Copyright 2017 -

 

Die Spook Van Uniondale

Die boerbok loop-loop drie tree suid, dan twee tree noord. Hy peusel aan ‘n dorre takkie en skud sy kop in ‘n aantyging teen ‘n wind verwaaide vlieg. Hy kyk op, want op die horizon verskyn ‘n gerasie met ‘n blink spikkel voor aan sy lyf. Maar dit skeel hom min, hierdie bok, want dis sy veld die’. Dis sy stuk pad die’ en dis sy dorre bossies die’. Hy’s ‘n hardegat bok,’n windgat bok en as hy hom min wil skeel aan ‘n gerasie met ‘n blink spikkel voor aan sy lyf, dan is dit mos sy saak en sy saak alleen. Hy knabbel maar aan nog ‘n stowwerige blaar en gee drie tree wes. Daar is ook net nog meer van dieselfde en hy gee weer drie tree noord. Hy gooi sy kop oor sy skouer en bler vir wie ook al wil luister – al weet hy voor sy siel wat hy nie het nie dat daar is nie ‘n wyfie bok vir myle in die rondte nie. Die gerasie groei en so ook die spikkel. Hy kom aangekoteljons op ‘n golwende bed hitte oor die teerpad aan. Een, twee, drie dan verdwyn die silwer shimmer in ‘n dippie, een, twee, drie, dan klim hy weer anderkant uit. Die bok beloer die luierende hittegolf ryer met een oog. Dit kon net sowel ‘n houtoog gewees het, so min soos hy hom skeel. Hy gee drie tree suid en twee tree oos, en die bossie voor hom lyk so effe vaagweg bekend. Hy kyk weer oor sy skouer. Ja-nee, hy was al hier gewees. Sy agterbene knak effens en hy piepie ‘n straal soos net ‘n bok kan. Dit spat teen sy bene maar daaroor skeel hy hom ook maar min. In hierdie son skroei daai paar druppels binne sekondes weg.

Vies, gee hy twee tree wes en tuur af in die teerpad. Die silwer shimmer het intussen wiele gekry. Hulle buckle wankel-wankel op die hittegolf. Die bok knibbel-knabbel aan ‘n blaartjie hier en ‘n blaartjie daar en spits sy ore. Verdomp, die gerasie kry nou stem. Sy oe knip-knip teen die bloedige son en trek op skrefies in die rigting van die geraas met sy wit-blink gevaarte vooraan geplak. Dan sonder seremonie of waarskuwing maak die geraas inbraak op die bok se privaatheid en saag die kar by hom verby. Die bok spring verontwaardig in ‘n suidelike rigting en spaander bler-bler die veld in. Hy stop nie voor die pad uit sy sig is nie en hy die geraas nie meer kan hoor nie. Dan kyk hy rond wie’t hom gesien en maak of hy notisie vat van die stowwerige bossies rondom hom wat hulle bes doen om te oorleef in die snikheet-warm klipperige sand. Agter hom, vergete, le die pad. Lank en swart. Swart en reguit soos ‘n verlore stopnaald in ‘n koue vuur met ‘n wit stippellyn in die middel af. Alleen en verlate met nie ‘n siel of ‘n bok wat oor hom worry nie. So le hy, tot die son moeg raak vir die dag en besluit dis tyd om op te hou om die aarde te verdor en die bossies en die bok te verskroei. Soos die son sak agter die verlate randjies, en die bok en die meerkatte ‘n sug slaak van verligting, so kom die donker aangejaag oor die vlakte uit die ooste. Die donker slurp dit op wat die dag vir hom oorgelos het en lag in sy mou want die nag is sy speeltyd en hy’t heeldag gehad om plannetjies te beraam vir allerande dinge om homself mee te amuseer totdat die son weer kom. Maar nog steeds le die pad.

Sy sit die foon neer op die mikkie en begin saggies te huil. Dan lig sy dit weer op en slaan, slaan, slaan dit neer, weer en weer. “Die donner, die donner!” Huil sy. “Sy’s al drie dae dood en nou laat weet die vark my eers!”

“Wat nou, girl, wie’s dood? En wie’t nou weer opgeneuk?” Hy vat ‘n lang trek aan die zol wat hy kasiaal tussen sy voorvinger en duim vasknyp terwyl hy sy horingraam bril wat hy nou-net teen sy hemp skoongevryf het deur een oog bestudeer.

“My Ma…My Ma…” Snik sy saggies. En dan harder, “Sy’s al drie dae gelede dood en nou bel daai bliksem van ‘n man van haar my eers! Ek’t nooit van die donner gehou nie! Altyd geweet daar skort iets met hom!”

“Jou Ma? Shit, dis bad…moet jy gaan? Dis blerrie ver…”

“Ja jou idioot, natuurlik moet ek gaan! Sal jy nie na jou Ma se begrafnis gaan as sy doodgaan nie?” Skree sy.

“Ek weet nie eers waar my ou lady is nie. In fact, ek weet nie eens wie sy is nie…” Hy suig weer aan die zol en pass dit haar kant toe. “Trek?” Sy ruk haar kop om en gluur hom aan, reg om die zol uit sy hand uit te klap. En dan doen sy dit.

“Na die maan met jou zol, Stefaans! My ma is dood! En jy gaan my huis toe vat. Jy’t my daar weg, en jy gaan my terugvat!” Sy vryf ‘n streep trane en snot oor haar wang. “Jou rubbish! Jy was so bang vir hom dat ek nie eens ordentlik vir haar kon baai se nie. Jy’t soos’n mal haas gat skoongemaak met daai baaik van jou met my agterop!”

“Calm down, calm down, my girl! No need to bad mouth me. Ek meen, ek verstaan oor jou ol’ lady en jou grief en als, maar jy wou daar uit net so graag soos ek!” Sy staan op van die kombuis stoel af en trap die zol dood waar dit le en smeul op die linoleum. “Wel Stefaans, jy beter daai Volksie van jou gaan check vir olie en water want jy vat my vanaand nog Uniondale toe. Ek gaan pak ‘n tas. Ons sal in my Ma se huis bly vir die begrafnis. Fok hom, dissie syne nie.” Sy storm die kombuis uit, loop haar skouer des moers teen die deurkoesyn, swets grof en verdwyn in die grot wat hulle hul slaapkamer noem.

Donker is lekkerder as daglig, dink die bok en gee drie tree suid. Hy hol ook sommer so bietjie en spat sand en klippertjies op terwyl hy kamma vieserig bler. Hy wandel oor ‘n randjie en sak af in ‘n dippie. Dan knabbel-knabbel hy aan ‘n paar afgekoelde verdroogte blaartjies en kap sy voorvoet in die sand. Selfs al is die dag weg en die aandluggie koel, is die blaartjies nog steeds maar drogerig. Hy gee twee tree noord en knibbel-knabbel weer aan ‘n bossie. Geen genade, dis droog. Hy trap ‘n tree agteruit en draai om. Terstond staan hy voor’n draad. Die bok gluur na die draad. Die draad blink sagkens in die maanlig. Die draad verdof, en die bok kyk op. ‘n Wolk gly voor die maan verby. Voert wolk, jy belemmer my sig, dink die bok. Die wolk voert en die draad skyn weer en verlustig hom in die feit dat hy hom so goed van sy taak kwyt. Maar hiert, hierdie is bok se kind en die draad het nie met hom rekening gehou nie. Die bok gluur met een oog na die draad. Hy trap drie skuins tree noord-oos, neem ‘n Mannetjie Roux aanlopie en voert! Spring hy deur die draad sonder om te raak. Hy land grasieus op sy voorvoete, minder grasieus op sy agtervoete en swaai sy stert parmantig in die rigting van die draad. Jy is nie my baas nie, en kyk hoe lekker lyk die bossies aan die’ kant van jou! Dink die bok. Hy tuur na die bossies, gee een tree links, twee tree regs, draai om en kies ‘n bossie. Versigtig knibbel hy aan ‘n blaartjie. Droog. Verontwaardig snork hu deur sy neus. Hy bler tegerlykertyd en maak die mees ontaardse geluid wat ‘n bok nog ooit gemaak het. Selfs hy skrik ‘n bietjie en kyk verward in die rondte. Maar daar’s niemand om in sy verleentheid te deel nie. Die krieke bly lankal op ‘n ander plek en die springkane hiberneer nog lustig onder die droe sand. Hulle wag vir ‘n natter seisoen voor hulle hulself sal verontwaardig om kop uit te steek. Dan vreet hulle al wat ‘n sappige blaartjie is op en die gedagte maak die bok dankbaar vir wat hy nou het en hy eet terstond nog ‘n paar van die verskrompelde blaartjies wat aan die geraamte bossies hang. Droog. Bitter droog.

Die Beetle gons soos ‘n twee-tol Singer deur die vaal vlaktes. Die afdraaibord se Beaufort Wes en Uniondale. Hy gaan aan die grens soos hy afslack om die draai te maak. Sy dowwe hoofligte word gekomplimenteer deur twee spotlights. Een skyn die veld in en die ander is dood. Die volksie skuif van vierde na derde en van derde na tweede en gly tjie-tjie-tjie om die draai. Af in die naald-pad naai hy soos daai twee-tol Singer in die agterste kamertjie van Oom Basie se naaimasjien winkeltjie doer ver in Voortrekkerweg halfpad tussen Bellville en die Kaap.

“Stefaans,” se-vra sy.

“Hm? Ek dag jy snooze, love.” Hy draai die venster op ‘n skrefie oop en skiet die toppertjie dat hy doer trek die nag in.

“Dis sy skuld, Stefaans. Alles sy skuld.”

“Wat, wie?”

“Daai donner met wie my Ma getrou het na my Pa dood is. Hy’t my nooit gelaaik nie. En hy wou my weg he van my Ma af sodat hy haar vir homself kon he.” Sy vou haar bene onder haar lang trui in en trek haar kniee tot onder haar ken.

“Ja, Trouble is his middle name, het ek mos gese, daai tyd al. Maar jy wou mos okkie…”

“Moenie met my nonsens praat nie Stefaans! Hy’s ’n werklose luigat wat lewe van my Pa se sweet en my Ma was te blind om dit raak te sien! Wat tussen my en my Ma gebeur het, het niks met jou uit te waai nie!” Hy kan hoor sy hou die trane terug. Maar dan bly sy stil en dan kan hy hoor hoe sy saggies huil. “Hy gaan betaal, Stefaans. Hy gaan betaal. Hy moenie dink ek gaan hom in haar huis laat bly nou dat sy weg is nie. Hy kan gaan doppies blaas,se ek vir jou. Doppies blaas!”

“Maar wat kan jy maak, Rieks, jy weet nie eens wat staan in jou Ma se testament nie. Hel, jy weet nie eens of sy een gehad het nie!” Sy antwoord hom nie. Sy is stil. Baie stil. Die Volksie loop myle sonder dan een van hulle eens hardop sug. Die pad is donker, daar’s wolke voor die maan. Die heater is op low, die radio is stukkend. Damn, dink hy. Plaas ek Jan-Hendrik laas naweek gekry het om na die radio te kyk. Hy vee ‘n sweterige hand oor sy kop en trek sy benerige klavierspeler vingers deur sy lang oliebol hare. Buite swymel slierte mistigheid oor die pad soos seewiere in die inkomende gety en hy voel dankbaar oor die heater wat werk.

“Stefaans,” se-vra sy weer.

“Hmm Rieks?”

“Ek weet wat ons gaan doen.

“Met wat, Rieks?”

“Oor hom Stefaans. Ek weet wat ons gaan doen met hom.”

“Wat meen jy, Rieks, wat moet ons doen met hom?”

“Ons gaan hom van kant maak.” Se sy koel en kalm. “Soos ‘n ou hond uitsit.” Die Volla duik ruk-ruk skuins oor die stippellyn. Kom dan weer stadig onder beheer.

“Ons gaan wat?!” Stefaans klink effe konsternaat.

“Ons gaan ou Henry klits, ek en jy.” In die donker glimlag sy skalks. “Ek het dit klaar uitgefigure. Na die begrafnis gaan daar ‘n klomp mense kom koek en tee by die huis. Ou Henry gaan drink. Ek en jy gaan sorg dat hy drink. En as die mense weg is en dis donker en ou Henry is lightsout gesyp, dan klits jy hom met ‘n graaf en ons begrawe hom in die varkhok. Niemand sal hom daar soek nie. Dan pak ons bietjie van sy goed en vat dit saam met ons. Mense sal maar net dink hy’t gewaai.” Sy steek ‘n sigaret op en draai haar venster effens oop sodat sy die as kan buitentoe flick. “So wat se jy daarvan? Blink plan of wat?”

“Maar hoekom moet ek hom…”

“Want jy is sterker as ek, liefie, dan nie?” Sy leun oor na Stefaans se kant toe en le met haar kop op sy skouer. Haar lang blonde hare val oor sy arm en sy weet hy laaik dit. Dan gly sy haar hand teen sy been af en in by sy wye-pyp kortbroek. Sy kry wat sy soek en pols dit liggies. Stefaans sug lank uit en sy weet hy laaik dit nog meer. “Jy is mos, is jy nie, liefie?” vra sy weer en pols weer so bietjie. Sy kan sommer voel hoe word hy sterker by die sekonde in haar hand en weet haar plan is geseel.

“Hmmm…” Sug Stefaans weer en gly ‘n hand af teen haar lyf in die rigting van haar boud.

“Sal jy omgee as ek bietjie met my kop in jou skoot le en slaap?” Vra sy saggies terwyl haar hand nog sagkens voort pols.

“Sure, love. Be my guest.” Stefaans grynslag in die donker en lek sy droee lippe.

“Maar jy’t my nog nie geantwoord nie, Stefaans. Sal jy my help?” Sy sak haar kop in sy skoot.

“Anytime, babe, anytime. Jy weet mos, for you I kill the bull…”

Die bok staan-staan diekant toe en skielik raak die grond hard onder sy voete. Hmm. Dink hy. Hoe’s die grond dan nou so hart. Hy klip-klop ‘n paar tree vorentoe. Klip-klop, klip-klop. Hy laaik die nuwigheid van die hardheid en die klip-klop. Hy kyk oor sy skouer en bler vir die draad. Niemand hoor hom nie. Klip-klop-klip-klop-klip-klop! Gallop die bok. Dis prêt! Die grond onder sy voete is swart en daar groei geen bossies hier nie. Dan gewaar hy iets weerkaats en gee drie tree suid. Dis wit en lank en het plek-plek happe uit. Die stippellyn loop links en regs sover as wat hy kan sien in die maanlose aand. ‘n Effense windjie kom kyk wat die bok doen en bring slierterige misstrepe saam wat lui-lui op die maat van die windjie oor die pad drentel. Maar die windjie sien die bok maak net droog in ‘n klaar droog-genoeg plek en skuif verby. Die mis slierte besluit om te bly en word terstond so sonder dat die bok dit agterkom deur nog slierte vergesel. As die bok weer opkyk, is die draad weggesteek in ‘n miskombers en die hare op sy rug kry lewe in die verfrissende koelte wat die mis saam gebring het. Aag nou ja, dink die bok, so what as die draad wil wegkruip! Dis lekker hier op die teerpad. Klip-klop, klip-klop, stap die bok die mis in.

Terstond is Stefaans se vlammetjie geblus en sy oe is glasig. Hy trek aan sy zol en tip die as sommer op die grond. Sy arms is te lam om die venster oop te maak. Besides, Rieks le en slaap op sy skoot soos ‘n engeltjie en hy wil haar nie pla met die koue van buite nie. Hy kyk af na haar slapende figuur en vryf saggies oor haar lang blonde hare. Sy’s’n goeie girl sy, ‘n goeie girl en hy beter hou wat hy het want hy sal maar sukkel om weer een soos sy te kry. Dis nou maar wors.

So tjommel die Volksie teen sy eie pas en die bordjie wat se sestien myl na Uniondale gaan ongesiens verby. Die Volksie se vensters is toegewasem en die binnekant blou van die rook, maar Stefaans sien dit nie raak nie. Hy merk ook nie die bok vasgespyker aan die middellyn, oe vasgenaal op die dowwe oe van die raserige ongedierte wat die vermetelheid het om hier op hom in sy eie teerpad af te storm nie. Die bok vat sy nuutgevonde vyand vol van voor af aan en nie hy of Stefaans weet een wat hulle getref het toe sy verminkte karkas met ‘n boog deur die Volksie se windscreen trek, Stefaans se nek met een horing deurboor en in ‘n bloederige hoop op die agtersitplek te lande kom nie. Rieks se nek vou aardig om die Volksie se stuurstang en sy word nie eens wakker om haar laaste asem uit te blaas nie. Teen die tyd dat die Volla half skuins teen die draad tot stilstand kom, is Stefaans, Rieks en die boerbok al drie alreeds bokveld toe. Die bok s’n vol van die groenste sappigste bossies en die vetste lekkerste ooitjies. Stefaans s’n gevul met dagga bossies so hoog soos dubbelverdieping huise en glimlaggende meisies met lang blonde hare om dit vir hom te pluk, te droog, te rol en aan te steek. En Rieks, s’n, wel, toe Rieks haar oe oopmaak en besef wat gebeur het gee sy ‘n gil so lank soos die nag van die dertiende Junie en pluk haar lang blonde hare by die handevol uit. Sy’t ‘n begrafnis om na toe te gaan, wraak om te gaan neem! Verward kyk sy rond, die dooie Volla, die dooie bok, die damn dooie daggakop! Eers sit sy en huil langs die dooie Stefaans vir ‘n lang ruk. Maar uiteindelik hoor sy ‘n kar in die verte en sy spring op en hardloop na die pad. Die kar kom nader, sy staan in die pad en swaai haar arms, haar te-groot trui flap-flap oor haar hande. Maar die kar slack nie af nie, hy kom vir haar met volle vaart. Sy gil en spring op en af en dan ry die kar deur haar asof sy nie daar is nie. Sy sak inmekaar op die koue teerpad en word verberg in die mis. Sy huil hard en lank. Nog’n kar ry deur haar voor sy begin kwyn en in die mis verdwyn. Haar bokveld, vol geraamte bossies.

En so sukkel Rieks vandag nog om in Uniondale te kom en haar wraak te neem. Sy’t daai bok langs die naald-pad van Uniondale se plek gevat en stroop droee takkies van geraamte bossies af om die tyd om te kry. En as jy so ongelukkig is om daar langs verby te gaan op die regte tyd op die regte plek op ‘n mistige donkermaan aand, sal jy haar daar kry. Sy sal jou vra om haar Uniondale toe te vat, sy’t werk om te doen. En as jy mooi luister sal jy hoor sy vertel jou van haar Ma wat sy gelos het vir ‘n daggakop met ‘n wyepyp kortbroek en ‘n bokbaardjie en ‘n ouman met die naam van Henry wat geduldig en gedwee vir haar sit en wag opUniondale. Wag dat sy haar pad moet vind dorp toe en hom uit sy misrabelheid kom verlos.

f t g