy kom sit weer langs haar Ma op die bed. Haar Ma sit haar hand op Maggie s’n. Dit voel koud en so glad soos kerswas. “Maggie, daar’s iets wat ek jou moet vertel...iets wat ek nie mee kan doodgaan nie en glo my, ek sien deesdae elke dag die engel by die deur staan en wink vir my.” Sy hoes twee keer en Maggie vee vinnig die bloed spatseltjies op haar droeë lippe met die nat lappie af. Sy vou die lappie nog ‘n keer om die verdoemenis wat haar Ma kom steel te verbloem. Toe haar Ma se asemhaling bedaar het, gaan sy saggies voort. “Maggie, daar is weemoed in my hart oor alles wat met jou gebeur het, my kind. Daar is trane in my hart vir daardie klein bondeljie klienkind wat ek so na gesmag het en nou nooit sal kan vashou nie.” ‘n Tussenpose word opgeneem deur nog ‘n verswelgende hoesbui. Toe sy weer bedaar, sê sy: “Ek haat jou Pa vir wat hy aan jou gedoen het en ek haat hom omdat hy my ook van jou kind ontneem het. Met hierdie haat sal ek doodgaan en ek sal seker in die Hel brand daarvoor. Maar ek kan die Fokker nie vergewe nie, al probeer ek ook hoe hard.” Sê haar Ma skor. Maggie skrik, nie vir die haat nie, want sy weet hoe dit voel. Sy skrik vir die F-woord wat oor haar Ma se lippe rol soos oor die van ‘n gesoute Matroos. Sy’t nie eens geweet haar Ma ken daardie woord nie! “Maggie!” Dring haar Ma se stem saggies haar denke binne. “Maggie, daai man, daai een van jou...Bertus...”Sy hoes weer ongenadiglik.” Dan loop die trane oor haar wange. “Maggie, hy het jou nie verlaat nie. Hy het jou nie in die steek gelaat nie...”

“Wat bedoel Ma?” Maggie sit skielik regop.

“Maggie, hulle het...hulle het Bertus vermoor!” Die hoes-duiwel pak haar weer en skud haar dat sy so ruk. Bloed uit haar verinneweerde longe spat strepe oor die lappie wat Maggie voor haar mond hou. Maggie verstar. Haar hele wese word yskoud. Haar rug voel soos onbuigbaar soos ‘n Bedford trok se disselboom en die vel aan weerskante van haar nek is so styf gespan soos kitaar snare.

“Wat bedoel Ma hulle het hom vermoor?” Gil sy amper maar slaag op die laaste oomblik daarin om haar stem in toom te hou en dit uit haar keel te forseer dat dit klink soos ‘n ploegskaar wat oor ‘n klipplaat skuur.

“Ek weet nie alles nie Maggie, ek was nie daar nie. Maar jou Pa het my gesê daai nag nadat jy weg is Kaap toe, toe het Klein-Jan se seuns en ‘n hele klomp ander hom gaan haal daar waar hy gebly het in die kamertjie agter die garage en hulle het hom ‘n pakslae loop gee daar agter die hotel in die veld. Kwansuis vir wat hy aan jou gedoen het...” Maggie sit en luister met wat voel soos ‘n koue ys-swaard wat haar binnekant opkerf, stukkie vir stukkie. Sy luister na elke woord wat haar Ma sê en elkeen van hulle het haar binneste verder opgekerf totdat die hele storie van Barry se wreedaardige dood op haar hart en siel uitgegrafeer was. Daar agter die hotel daardie nag het hulle hom geslaan, geskop, verneder en gemartel en uiteindelik het hulle hom soos ‘n hond met ‘n tou aan die ou kweper boom se hoogste tak opgehang. Toe het hulle hom daar begrawe en sy fiets en besittings in ‘n stoor in Oom Wynand se garage weggesteek. Koos Doep sou dit nog plaas toe gevat het eendag want hy wou die ding nog ry en hy’t belowe om dit daarna te begrawe iewers in ‘n donga of iets wanner hy klaar was daarmee.

Toe haar Ma uiteindelik haar storie klaar vertel het, besef Maggie dat sy nog die hele tyd haar asem opgehou het. Sy trek vars lug in haar longe in en dan begin sy huil.  Eers saggies maar dan al hoe harder en harder totdat sy haarself nie meer kan beteuel nie. Sy het haar gesig in haar Ma se beddegoed begrawe om die vreeslike klanke van haar pyn en woede te verberg. Toe sy later stil geword het, was die boonste laken in ‘n bondeltjie in haar krampagtige hande verstrengel. “Was hy daar, Ma?” vra sy met ‘n skor stem. Die ou vrou kyk na haar dogter en skud net haar kom swak. Toe het sy haar oë toe gemaak vir die laaste keer. Sy het nie weer wakker geword nadat sy haar grusame geheim met Maggie gedeel het nie en is daardie volgende Dinsdag stil-stil weg hemel toe.

Oor die dae van haar Ma se begrafnis het Maggie se siel verhard na getemperde staal. Sy het slegs die nodigste woorde vir haar Pa gehad en met die huishulp was sy kortaf en saaklik dog siviel. Die ander booswigte wie haar Ma in haar sielebaring genoem het, het sy op ‘n afstand gehou en vermy so ver sy kon.

Na haar Ma se teraarde bestelling het die dorpenaars by Maggie-hulle huis bymekaar gekom vir koek en tee en om hulle medelye vir ‘n laaste keer aan Maggie en haar Pa te betuig. Die’ het haar Pa gevat soos dit ‘n treurende wewenaar betaam en nie een keer het die kille houding wat hy teenoor sy vrou betoon het in die tyd van haar grootste nood na vore gekom nie. Sy oë was mistig en wasig, amper melkerig en daarmee het hy die ware kleure van sy siel versteek. Toe Tant Fransie haar medelye met Maggie kom betoon, val Maggie sommer met die deur in die huis:

“Tant Fransie, ek het my ou werk nodig. Kan ek terugkom hotel toe?” Vra sy. Tant Fransie is toe iets wat sy nie baie in haar lewe was nie – van stryk af – maar ook net vir ‘n klein wyle. Sy het haar arms uitgesteek en vir Maggie met die voue van haar mildelike bo-arms in haar boesems in vasgetrek.

“Maar natuurlik my kind, my deur staan altyd oop vir jou, jy weet dit.” Hyg Tant Fransie met warm asem in Maggie se hare. “Maar so gou....?”

“Hoe gouer hoe beter, Tante. Ek kan nie hier by die huis rondsit nou dat Moeder weg is nie. Dit sal my mal maak.” Sê Maggie.

“Maar jou Pa...”

“Die Hulp sal vir hom goed sorg Tannie. Fransiena het die huishouding goed onder beheer en ek sal mos darem nie die hele tyd weg wees nie.”

“Wee jy,” sê Tant Fransie, “jou kamer in die hotel is nog net soos jy dit gelos het...ek het nog nooit weer iemand anders daar ingesit nie. Jy moet sommer kom kyk of al jou goedjies nog daar is.” Maggie is verbaas dat Tant Fransie nie die kamer vir een van die ander meisies gegee het nie. Sy het die kamer gebruik soms waneer sy baie laat gewerk het op ‘n Saterdag aand en weer daar moes wees Sondae oggende vir die ontbyt sessie. Dan het sy sommer in die hotel oorgeslap in plaas van om huis toe te gaan net vir ‘n paar ure. Ander tye het sy ‘n verskoning uitgedink om daar oor te bly net om ‘n bietjie weg te kom van haar Pa af en toe sy die ding met Barry aangehad het, wel, nou ja dit daar gelaat, dink sy, die herrineringe maak te seer.

“Tante, kan ek Maandag sommer begin?” Vra sy hoopvol. Tante Fransie bly vir ‘n wyle stil so asof sy dink.

“Wee jy my kind,” sê sy, “ek het my hanne so vol in die kantoor, ek het nie eens nodig om roosters uit te ruil nie. Daai Miemsie-kind is tog te dom met somme. Ek skuif haar terug eetkamer toe en dan begin jy sommer Maandag oggend agt uur.” Sê sy ferm asof sy dit alles sommer nou-net self uitgedink het.

“Dankie Tannie,” sê Maggie, “baie dankie” en sy hou ou Tannie Fransie styf vas terwyl sy ‘n laaste keer huil vir haar Ma.

Daai Maandag het Maggie begin by die hotel. Tant Fransie het haar soveel as moontlik in die kantoor gehou of andersins agter in die kombuis of op die uiterste in die eetkamer; maar sy het alle pogings van Oom Fransie teengestaan om Maggie in die kroeg te gebruik. “Die arme kind het nie nodig om onder daai gespuis se oë te werk nie. Sy het genoeg deurgemaak; GENOEG, sê ek jou!” het sy hom toegesnou as dit net gelyk het of hy in daardie rigting wou neig. Maar dit was reg so met Maggie. Sy was nog nie reg om Barry se moordenaars in die oë te kyk nie. Sy was nog besig om haar planne agtermekaar te kry en dan, dan waneer sy al haar planne reg agtermekaar het, dan sou sy hulle in die oë kyk, in die oë kyk totdat die laaste een van hulle in die gapende mond van die hel in verdwyn.

Sy was reg met al haar planne op ‘n Saterdag aand, presies een maand na haar Ma se afsterwe. Maggie het nie gewerk daardie aand nie maar sy het ook nie huistoe gegaan na haar skof geëindig het die middag nie. Sy het rustig in haar kamer verkeer in die hotel. Haar Pa sou haar nie mis nie, in die laaste maand het die twee van hulle minder as ‘n handvol woorde gewissel. Selfs waneer sy by die huis was, was hy agter die toe deur van sy studeerkamer weggesluit besig met wie-weet-wat...

Daardie Saterdag aand toe Maggie by haar kamer deur uitloop, het sy terdeë besef dat sy sit ‘n ketting gebeure aan die gang wat selfs sy nie sal kan stop nie en die gedagte het haar hart laat bons soos die van ‘n bronstige bul op ‘n navorsings plaas.

In die Royal Hotel se kroeg kuier die manne soos oudergewoonte op ‘n Saterdag aand. Hoe later hoe kwater en teen agtuur dreun die kroeg soos ‘n goed ge-oliede John Deere stroper. Ampie, Stefaans, Koos Doep en Klein-Jan se seuns domineer die snoeker tafels. Die ouer omies hou hulle self besig met ‘n 101 kompetisie by die veerpyltjie borde en die Holloway tweeling het hulle hande vol met kos en versnaperinge aandra vir die honger gaste. Die kroeg-gangers raak al hoe dronker, die musiek raak al hoe harder en die Holloway sussies het al hulle dae om hulle boude uit die boere se hande uit te hou. Dit alles slaan Maggie gade uit die donker skaduwees waar sy staan, skuins-agter die verhogie waar die rondreisende boere orkes wat een maal ‘n maand daar verby kom, optree. Sy staar vir ‘n rukkie na haar Pa wat saam met ‘n paar van sy ewe snobistiese vriende by ‘n tafeltjie sit nie te ver van haar nie. Inteendeel, so naby dat as sy wou, sou sy hom kon raakspoeg. Teen elfuur is albei die Holloway sussies en Oom Fransie agter die kroegtoonbank om te kan voorbly met die skinkery. Maggie besef die tyd het aangebreek en sy gly geruiseloos al met die skaduwees langs en sluit die deure van die kroeg, een vir een.

‘n Paar minute later bars die hel los. Met ‘n oordonderende lawaai bras die deur tussen die hotel voorportaal en die kroeg oop. Koppe draai in die rigting van die geraas en dan breek eers verwondering en ‘n paar oomblikke later paniek uit. In die deur staan die eendstert op sy motorfiets, kompleet met swart leerbaadjie, opgeslaande wit kraag, swart stoofpyp jeans, swart boots en helmet op die kop. Hy rev daai Harley se enjin totdat ‘n oorverdowende kakofoniese lawaai alles verswelg en die hotel bewe tot in sy fondasies. Dan skiet die motorfiets vorentoe soos ‘n pyl uit ‘n boog en saai verwoesting onder tafels, stoele en lywe gelyk. Die eendstert maak twee wye draaie deur die kroeg voordat hy die Harley tot bo-op die verhogie wheelie. Van hier af bekyk hy die verwoesting voor hom. Manne gil soos vrouens en sommige pie hulself papsop nat. Ander lê en kreun van die pyn met gebreekte bene en arms. Die hele kroeg is in rep en roer. Agter op die motorfiets se saal waar Maggie altyd gesit het, sit nou ‘n drom petrol. Die eendstert kap ‘n gat in die drom met ‘n skroewedraaier en die wat naaste aan die verhogie is snak na hul asem. Hulle ruik die petrol en hulle sien, hier kom groot moeilikheid. Dan skiet die eendstert ‘n brandende vuurhoutjie oor sy skouer terwyl die motorfiets van die verhoog af spring asof deur die duiwel besete. Agter hom slaan die verhogie aan die brand en ‘n streep brandende brandstof slinger agter die motorfiets aan soos die voorslag van die duiwel se eie sweep. Net waar die voorslag grondvat slaan die vlamme op en kort voor lank staan die vlamme so hoog soos die dak. Die verhoog brand, die gordyne brand, die hout panele aan die mure brand. Besete dronk mans skree soos maer varke en probeer die deure uit hul kosyne uit hardloop; maar die deure bly geslote en die sleutels is in Maggie se sak. Groot Koos Doep lê uitgestrek op sy maag en probeer leopard crawl na vryheid, maar die Harley se voorwiel tref hom mooi netjies in sy kloof en die eendstert gebruik sy logge lyf as ‘n ramp. Die groot fiets vlieg deur die lug soos ‘n grasieuse swaan en kom met albei wiele op die kroeg se toonbank te lande. Agter die toonbank kruip Oom Fransie weg met ‘n Holloway meisietjie onder elke arm. Die eendstert kyk vir Oom Fransie in die oë en wys met ‘n lang dun vinger na die kroeg se agterdeur asof hy vir die Oom wil sê, my fight is nie met jou nie. Oom Fransie snap wat hy bedoel en vlieg om en hardloop vir die deur. Hy hardloop so vinnig dat die twee Holloway’tjies soos Unie vierings vlaggies een aan elke hand hang.

Dan draai die eendstert daardie groot motorfiets om en aanskou sy handewerk. Voor hom lyk die kroeg vloer soos die put van die hel. Stukkende, brandende stoele, stafels en mense lê die wêreld vol. Een van Klein-Jan se seuns trek homself teen die kroeg toonbank op maar die eendstert stuur hom terug vanwaar hy gekom het met ‘n swart boot onder die ken. Hy val agteroor en deurboor homself met ‘n omgekeerde tafel se poot en die eendstert kyk terwyl hy ruk en skud soos hy sy laaste asem uitblaas saam met skuimerige rooi bloed wat borrel oor sy ken. Toe die vlamme hom vat rev die eendstert die Harley se enjin vir ‘n laaste keer, en skiet bo van die kroeg toonbank af. Die kragtige brul-bees vat grond halfpad na die voordeur toe en sekondes later bars hy daar deur, by die trappe af en verdwyn die donker nag in.

Teen die tyd dat Moorreesburg se brandweer daar aangekom het, het die hotel al amper tot op die grond afgebrand. Die enkele oorlewendes wat die eendstert se wraak aanskou het, het deurmekaar gebrabbel van ‘n dooie man op ‘n motorfiets en die polisie het dit afgeskryf as dronkmans hallusinasies. Hulle het ook nie die saak verder ondersoek nie want almal het geweet wat met die eendstert gebeur het. Vir Maggie het niemand verdink nie want sy was nie eers by die hotel daardie aand nie en verder, sy het haar Pa in die brand verloor. Die tragiese insident is later afgeskryf as ‘n kortsluiting in ou bedrading en die versekering het betaal vir die oprigting van ‘n hele nuwe hotel.

So vandag, as jy dalk Malmesbury sou deur ry oppad Johannesburg toe, en jy sou dalk ‘n lafenissie nuttig in die Royal Hotel se tee-tuin, en jy sou dalk by die agter hekkie uitstap, dan sal jy daar ‘n alleen-grafsteen sien. Hy lê al so effe skuins van ouderdom, maar die inskripsie op die klip is nog duidelik sigbaar:

My Liefling Barry,

Jou dood is gewreek, maar my hart bly gebreek

Wag vir my, ek kom

1957

 

f t g