Copyright 2017 -

 

 

Die Drie Susters

Eendag lank lank gelede, ‘n uur of vier na sonsopskoms, strek oujongnooi Mara van Oudshoorn haar benerige arms verstrooid bo haar kop uit en knip-knip haar oe teen die ongenaakbare voormiddag son. Sy kry so ‘n stywe gevoel om haar bors en gluur suspisieus na onder. Dan rem en trek sy aan haar eens-pers naghemp om die ding weer eweredig om haar lyf te kry, sug soos een wat niks geslaap het nie en staan wankelrig orent. Haar oe gly waserig om haar heen. Dan val sy weer neer op die rand van die bed en voel-voel vir haar bottel-boom brille op die bedkassie. Met die brille op haar gesig tuur sy weer teen die son in. Karoo rolbossies le oral rond gewaai, die hoop dassie-kak in die hoek is drie sentimeter dikker as gister, ‘n half-lee taai tertbord onder die bed plak teen haar skeen vas en die twee perlemoen skulpe op die tafeltjie langs haar bed, die twee goed wat seker die mees opvallendste behoort te wees, weens die feit dat hulle so ver van hul herkoms is, is weggesteek onder ‘n berg stompies en as. In kort, haar gat was ‘n gemors. Soveel so, dat haar bed al vorentoe skuif nader aan die son, om nie verswelg te word deur die aller-groeiende hoop gemors agter in haar gat nie. Sy hoor haar suster Klara se stem bulder uit die son: “Jy kom nie weer by my plek alvorens jy nie jou vuil-gat maniere laat staan het nie! Die satan weet hoekom Ma dit nie uit jou uit gedôner het toe jy klein was nie. Jy’t nog nooit geweet hoe om jou gat te versorg nie! Dit was nog altyd so vuil soos ‘n ‘koorsteen! Vuilgat! G’n wonder jy kry g’n man nie!” Uit Mara se keel kom ‘n geluid so halfpad tussen ‘n grom en ‘n sug en sy syg weer op die deurmekaar bed neer. Sy stamp haar elmboog kerdunks teen die yster kopenend, vloek die son en trek die geskeurde bedsprei met so ‘n fors oor haar kop dat sy simpel tosseltjies angstige patroontjies trek in die stof om die bed.

Nie ver daarvandaan, sit Oujongnooi Klara van Oudshoorn haar derde koppietjie rooibostee neer in sy bypassende Royal Albert pierentjie, die ene met die rosies op die kant en die groen-blou stempel onder op die boom wat getuig van sy Royal afkoms. Haar ronde rooi wangetjies bol waneer sy glimlag en haar ogies trek so nou dat dit vir Saartjie Bos lyk of hulle heeltemal gaan verdwyn en nooit weer uikom na die smile nie. Saartjie is maar skugter en hou haar koppetjie met twee hande vas. Klara van Oudshoorn se groot gat maak haar altyd op haar senuwees en sy ys om te dink aan die toorn wat op haar sal neerdaal soos ‘n valk uit die hoogte as sy daardie Royal watsenaam koppietjie sou laat val. Visioene van fyn-porselein skerwe op die blink gepolitoerde klip vloer laat haar fondament verander in water en sy kyk naarstigtelik rond vir die kleinhusie. Al wat sy eintlik kom vra het was of die vallei se voorste bakster die ander susters van die gemeente sal wil help met die voorbereidings vir tee om die nuwe dominee te verwelkom eerskomende Sondag na die diens, en nou ruk Klara van Oudshoorn alweer die hele agterend uit die hoender uit.

“Soos ek sê Saartjie, die Susters en die nuwe dominee is welkom om my gat te gebruik vir die verwelkomings tee. Dis verseker groot genoeg,” sê sy terwyl sy haar hand deur die lug vee om die omvang van haar gat aan te dui. Haar kop volg die baan van haar hand terwyl haar oë agter die put-raam brilletjies kuis afgeweer bly in die rigting van die gepoetste lei-klip vloer. “Sal eh.. Mevrou Dominee ook teenwoordig wees...?”

“Stront! (Vadertjie vergewe my!)” dink Saartjie. “Die ou vet luislang weet net so goed soos al die ander ongetroude vrouens in die gemeente dat hierdie domineetjie g’n vrou het nie. Nou hou sy vir haar sommer net aspris-dom-astrant.”

“Nee, Suster, Dominee van Aswegen is mos ‘n wewenaar.” Sy slaan haar oë neer asof bewoë. “Arme man, rou klaarblyklik nog steeds oor die heengaan van sy arme vrou twee Krismisse terug. Rok glo vlamgevat tydens die kers-blyspel. Sy het Maria gespeel en een van die Ingeltjies het sy kers... (snik) Wat ‘n grote gemors moes dit nie gewees het nie! Die kerksaal het blykbaar vir weke daarna nog na gebrande mens-vet geruik!” fluister sy.

“Saartjie! Wat vertel jy my! Arme mens! Nevermind. Hier sal ons hom gou opfieks.” Sy staan op en trap-trap versigtig oor die glad gepolish-de leiklip vloer na die ingang van haar gat. “Vars lug, lekker kook-kos,“ - sy asem diep in - “Karoo bossie en rooibos tee! ‘n Man het niks meer as dit nodig om hom te laat vergeet van die misrabele stad en sy ongure verlede nie! Ons sal hom opfieks, Saartjie, ons sal hom opfieks!” Versigtig sit Saartjie Bos die koppie neer en staan op.

“Nou maar baie dankie vir jou gulhartige aanbod, Klara, ek sal dit so oordra aand ie ander susters en hoor wat hulle sê.” Gifpyltjies trek deur die lug uit die rigting van haar oë na die kolosale breë rug van die niksvermoedende Klara van Oudshoorn waar sy staan en bak in die heerlike son wat die Heer gestuur het vandag saam met hierdie gulde geleentheid vir haar, oudste en mees verdienstige van die drie van Oudshoorn susters. Sy skyn bykans nie Saartjie Bos se totsiens op te merk nie, voordat dit amper te laat is nie en kry dit reg om darem ‘n Koebaai in te gooi voor Saartjie om die hoek verdwyn. Soos sy omdraai om die fyn tee koppetjies te gaan was en weg te bêre, slaan sy haar arms om haar bors en sê, “Dankie Jere!” Haar oë raak wasig en haar bors raak nat van haar eie trane van blydskap en sy kan al klaar die Dominee se kop voel waar sy hom liefderik vasdruk teen haar boesem terwyl hy sy hart uithuil oor sy verkoolde Maria daar ver in die goddelose ou Goudstad. “Ja! Die Dominee sal my gat geniet, hy sal my gat die meeste geniet van almal s’n!”

Hoog, hoog bo teen die randjies, so hoog soos g’n mens wil klim in een dag nie, staan ‘n figuur en tuur onder deur haar hand die ver valleie in. Sy staar en staar tot die son sterretjies maak voor haar oë en wil-wil amper dink sy sien ‘n stofwolkie. Vandag is die dag! Die dag waarvoor elke hubare suster in die gemeente van Bitterwater al so lank wag! Die dag wat die nuwe beskikbare, hubare, wewenaar-dominee uit die godelose Johannesburg arriveer. Sy gluur deur haar vingers na die son, sonder om haar arm te laat sak. Die verblindende bal trek al twaalf-uur se kant toe en nog geen spoor van die dominee nie. Sara van Oudshoorn draai vies om en wals so grasieus as wat haar ses-voet-ses haar kan laat lyk terug in die koelte van haar gat waar die alewige windjie vandag geen uitsondering is nie. Die lou-warm lafenis waai oor haar en sy onthou skielik hoekom sy so mal is oor haar windgat; sy’t haar eie ingeboude airconditioning heel jaar deur! Haar gat is uniek in die kontrei. Dit sit baie hoog, het twee openinge en stink selde of nooit. Al nadeel van haar gat was dat dit maak soms die vreeslike onaardse geluide as die wind daardeur waai teen ‘n spesifieke hoek. Dan glimlag sy maar in haar alenigheid en is hartseer-bly daar is niemand met wie sy haar gat hoef te deel nie. Maar die feit mag dalk binnekort verander. Die nuwe Dominee Van der Plank is klaarblykik ‘n man met goeie smaak en gewoond aan die beter dinge in die lewe. ‘n Groot gat sal hom nie beindruk nie en ‘n vuil gat sal hom allermins aan staan. Om van daai ou bemoeisieke hakelende Saartjie se ou woeste doringbos nie eens te praat nie! Neewat, wat hierdie dominee nodig het is ‘n vrou wat weet hoe om haar man te kan pamperlang met al die fênsieste goed wat die lewe kan bied, hoe om ander mense na haar man te laat opkyk en hoe om hom te laat glo dat hy is die enigste en belangrikste man in die streek. Dit mag dalk bietjie moeiliker wees met die dominee want hy is mos, nou wel, die dominee en dominees is mos alreeds belangrik in hulle eie kontreie. Maar nieteenstaande, Sara van Oudshoorn was nog nooit ‘n vrou wat terug gestaan het vir enige iemand nie en vir hierdie uitdaging is sy meer as voorbereid. Sy swiep haar oë oor haar gat. Oral om haar staan en lê die grootste geriewe wat die lewe kan bied, genoeg om die hardste man se knieë lam te maak. ‘n Katel met ‘n satyn dakkie, die grootste blinkste koperbad wat jy in jou dagdenlewens nog gesien het, porselein tierlanteintjies van hier tot in die Transvaal, ‘n rak vol boeke, jaste, komberse, kandelare, almenakke en bokse vol goed wat nog nooit eens oopgemaak is nie. Alles pynlik netjies en met groot pyn en moeite uitgedra tot hier by haar gat, teen die hoogste randjie in die kontrei. Sy wip haar hoë boude uitdagend en kyk vir haarself in die vollengte goueraam spieël soos sy daar verby stap terug na die lys voor haar gat vanwaar sy die hele vallei kan sien.

Daar op die lys neem sy weer haar posisie in. Nommer elf voete wyd uitmekaar, regterarm gebuig by die elmboog, vingers bymekaar en vasgedruk teen haar voorkop om ‘n kappie te vorm oor haar skrefies oë. En dan, daar sien sy dit. Is dit? Is dit rêrig? “n stoffie warrel in die verte...nee, net ‘n lam warrelwind...maar nee! Die warrelwind het ‘n swart punt! Dit is...dit is...dis jou wrintie ‘n perdewa!

“Die Dominee! Die Dominee!” Haar eerste gilletjies steek skor vas in haar keel en niemand hoor dit behalwe die dassie wat in die twaalf-uur sonnetjie lê en bak skuins onder haar gat nie. Dan maak sy haar keel skoon.

“Hooi! Hooi ek sê! Klara! Klara! Waar is jy! Die Dominee kom!” Gil sy beserk teen die krans af in die rigting van haar oudste suster se gat. Klara van Oudshoorn se poeding gesig verskyn in die opening van haar groot gat.

“Wat skree jy so Sara?” roep sy benoud

“Die dominee man! Ek sê jou die dominee is oppad!” Sara trippel en trap op haar lysie van konsternasie.

“Alreeds? O jitte genadetjie tog! Kyk hoe lyk my gat! Ek is nog lank nie klaar nie! Ek moet nog vee en afstof en... O jissie Sara, is jy seker jong?”

“Ja, ja ek sê jou mos! Hy kom! Dis ‘n perdewa. ‘n Allemintige enorme groot vier-perdewa!” en dan vir haarself: “Die man het style!” Nou woema die twee susters dat die geite gons. Klara gryp haar benoude besem en swaai hom geweldadig deur die lug soos sy die leiklip vee. Sara laat sulke klein gilletjies uit en stop nou en dan om die kondisie van haar onderklere te check.

“O joe! Hier is nou voorwaar vir jou ‘n ding! Moes hy nie eers more gearriveer het nie?” Skree Klara konsternaat.

“Nee jou dom idioot, dis vandag! Jy’s altyd alewig laat met alles wat belangrik is! Jou ouderdom haal jou in!

“Godsverdomme! Wat die dôner raas julle twee maltrappe so verskriklik! Kan julle nie julle bekke toe hou net vir een slag sodat oordentlike mense kan slaap nie?” Skree ‘n bulderende stem van doer onder. Klara hoef nie eens af te kyk nie. Sy weet sommer dis haar sigaret-in-die-mond-vuilbek-vuilgat suster Mara. Treurmara soos hulle haar op skool genoem het.

“Shattap stupid!” skree Klara, totaal uit karakter uit. “Hoor jy nie die Dominee is oppad nie? Krap daai was uit jou ore uit en vee die vetkolle van jou dik brille af dan kan jy ook ‘n slaggie bykom in die lewe!” Die benoude besem dans nog verwoed oor die leiklippe. Mara se vuilgat maak een keer oop, twee keer oop en ‘n derde keer oop soos sy skielik aan die rittel gaan en verbouereerd in en uit haar gat storm.

“Die Dominee?! Die f___en Dominee, sê jy?!”

Genade! Konsternasie op die stasie is ‘n mooi grap. Die drie susters wikkel en wals dat hoor-en-sien vergaan in twaalf verskillende rigtings tegelykertyd. Intussen kom die perdekar al nader aan Bitterwater en stadig maar seker hoor die ander gemeente lede die nuus en stadig maar seker begin al hoe meer uitgehongerde oujongnooiens van die vallei om hul eie vorm van die man-vang dans te dans.

‘n Ruk later tuur Sara weer oor die vallei in die rigting van die al groter wordende stofwolkie. “Hooi! Dit is ‘n twee perdekar! Twee allemintige swart perde, sê ek vir julle! Hierdie vallei het nie genoeg bossies om daai twee lywe te voer nie!”

“Ek kan nie sien nie, ek kan niks sien nie!” kom dit daar onder uit die vallei uit.

“Niemand het gesê jy moet so laag op die grond bly nie, jou luigat!” Skree Sara van haar hoë krans af.

“Wel, die Dominee moet eers by my gat verby kom voor julle twee hom sal ruik, en dit mag dalk f___en nooit wees nie!” snou Mara die ander twee toe temidde van hope robbies wat die wereld rond waai soos sy woel en werskaf.

“Jou vuilgat loop die Dominee ‘n wye draai om. Ek sal hom mooi verduidelik hoe om by my ander ent in te kom en jou totaal mis te loop.” Mompel Mara by haarself terwyl Sara in die middel van die snedige sêgoed haar aan niks ander steur as die toestand van haar leiklip ingangsportaal nie.

Teen die tyd dat die moeë donkie in Bitterwater se enigste stowwerigste straat in strompel, staan die hele gemeente in gelid aan die bopunt van die straat weerskante van die kerk se ingang en hou hul gesamentlike asems op. Die donkiekar sonder kappie stop voor die kerk en ‘n laaang man met geboeë skouers klim moeisaam daarvan af. Toe hy sy vaal hoed in een hand vat en die sweet van sy voorkop daarmee afvee, bars die hele gemeente in jubelende gille uit en klap hande dat die kranse antwoord gee. Die Ooms en die Anties verkyk hulle nog aan die spektakel van ‘n man en sê “Haai shame” en “Arme man moet poeggaai wees”, toe het die gulsigstes onder die gretige oujongnooiens hom al aan die arms beet en trek hul prys die koelte van die kerk in. Iemand haal sy stof-belaaide tassie van die karretjie af en een van die jong seuns kry ‘n skuins-klap agter sy oor vanaf sy Pa om hom aan te spoor om tog die Dominee se donkie uit te span en water te gee voor die ding staan en vrek voor die kerk deur en iemand hom nog moet wegsleep ook. Die verskrikte dominee trap ‘n trappie mis oppad boontoe en ploeg amper ‘n voor deur die kerk se verslonste rooi mat, maar selfs dit ontsien nie oujongnooiens nie om hul held en ridder die kerk in te begelei nie. Die drie van Oudshoorn susters laat nie op hulle wag nie en stamp en stoot om voor te kom vir die vale vrekte. Toe die gemaal uiteindelik tot stilstand kom voor die kansel en Petronella van Aarde gil, “Hier’s jou preekstoel, dominee!” daal ‘n strakke stilte oor die kerk neer, soveel so dat almal die rooie Petronella se perfekte Engelse fluister, “Oh shit” kan hoor. Dominee van der Plank kyk om hom heen na die see van glinsterende oë. “Oh shit” dink hy by homself. “Waar het ek my nou by ingelaat?” Die gesigte rondom hom glimlag almal van oor tot oor in antisipasie vir sy eerste woorde. Hulle lyk kompleet of hulle Ma’s en Pa’s se nefies en niggies met hulle ooms en anties ge-ondertrou het. “Eh... Goeiedag, Broeders en Susters.” ‘n Hernude kakofonie bars los rondom die dominee se kop. Gou-gou steek hy sy lang arms in die lug en is verlig om te sien dat die gebaar hier ook die gewenste uitwerking het. Die stilte van tevore daal weer net so vinnig neer as wat dit verdwyn het oomblikke gelede. “Dit is vir my aangenaam om hier te wees en ek sou nooit in my wildste drome so ‘n oorweldigende verwelkoming kon verwag nie.” Wildste drome, o la la! Grinnik Sara by haarself en dryf weg in ‘n droom waar die lang, lenige, gespierde Dominee van der Plank haar oor die drumpel van haar gat dra.

Die volgende drie weke was konsternasie in Bitterwater op ‘n Armagedoniese skaal. Dit het gegons soos nog nooit sedert die verskriklike springkaan plaag na die laaste groot reëns, dertig jaar gelede. Dit was ook dié groot reen wat verantwoordelik was vir die oormaat oujongnooiens en wedu-vrouens in die kontrei. Sien, die Bitterwater stroom loop deuskant die dorp verby en die bietjie goud in sy bedding was dan ook die rede vir die ontstaan van die dorp. ‘n Mens kan amper sê, die stroompie was die begin en die einde van Bitterwater, want alhoewel al wat geblink het in die rivier al laaaankal uitgepan is, het die kanniedooders van Bitterwater nog maar altyd hulle ore uitgeleen vir wolhaarstories en elke nou en dan kom ‘n simpel kind die stofstraat afgehardloop en skree “Goud! Goud!”. Dan hardloop al wat man is vir sy pan en sit die stuk in stroom toe. Die dag van die groot reën was weer so ‘n dag. Al verskil was, daardie dag verander Bitterwater stroom in Bitterwater rivier en spoel bykans die hele manlike bevolking van Bitterwater tot skuins duskant Beaufort-Wes. Al wat oorgebly het was die luies, die lammes, die verwyfdes en die baie jonges. Die dorp se manlike bevolking het nooit weer regtig herstel na daardie dag nie. So die aankoms van die ongetroude Dominee was uit die aard van die saak, ‘n groot okasie.

Die Susters van die Gemeente het brom-brom ingestem om Sara van Oudshoorn se gat te gebruik vir die Dominee se verwelkomings tee. Ook maar net omdat nie een van die ander ‘n groot genoeg gat gehad het nie en die kerksaal was nooit gebou nie asgevolg van ‘n tekort aan beskikbare mannekrag. Elkeen was gedetermineerd om langs die dominee te sit en Eufesia het hardop komentaar gelewer oor die ongenaakbaarheid van die prostituut van Kanaan toe Mara van Oudshoorn se nuwe pers rokkerige-afêre oopval tot bo haar knie toe sy haar bene kruis terwyl sy langs die dominee sit en ‘n kaalgeskeerde been ontbloot. Sara het goed van die geleentheid gebruik gemaak en Dominee op ‘n toer van haar gat geneem. Sy het seker gemaak hy neem notisie van elke hoekie en draaitjie sodat hy goed kan waardeer hoe groot haar gat nou eintlik is. Afguns het vlak gesit in die keel van menige suster toe die dominee met groot bewondering in die oë uiteindelik terugkeer van sy besigtigings toer en Sara van Oudshoorn soos ‘n ou vryer aan sy arm hang met haar bewende boesem styf teen sy biseps vasgedruk.

Na die verwelkomings tee het elke hubare en nie-so-hubare oujongnooi en wedu-vrou in die kontrei gespook om die dominee te beindruk. Kakebenia van Hogenboesem het hom blykbaar probeer dronk maak met dertig-jaar oue witblits wat haar man Hebron nog gestook het en Klaasina de Jager het die arme man met ‘n kersblaker gedreig toe hy kwansuis te vroeg na haar sin wou huis toe gaan na ete! Maar die van Oudshoorn susters het natuurlik die koek gevat. Mara se vuilgat was silwerskoon. By die ingang was ‘n bordjie met “Geen Dassies” op en die deur was behang met ‘n nuwe wulpse purper lappie-goed en binne was ‘n magdom van kerse versteek in elke hoekie en gaatjie wat sy in haar gat kon kry. Sara se groot gat het geblink soos ‘n nuwe sikspens, die dominee was verlei met wortelkoek, rooibos tee en ‘n tikkie boegoe-brandewyn en Klara, wel Klara het gewag vir ‘n bykans windstil aand om seker te maak geen onaardse geluide kom uit haar gat nie, voordat sy die dominee oorgenooi het vir ‘n rustige aandjie en ‘n gesonde bord bees-stert stew. Sy het haar kappie-bed drie keer aan hom gewys en vertel waar dit vandaankom, hoe dit die enigste een is in die kontrei en hoe sy dit eiehandig in haar gat gekry het. Maar die grootste geleentheid moes nog kom; die jaarlikse kerkbasaar van Bitterwater was alombekend vir die beste gebak in die kontrei en was bygewoon deur besoekers van heine en verre.

Soos elke ander jaar staan Sara, Klara en Mara se drie stalletjies in gelid langsmekaar vasgepen tussen die verhoog vanwaar die basaar voorsitter alle aankondings doen en pryse uitdeel, en die groot eet tent waar die groot manne die grootste deel van die dag uithang. Sara se koeksusters drup van die sous, Klara se melkterte kompeteer met die son vir wie kan die geelste skyn en Mara se potte ingemaakte groen vye konfyt en kafferwaatlemoen stukke laat die bokkies onder die opslaan tafel kreun in hulle skarniere. Daar binne die hoof tent sit Groot-Jan Gharries al sedert nege uur en eet die een melktert na die ander appeltert, die een bord skenkel potjie na die ander homp potbrood. Sara het hom noggal in die oog gehad so twintig jaar gelede tenspyte van sy horrelvoet; maar heellaas, haar kuisheid het haar ingedoen en daai tert Amanda Nienaber wat hier aangekom het uit die stad met haar half-mas broeke en rooi geverfde lippe het hom een middag daar langs die Bitterwater stroom verlei. Vandag het sy ‘n agterstewe groter as Groot-Jan en hy het darem ‘n enorme voorsprong van wegkruip agter sy voet en vreet soos ‘n vark. Ant Stienie skud maar net haar kop elke keer as sy by die tent verby stap en wonder waar de hel het sy verkeerd gegaan met daardie lui slobberkous van ‘n lamgat seun. Plaas sy pa hom die dag maar saamgesleep het rivier toe en hy ook versuip het! Dan het sy dalk die kans gehad om weer ‘n man te vang in plaas van om alleen en bitter oud te word terwyl sy die Quasimodo van die Karoo grootmaak. Dit is presies wat die drie van Oudshoorn susters nié wil oorkom nie – hulle en die res van die oujongnooi gemeenskap van Bitterwater. Daarom baklei die drie nog konstant die hele oggend by die basaar – nie sodat enige iemand dit sal agterkom nie, maar so steek-steek, stamp-stamp onder die tafels deur. Elke keer as Dominee verby loop na die verhoog om iets in die Basaar voorsitter se oor te fluister of nog ‘n stukkie eetgoed aan te dra vir die paneel beoordelaars, dan glimlag die drie susters van oor tot oor en sing tegelykertyd: “Marrag Dominee!” en sodra hy verby is dan stamp of skop een weer aan ‘n ander en gluur hulle mekaar met duiwels-oë aan. Kort voor twaalfuur stamp Mara een van Klara se melkterte aspris van die tafel af en sê “Oeps!”. Die arme tert val dat hy so skuif deur die verdorde kikuyu. Klara se oë rek soos pierings, haar boesem rys soos ‘n kom vetkoek deeg en haar mond rek soos ‘n waenhuis deur, reg om die wraak van Beelsebub op haar suster uit te spreek. Net op daai oomblik stap dominee weer verby met laaste instruksies vir die paneel beoordeelaars en Klara moes met moeite die kwaad afsluk en in ‘n oogwenk die waenhuis deur in ‘n glimlag omskep.

Dominee maak sy keel skoon. Die mikrofoon skree skril in die draad af tot hier in die luidspreker langs Mara se oor.

“Hiert, jou lelike ding!” Sy wip soos sy skrik. Klara en Sara snork-snork soos hulle proes van die lag agter hulle hande. Die groot oomblik het aangebreek. Die wenner van die dag se gebak word nou aangekondig. Die dominee maak ‘n kort toesprakie. Nie een van die drie susters kan meer wag nie. Spanning loop hoog. Laas jaar het Sara gewen met haar koeksusters. Die hele jaar was die ander twee so groen soos groenvye konfyt oor die gesogde titel halfpad teen die kranse uit vasgesteek het. Klara wriemel met haar hande in haar skoot, Mara maak sulke onsamehangende neul-geluidjies en Sara trippel rond soos ‘n ou Ingelse skool jufrou met ‘n nat broek.

“Koeksusters!” fluister sy hard

“Vyekonfyt!” fluister Mara harder

“Melktert!” gil Klara in hulle rigting

“Watse melktert jou lange lummel! Vyekonfyt!” skree Mara

“Koeksusters jou aasvoëlkos! My koeksusters gaan wen! Toe tref ‘n melktert vir Sara vol in haar ronde gesig. Sy verstar in haar spore. Dan ruk sy haar kop orent dat die melktert spat tot op die dominee se das.

“Jou swerkater!” skree sy en gryp ‘n bak koeksuster sampletjies. Sy slinger dit in Mara se rigting. Die bak tuimel in ‘n wilde boog en sprei haar twee susters met taai sous en stukkies koeksuster vlegsels. Pandemonium breek los by die tafels van die drie susters en hulle peper mekaar met melkterte, groenvye konfyt, kafferwaatlemoen stukke en sopperige koeksusters. Klara gryp vir Mara aan haar dun nekkie. “Kry dan vir jou vyekonfyt as jy dink dis so grênd, jou benerige vuilgat!” Skree sy terwyl sy ‘n pot vol vye konfyt op haar suster se kop uitkeer en dit invryf in haar hare. Mara skree soos ‘n maer vark en plant haar kop in haar lang suster se wind lat sy blaas soos ‘n blaasbalk en dubbel vou van verbasing. Op daardie oomblik gee Sara haar ‘n allemintige skop en sy ploeg kop eerste deur die laaste ses melkterte en val soos ‘n dooie os bo-op Mara.

“Melkteeeert!” Skree Sara triomfantelik toe sy besef sy is die enigste een van die drie wat bly staan het. Stadig maar seker word sy bewus van die stilte en die verstomde skare wat haar aanstaar. Die ander twee kruip-kruip orent en kan skaars deur die taai gemors sien wat hulle lywe en gesigte bedek. Daar op die verhoog staan die dominee en langs hom, die vervloekte Saartjie Bos met die trofee wat sy gewen het met haar verdomde rosyntjie brood! Bobaas bakster van die jaar!

Nodeloos om te sê dat na die fiasko was die drie van Oudshoorn susters maar skaars in die dorp en het beswaarlik Sondae kerk toe gegaan. Waneer hulle wel gegaan het, het hulle met hoedens en veile oor hulle gesigte in die agterste ry gesit soos vrouens wat rou. Drie maande later maak die dominee ‘n aankondiging van die kansel af wat al wat ‘n oujongnooi in die vallei voor gewag het. Hy gaan trou. Met Saartjie Bos. Sien, die dominee hou van ‘n bos, en Saartjie het die grootste bos van almal in die hele vallei.

Van Bitterwater is daar nou nie eens meer ‘n gedagtetjie oor nie. Die stroompie het uiteindelik die gees gegee en die laaste bittereinders het lankal groener heenkome gaan soek. Net die Dominee en Saartjie Bos se nasate le nog die hele Karoo vol. Jy sien hulle orals, Tannies agter tille en bree-bors ves-draers met besem snorre en Ford bakkies voor kooperasies. Na die Basaar-fiasko het niemand nooit weer soveel soos ‘n skaduwee van die drie susters gesien nie. Al wat vandag van hulle oorbly is die drie ronde bergies skuins duskant Oudshoorn waar hulle staan en bak in die ongenaakbare son. En soms kan jy nog so ‘n stofwolkie sien trek soos Klara van Oudshoorn haar gat uitvee in die hoop dat daar tog eendag, eendag ‘n ou nie te onaansienlike wewenaar sal verby kom en vir ‘n bietjie lafenis by haar gat sal kom aanklop.

f t g