Copyright 2017 -

 

Aanlyn, verwagtinge

Vyf en twinting jaar nadat sy hom vir die laaste keer gesien het, “ontdek” hulle mekaar skeilik eendag aanlyn.

            “Hallo daar,” sê sy. “Nie gedink jy gaan my ooit weer sien nie, ne’?”

            “Grote Griet,” sê hy, “Wie sou dit nou ooit kon raai? Wat maak jy hier?”

            “Surf sommer bietjie op Facebook rond,” sê sy, “en jy?”

            “Soek potjiekos resepte vir die naweek,” sê hy. “Waar in die wêreld is jy deesdae?”

            “Nog steeds hier,” sê sy. “Waar anders dink jy dan,” sê sy. “En jy? Ek sien jy bly in…Svetlanabuch…waar die joos is dit in die wêreld?”

            “Bulgarye.” Sê hy. “werk, jy weet.”

            “Wat werk jy daar, maak jy jogurt?” Skerts sy. Hy verbeel hom hy kan daai fyn lyntjies om haar oë sien.

            “Lol”, tik hy terug, “Ja, ek skud die koeie om die melk dik te maak.”

            “Nog steeds snaaks,” sê sy, “kom jy nog ooit hierdie  kant toe?”

            “Nee,” sê hy, “het my instink verloor.”

            “Wat beteken dit?” vra sy.

            “Dit beteken dat as iemand vir my moet skree ‘Hi Jack!’ sal ek dink hy groet my.”

            “Haai, dis glad nie so erg nie jong, die Kaap is nog Hollands!”

            “Dis wat jy sê ja, maar selfs ons hier in Svetlanabuch kry Die Beeld en Die Rapport  en dit lyk maar bra swart daar by julle.” Skerts hy terug.

            “Hey, dis lekker om jou weer te sien jong, ek is bly ek het jou hier raakgeloop.” Sê sy.

            “Selfde hier, ek het nie gedink ek sal jou ooit weer sien nie.”Sê hy.

            “So beteken dit jy het my darem nie vergeet nie?” Vra sy.

            “…nooit nie” Tik hy na ‘n oomblik van grasie. “Beslis nog nooit nie. Hoe kan ek?”

            “Ek het gedink jy het my lankal vergeet. Jy het my gelos en nooit weer van jou laat hoor nie.” Sê sy. Vir hom klink dit of hy haar deur die internet kan hoor sug. “Sjoe, pragtige kinders!” Tik sy lustig voort. “En jy lyk so gelukkig getroud!” Gaan sy voort. Hy kyk na die prentjies waarna sy kyk - ‘n seleksie van glimlaggende gesiggies.

            “Ek sien jou kinders is al self baie groot. Seun en dogter?”

            “Ja jong, al albei klaar met skool. Een is perd-mal soos jy kan sien.”

            “En jou man? Wat doen hy?”

            “Het sy eie besigheid. Ouditeur.” Sê sy. “Hy is baie goed vir my, ons kom goed oor die weg.” Voeg sy (haastig) by.

            “Dis goed om te hoor,” sê hy. “So baie mense se huwelike hou dit deesdae nie meer nie. Veral eers waneer die kinders groot en uit die huis uit is…”

            “Ja,” sê sy. “Wat van joune? Hoe gaan dit met joune?”

            “Orraait, ek kan nie kla nie.” Sê hy. Sy’s ‘n uitstekende Ma en vrou en kyk goed na ons.”

            “Hmmm. Ja, maar wat van julle verhouding, kom julle goed oor die weg?”

            “Ja,” sê hy, “ons kan nie kla nie.”

            (Stilte…)

            “Mis jy my somtyds?” Vra sy.

            (Nog stilte…)

            “Ja ek doen,” sê hy. “En jy?”

            “Ek sê niks,” sê sy. “’n Still bek is ‘n heel bek.” Sê sy.

            “Ag toe nou…?” Sê-vra hy. “Wil jy hê ek moet smeek vir ‘n antwoord?”

            (laaaaang stilte…)

“Is jy nog daar? Vra hy.

“Ek mis jou elke dag. Ek dink gereeld aan jou. Ek wens soms baie ek kan jou weer sien.”

“Ek dink ook aan jou nog. Hey, onthou jy nog jou Ma se sitkamer vloer…?” Vra hy.

“Hoe kan ek dit ooit vergeet!” tik sy. “Maar ek moet nou gaan. Ek is so bly ek het jou hier raakgeloop. Kom jy baie hier? Vra sy.

“Ja noggal gereeld,” sê hy.

“Goed dan. More weer selfde tyd?” Vra sy.

“Klink na ‘n plan,” sê hy en vryf sy maag waar die vlinders amok maak.

 

So ontmoet hy en sy mekaar daar in die middel van nêrens op die internet dag na dag.

 

            “Wat van my onthou jy die beste?” Vra sy. Hy dink vir ‘n oomblik aan iets gepas want dit wat hy aan dink, dink hy nie sy sal wardeer nie.

            “Jy wat jou hare droogmaak op die trappie by  jou Ma se agterdeur.” Sê hy. Ek onthou nog as die son so deur jou lang hare glinster soos goud…en jy?” Sê hy.

            “Ek onthou jou glimlag. Lag jy nog so baie?”

            “Dit was nie ek nie, dit was jy wat altyd so baie gelag het. Ek onthou dit goed. Ek kan dit nog hoor.” Sê hy.

            “Ek is nou deesbae baie stiller.” Sê sy.  “Ek praat nie meer so baie nie. Ek is ‘n toe boek en ek verkies dit so.

            “Dis nie goed nie.” Sê hy.

            “Wat is nie goed nie?” Vra sy.

            “Om ‘n toe boek te wees nie.” Sê hy. Jy kan maar vir my vertel. Ek ken niemand, en niemand ken my nie. Ek is 15,000km ver van enigiemand af wat omgee wat in jou boek staan.” Sê hy.

            “Gee jy dan nie om nie?” Vra sy.

            “Natuurlik,” sê hy, “dis hoekom ek wil weet wat staan in jou boek. Ek wil jou lees soos ‘n vuurwarm roman wat 25 jaar te lank in die laai gelê het. Ek wil jou weer en weer en weer lees!” Skree hy.

            “Ek wil jou ook weer en weer en weer lees,” sê sy. “Dit sal lekker wees.” Sê sy saggies.

            “Wat van ons loop weg? Sê hy.

            “Wat meen jy? Waarna toe?” Vra sy.

            “Wat van Fiji, of Suid Amerika, of Frankryk? Sê hy.

            “Ek gaan veel eerder weer Mauritius toe,” sê sy.

            “Ek weet, wat van Panama? Dan word ek en jy Bonnie & Clyde outlaws!”

            “LOL!!” Tik sy. “Nog steeds snaaks!”

            “En jy’s nog steeds sexy.” Sê hy. “So wat sê jy? Panama?”

            “Maar wat van jou familie? Wat van jou vrou?” Vra sy.

            Kinders is groot genoeg om na hulle self te kyk en ek sal haar nie sê as jy haar nie sê nie.” Lag hy. “Ek kan dieselfde vra. Wat van jou man?”

            (stilte…)

            “Hy is maar siekerig. Hy kan maklik doodgaan.” Sê sy.

            “Wat meen jy? Sal jy jou man vermoor om saam met my weg te loop?” Skerts hy.

            “Nee, ek sê maar net, hy was al voorheen amper dood.” Skerts sy terug. “Ek moet nou alweer gaan, sê sy.

            “Ek gaan jou mis.” Sê hy vining.

            “Tot more dan?” Sê sy. “Stuur my ietsie in die pos!”

“More,” sê hy. “Ek stuur vir jou ietsie more.”

 

Die weer broei dik. Dis bedompig en die somer storm op die horison dreig onheil met blitse en donderslae. Die man stap by die reisagentskap in toe die eerste groot druppels soos Engele-trane op die teerblad neerplof…Buite draf-stap mense om by hulle motors te kom in die oopte van die parkeerterein voor die reën hulle papnat maak. Binne verduidelik die man ernstig wat hy wil hê en betaal in harde kille kontant.

 

            “Hey, hoe was die naweek?” Vra sy.

            “Warm en bedompig. Heel naweek gereën hier, en daar?”

            “Lekker koud gewees,” sê sy. Sop en pannekoek weer…en natuurlik ‘n rooiwyntjie…”

            “Het jy my gemis? Vra hy half angstig.

            “Natuurlik Silly, ek mis jou altyd.” Antwoord sy.  Hy verbeel hom hy kan hoor hoe sy vir hom lag. Spot sy met hom?

            “Is jy seker? Dit het vir my geklink jy en jou man het laas naweek vreeslik baie geniet toe julle gaan kamp het.” Hy frons maar weet sy kan hom nie sien nie en las ‘n suur gesiggie agter aan die sin.

            “Ons het, ons kom mos goed oor die weg. Hy is my man, onthou.” Sê sy. Half ontstoke staan hy op en loop ‘n draai. Hy drink ‘n glas water en mors op sy hemp voor hy weer terugkeer na die rekenaar.

            “Al pos gekry?” Vra hy.

            “Ek het, jy is baie stout.” Sê sy. “Maar ek kan dit nie huis toe vat nie.

            “Ek weet, hou dit by die werk. Dis net vir jou.” Sê hy.

            “Ek’s nie eens seker of dit veilig is om dit by die werk te hou nie.” Sê sy. Miskien moet ek dit iewers begrawe…waar net ek en jy weet waar dit is…wat sê jy?”

            “Aag wat dis okay. Dit was baie stupid van my. Gooi dit maar weg.” Brom hy en storm weer kombuis toe.

            (……….)

            “Waar was jy nou weer?” Vra sy. “Jy raak sommer weg?”

            “Net gou iemand in my kantoor gewees,” lieg hy. “Maar hulle is nou weg.” Sê hy. “Ek moet weer weggaan vir werk.” Sê hy. Hy weet sy mis hom as hy weg is.

            “Vir hoe lank die keer?” Vra sy.

            “Nie lank nie, net ‘n week. Maar ek sal nie kan gesels waar ek is nie. Jy weet mos…” Sê hy.

            “…Ek sal jou mis,” sê sy.

            “En ek vir jou…” Sê hy.

 

Nog ‘n storm broei. Rukwinde stroop die bome van hul herfs blare en die gesuis verbloem die gedoef van die agterdeur wat toemaak. Nogtans kyk die vrou om waar sy besig is om uie te skil. Die geel rubber handskoene raak stil en sy sit die mes neer om haar man te groet. Hy soen haar op die voorkop en draai om na die stoof toe. Meteens met een vloeiende beweging vat hy die swaar ysterpan van die stoof af en slaan sy vrou een allemintige hou teen die kant van haar kop. Sy is dood voor sy die kombuis vloer tref. Vir ‘n wyle staan hy stil en kyk na die plas donker bloed wat om haar kop vorm soos ‘n stralekrans. Voor die bloed sy skoen bereik, sit hy die pan terug op die stoof, kyk dat die plate af is en stap by die agterdeur uit.

 

Drie maande later staan die man op ‘n strand in ‘n verre land. Die lug is grys, die sand onder sy skoene is valer as as. Die wind sny deur baadjie en hy wens hy het ‘n jas gebring. Dan is daar ‘n ligte aanaking; ‘n hand op sy skouer, en hy sug: “Uiteindelik.” Hy draai om en daar staan sy. Die vrou uit sy verlede, die vrou oor die internet, uiteindelik in lewende lywe.

            “Ek;s hier,” fluister sy terwyl haar hand saggies oor sy wang streel.

            “Ek dag jy kom nooit nie. Wat het so lank gevat?” vra hy en beweeg nader in haar omhelsing. Sy ruik nog net soos hy onthou, hy begrawe sy gesig in haar hare. Hoe lank smag hy nie al daarna nie!

            “Ek moes wag vir my man…” Sê sy.

            “Is hy ook hier?” Vra hy met gemaakte-verbasing. Maar hy weet wat sy bedoel.

            “Nee Silly,” lag sy en hy vergaap hom aan die plooitjies om haar oë. Dis nog net soos hy hulle onthou. “Ek moes wag vir hom om dood te gaan, natuurlik.

            “Wat het hom oorgekom?” Vra hy.

            “Hy was lank siek. Die dokters kon nie agterkom wat met hom aangaan nie.”  Vir ‘n paar lang ooblikke heers die branders op die sand agter hulle sowerein. Dan sê sy, “ek het gelees in die koerant van jou vrou. Aaklig.”

            “Ja,” sê hy. “Verbeel jou. Trek 15,000 km om weg te kom van al die geweld en word dan in jou eie kombuis…vermoor…”

            “Dis baie erg,” sê sy en hou hom stywer vas. Dan soen hy haar hartsogtelik, net soos hy hom verbeel het dit behoort te wees na 25 jaar.

            “Kom ons gaan hotel toe, ek wag al so lank hiervoor.” Sê hy skor.

            “En ek,” sê sy, “wag al baie langer as jy…”

 

Ingehaak soos jong tiener-verliefdes stap die man en vrou teen die strand op, terug met die paadjie wat hulle elkeen op sy eie tyd na die strandtjie toe gelei het. Agter hulle breek die branders op die rotse en skuim rol uitspattig teen die vaal sand-strand uit.

            “Voor ons hotel toe gaan, kom ons stop hier.” Sê sy.

            “Waar?” glimlag hy.

            “Kom saam met my,” sê sy en lei hom aan die hand. “Hier’s iets wat ek jou wil wys,” en sy glimlag skalks oor haar skouer.

            “Wat het jy ingedagte?” Vra hy. “Die hotel te ver?” Sy glimlag net vir hom en die ou duiweltjies wat hy so goed onthou dans in haar oë. Dit laat sy asem jaag en hy volg haar, ywerig om te sien wat sy vir hom wil wys.

            “Dis nie ver, nie, net hier om die rotse. Dis ‘n grot waar ons meer privaat kan wees. Die ou by die hotel het my daarvan gesê.” Lag sy terwyl sy hom deur ‘n lae opening in die rotse na binne lei.

            “Damn, maar dis pragtig!” Sê hy waneer hulle binne is. Die sand onder hulle voete is sag en droog en hoog bo hulle koppe troon ‘n blaasgat waardeur water moes gespuit het millennia gelede. Sy druk hom teen die rotswand vas en soen hom vuriglik.

            “Hoe voel dit?” Vra sy tussen hartsogtelike soene deur. “Voel dit nog soos destyds? Voel dit nog soos toe ons tieners was?” Sy hande beweeg haltend oor haar lyf, vryf oor haar heupe, vryf oor haar borste en haar rug; dan weer terug na haar borste terwyl hy probeer ontslae raak van die lae klere wat hom van haar naaktheid skei. Sy asem jaag en dan skielik, skiet ‘n pyn deur sy bors!

‘Hartaanval’? dink hy. Maar dan sit hy sy hand op die pyn en hy sien die glimlag op haar lippe en die blik van verwagting in haar oë. Haar tande blink soos pêrels, net soos hy hulle onthou op haar sestiende verjaardag en hy voel die kouete van die staal lem tussen sy ribbes. Hulle ky stip inmekaar se oë; en dan verander die verbasing in syne na verstaan. Hy blaas sy laaste asem uit terwyl hy besef dat sy al die tyd uitgesien het na iets heeltemal anders as hy.

Sy oë verstar en sy laat hom stadig afgly teen die rotswand totdat hy in ‘n sittende posisie op die sagte sand tot ruste kom. Met haar sakdoekie vee sy die hef van die mes skoon en gaan sit saggies voor hom op die sand. Vir ‘n lang ooblik staar sy na hom, drink elke detail in van hom, probeer om die man voor haar te vergelyk met die seun wat sy eens lief gehad het.

“Totsiens my eerste liefde, dankie dat jy my vandag hier kom ontmoet het. Dit was presies net soos ek myself dit voorgestel het dit sal wees.  Baie dankie.” Fluister sy terwyl sy opstaan, haar klere regtrek, haar hare regvee en uit die grot uitloop.

Buite het die son sy kop uitgesteek en sy glimlag vir hom. Dan draai sy om en stap teen die duin uit, terug na waar sy vandaan gekom het.

f t g