Copyright 2017 -

Oom Ampie sit op die bankie op die klein voorstoepie van sy Parow-huisie en sip-sip rustig aan sy koppie soet-kondensmelk-rooibos-tee. Agter hom in die klein koue huisie lê sy verlede en voor hom in die straat kyk hy ywerig uit vir die toekoms wat na hom toe oppad is. Na sestig jaar ken Oom Ampie elke kamer in die klein huisie agter hom intiem; elke hoekie, elke draaitjie, elke gaatjie asof hy dit self gebou het. Die klein huisie se kamertjies is netjies skoongemaak; alles reggepak en weggepak, die deure en gordyne versigtig toegetrek, so asof sy Anthea dit vandag oudergewoonte weer self gedoen het. Maar vandag is die agterdeur ook gesluit en die hekkie langs die huis se knip is ingehaak. Die tuinslang is opgerol en die snoeiskêr terug gehang op sy spyker in die garage. Deur die rosies wat sy so lief gehad het daar waar hulle bloei langs die voorhekkie, waai so ‘n effense briesie. Dit laat die blaartjies net so nou en dan beweeg, so asof sy vir Oom Ampie wil sê, moenie worry nie Ampie, moenie worry nie, ek wag vir jou. Dis nou nie meer lank nie. Sy koppie tee smaak lekker. Die skerp volwarm smaak van die tee blare smelt saam met die ronde soetigheid van die kondensmelk in die holte van sy tong. Waneer die briesie aan die baba-sagte haartjies in Oom Ampie se nek trek, voel dit soos die warmte van haar asem op daardie donker gesteelde aande van so lank, lank gelede; en Oom Ampie glimlag en kyk weer die straat af. En waneer Oom Ampie sy oë toemaak en die soet tee so op sy tong rol, dan sien hy haar groot donker met-liefde-gevulde ; en hy sien sy hele wêreld in daardie oë. 

Dit was 1940. Die Tweede Wereld Oorlog was al amper ‘n jaar aan die gang en Hitler was besig om verderf te saai in Europa. Twee weke voor Ampie se sestiende verjaardag het sy Ma en die Dokter hom by die kaai na Robbeneiland afgesien. Die All Saints Susters wat hom op die kaai kom kry het om hom Robben Eiland toe te neem met die een-skoorsteen diesel ferry, was vriendelik genoeg; maar hul gesigte was stoer en dof soos die gemufte buiteblaaie van baie ou boeke. Hulle wit-gestyfde rompe het tot op hul voete gehang en dit was so swaar, dit het nie eens beweeg in die wind nie. Hul ewe wit en ewe gestyfde boortjies was tot onder hulle kenne toegeknoop soos spierwit knel-bande en hul koppe was toegedraai in kopdoeke van dieselfde stofasie wat langs hul gesigte afgehang het soos dooie lappies-goed. Groot, bloedrooi kruise, van die hospitaal tipe, het op hul borse gepryk wat almal wat naby hul gekom het laat terugdeins het; want hierdie Susters was van die Melaatse kolonie; besmet met ‘n ongeneeslike en hoogs aansteeklike siekte wat almal al sedert 1890 die skrik op die lyf jaag.  

Die trane het vlak gelê in Ampie se melkerige blou oë. Paniekerigheid het soos ‘n growwe stuk steenkool in sy keel vasgesteek. Sy Ma en Dokter Lambrechts het al hoe kleiner geword daar op die Kaapse kaai, maar die dokter het hy nie eens raak gesien nie. Sy oë was vasgepen op die verdwynende figuur van sy Ma. Die langste wat hy nog ooit van sy Ma af weg was, was ‘n skooldag en nog nooit het hy een nag weg van die huis af geslaap nie.  Sedert die dag sowat twee weke tevore toe Dokter Lamprechts en sy Ma so saggies en onderlangs met mekaar staan en praat het in die hospitaal gang buite sy kamer deur, toe hy gesien het hoe sy Ma se oë vol trane skiet en toe die Dokter sy hand gerustellend op haar skouer gesit het, van daardie oomblik af het daar so ‘n swaar stuk lood onder in Ampie se maag gaan lê en Ampie het besef sy lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie. Want Ampie het al gehoor van melaatsheid en daardie kol op sy enkel waar die vel nie wou gesond word nie, het swaarigheid vorentoe voorspel.  Toe Ampie se Ma verdwyn het tot  ‘n dowwe strepie tussen die ander mense op die kaai, kon hy dit nie meer keer nie en groot trane het stil oor sy wange geloop. Maar niemand het Ampie getroos  nie. Die All Saints Susters se rokke was te styf om na sy kant toe te buig. Ampie het sy Ma nooit weer gesien nie. 

In 1891 toe Ampie se Ma nog nog nie eens ‘n glinstering in haar Ma se oog was nie, het die Kaapse regering besluit dat melaatsheid ‘n gruwelooslike siekte was wat geen mens kan vertrou nie. Dit was ‘n siekte wat sommer so deur die lug van mens tot mens gespring het en ieder en elk wat net gelyk het of hulle die siekte opgedoen het, moes verwyder word uit die samelewing. Diegene was Robbeneiland toe verban;n grou plat plek met amper nie ‘n enkele boom vir skadu nie en bykans geen rots vir beskutting nie, maar wel mildelik besmet met 250 jaar se skeeps rotte en seemeeu-blertse wat elke stukkie grou klip met wit gevlek het. Man was van vrou geskei, kinders van hul moeders en die eeue-oue kleur-taboe was daar op daardie plat stukkie grou klipplaat ook die geheime-hoof-heerser. Die wat daarheen verban was as gevolg van hul kwansuise kwaal, was ook die bouers van elke gebou, die wassers van elke vloer en die poleerders van elke stukkie blink metaal. Die aangehoudendes se wanhoop, pyn en sielsverlorenheid het ‘n eiesoortige grimmigheid aan die geboutjies van die verskillende melaatse kampe verleen, daardie soort grimmigheid wat ‘n mens net by daardie spesiale instalasies kry waar mense-siele teen hul wil aangehou word vir ongekende en onbeperkte tye. Dis asof wanhopigheid vermeng word in die sement wat die kille stene aanmekaar hou, een bo-op die ander soos dooies in ‘n ou-wêreldse begraafplaas wat deur melennia heen oor en oor gebruik is. Selfs die hek waardeur die All Saints Susters Ampie gelei het daardie eerste dag die Melaatse kamp in, het hy later uitgevind had ‘n spesiale naam; die Poort van Trane; so genoem want min wat daar deur die eiland binne gekom het, het dit ooit weer verlaat.  

Sommige dae daar in sy huisie in Bothasig het Oom Ampie gewonder of diegene wat in die vergete grafte op die eiland agter gebly het nie net dalk almeskie die gelukkiges was nie.  

Daardie eerste dag op Robbeneiland was seker die langste dag van Ampie se lewe. Maar eers het die boot geduik en geklim en deur branders geploeg totdat Ampie se maag gevoel het soos ‘n slop emmer in paw-paw tyd en hy seker was sy gesig was groener as ‘n fles ingelegte groen vye. Die semel pap wat sy Ma hom die oggend gegee het vir ontbyt het hy na die eerste twee myl uitgespoeg. Van daar af het sy leë maag sulke wrede sametrekkings gemaak om iets te probeer uitgooi wat daar nie was nie. Die aanhoudende geskree van die see voëls wat die boot gevolg het, het niks gehelp nie en die siek reuk van die diesel rook vermeng met die seewater was ‘n reuk wat Ampie in sy lewe nooit sou vergeet nie. Tot die boot aangeland het by die Melaatse kaai het Ampie soos ‘n bedremmelde nat hondjie op die dek gesit tussen die enkels van twee Susters en vasgeklou aan hul rokke asof hulle sy Ma s’n self was. By die kaai het hulle hom ferm opgetrek en teen die loopplank afgelei. Daar was geen stop totdat hulle die Matrone se kantoor bereik het waar sy naam in die Melaats register opgeskryf was nie en waar hy ‘n nommer uitgereik is nie. Nommer 2316. Leper Number 2316, was sy offisieële naam vir die volgende elf jaar. Die Dokter was ‘n Engelsman, Dokter White. Sy snor en bakkebaard was so groot dat dit bykans sy hele gesig verberg het. Niemand kon ooit seker wees of hy besig was om te glimlag of te frons nie en waneer hy gepraat het, was dit soos ‘n wollerige mol wat op ‘n bed lê en kriewel. Net sy kenne, al drie van hulle, was haarloos en het onder die snore en bakkebaard uitgehang soos ‘n pienk opgeswelde kalkoen lel. Die Dokter het Ampie poedelnakend laat uittrek agter ‘n verrinneweerde ou hout skermpie en hom toe van kop tot tone ge-inspekteer. By die stukkende plek op sy enkel het hy lank vertoef en die vel rondom die seer gevoel en gedruk asof dit ‘n oorryp mango was. Ampie het gewonder wat die Dokter so in sy dik boek geskryf het met sy fancy blink vulpen wat hy kort-kort in ‘n glas inkpot met ‘n silwer dekseltjie in gedoop het. Met Ampie het hy nie ‘n woord gepraat nie. Volgens Dokter White was almal wat nie Engels magtig was nie, ‘n imbesiel en Ampie kon ‘n mens van ver af sien was ‘n arm wit boere seun iewers van ‘n bankrot plaas af. Nadat Ampie weer aangetrek het, het die Susters hom gaan wys waar die badkamers was. Hy’t ‘n botteltjie skerp-ruikende brousel gekry om in die water te gooi en ‘n halfuur om homself goed daarmee te skrop. Die goed wat Ampie in die yskoue water moes gooi het elke skrapie en snytjie op sy lyf in ‘n wilde vuur verander en Ampie moes verskeie kere op sy tande byt om die trane terug te hou. Ampie het nooit kon dink dat hy so baie stukkende plekkies op sy lyf gehad het nie. Hy het elkeen goed bekyk en probeer onthou waar dit vandaan gekom het. Die een agter sy oor was toe hy en Faan ‘n paar dae tevore deur die draad geklim het opsoek na die verdomde bokram wat Ma daarop aangedring het om by die huis kamp aan te hou; die lange op sy linker arm was Faan se kleilat se ywerige punt; die vuurkol onder sy linker voet was waar hy in die lang doring getrap het wat van wie-weet-waar af gekom het en die skraap in sy nek was van toe hy en Faan die bobbejaan wat aan die paal vasgemaak is in die agterplaas geterg het met ‘n piesang en perongeluk te naby aan die gedierte gekom het. Elke brandende merk het hy probeer onthou want hy het geweet dat die plaas is ‘n plek wat hy vir ‘n lang tyd nie weer sal sien nie.  

Daardie aand het hy koud-koud onder ‘n stekelrige kombersie op ‘n klipharde dun matrassie sy trane probeer wegsteek te midde van twee-en-twintig ander jong seuns, elkeen ewe bang vir die dag-van-môre. 

Die volgende oggend het begin met ‘n gemurmer. Gedurende die nag is twee swart mans dood en teen sonop het al die inwoners van al die melaatse kampe op die eiland daarvan geweet. Die siekes was opgedeel eerstens volgens geslag en dan volgens ras. Die kamp opsigters het geen vermenging hoegenaamd onder die inwoners geduld nie. Mans en vrouens was vêr van mekaar geskei in onderskeie dele van die eiland, en dan was Wit, Swart, Kleuring en Indier ook van mekaar gesegregeer in aparte slaapkwartiere. Hierdie reëls het nie vir die verpleeg en ander hulp getel nie en anders as die siekes, kon hulle kom en gaan op die eiland soos hulle wil. Meeste van die staf was in elk geval vroulik en die versorgers was gewoonlik die enigste vroulike kontak wat baie van die manlike inwoners ooit gehad het. Die waentjie met die twee dooies op het van agter uit die kamp gekom, getrek deur twee swart inwoners. Die siekes sleep die dooies, het Ampie gedink toe die waantjie by hom verby gekom het. Sy Ma het altyd iets gesê van die sieke dra die gesonde, maar hier op die eiland was dit anders om.  

Hy en sy kamermaats het in ‘n lang ry buite die hulle slaap kamer gestaan besig om hul tande te borsel en te skeer by die was emmers wat buite teen die lang muur staangemaak was. Die water was yskoud maar die rilling wat teen Ampie se ruggraat afgeloop het was kouer. Die swart man se hand wat onder die vuil kombers uitgesteek het was die eerste dooie mens wat hy nog ooit in sy lewe gesien het. Van die ander seuns het ook groot-oog die waentjie agterna gestaar. Waneer is dit hulle beurt om so yskoud op die naat van hul rûe op daai waentjie te lê? Het hulle groot oë gevra. Maar van die ander het nie eens omgedraai nie; Hulle het net voortgegaan met hul daaglikse roetine. Gesig was, skeer, tande borsel; alles in dieselfde emmer. Dooies was al vir hulle al ‘n gereëlde gesig. Na die derde of vierde ene word mens afgestomp, het van die ouer seuns hom later vermakerig vertel.Maar Ampie kon die vrees in hulle oë sien waar dit van agter die vermakerigheid en die ongeërgdheid uitgeloer het. Nog ander het gegrinnik en mekaar in die ribbes gepomp en met hulle duime na die groot-oog nuwelinge gewys. Ampie het nie die brawade raakgesien wat oor hul gesigte geverf was soos wit-was nie. Hy het nie die smalende mondhoeke raakgesien nie en hy het ook nie die hinnikende laggies agter hul maer hande met die lang vuil vingernaels gehoor nie. Nee, Ampie se oë was vasgenael op sy eerste dooie mens. Die swart man wie se hand styf-styf onder die grou kombers uitgesteek het; die swart man wat die vorige aand nog warm was en asem gehaal het en nou stokstyf, yskoud en leweloos agter op die tjommelende waentjie lê. ‘n Yskoue vet slymerige wurm het stadig teen Ampie se ruggraat afgekriewel.  Dit het gevoel of die wurm binne in sy ruggraat was, besig om stadig weg te vreet aan sy murg. Ampie se oë was vasgenael op die waentjie. Hy kon hulle nie afhou van die stywe bondel mense-goed wat al skommelend by hom verby beweeg het nie. Die swart hand, die leweloosheid, die stilte. ‘n Gril het deur Ampie se hele lyf geskiet soos ‘n elektriese skok. Die’ het hom wakker geskud uit sy waas. Skielik het hy besef dat ‘n lighoofdigheid oor hom neer gesag het omdat hy besig was om sy asem op te hou. Met ‘n snik en ‘n ruk het hy ‘n vars asem teug ingesuig, sekondes voordat hy sou omkantel en die grond sou tref. Langs hom het ‘n paar seuns gegrinnik en hul maer, stokkerige vingers in sy rigting gewys. Toe skielik was die karretjie met die dooie mans op by hulle verby, uit by die kamp se hek, en af in die kronkellende kalk pad, oppad na die wit-gekalkte hospitaal geboutjie vir sy afskeid, waar Ampie die vorige dag sy eie ontvangs op Robbeneiland gehad het.  

Met die tyd saam sou Ampie nog baie van daardie bravade in die oë van die dood ervaar. Dood op Robbeneiland het deel geword van Ampie se daaglikse bestaan. Op die eiland was twee hekke. Die een waardeur jy gekom het waneer jy op die eiland aangekom het, die Poort van Trane. Die ander was die ingang na die begrafplaas wat half weggesteek gelê het tussen die bome en sand duine op die noordelike kant van die eiland. Hierdie een se naam was die Poort den Hemele. Vir baie van die inwoners van Robbeneiland was hierdie die enigste uitkoms, die enigste redding, die enigste weg af van die eiland af. Maar een somersdag, 4 jaar na Ampie deur die Poort van Trane gestap het, met ‘n Suster in wit en swart gewaad aan elke sy, het iemand anders daardeur gestap. Haar kordate stappie het aangedui dat sy alles behalwe ‘n pasient was en haar wit-gestyfde uniformpie wat haar fietse petite vyf-voet-vyf lyfie styf omvou het, het haar doel op die eiland weggegee. Sy was ‘n nuwe verpleegster en haar naam, sou Ampie later leer, was Anthea. 

Haar naam was ‘n Griekse afleiding van die woord vir Lente en haar aankoms op die eiland het beslis ‘n verandering in die seisoene aangebring. Tenspyte van die feit dat haar vel die soel kleur van’n Meditireense songodin was en haar hare styf teen haar kopvel getrek was en bedek met ‘n kopdoek, die tradisionele kenmerk van die destyds Kaapse kleurling vrou, het elke man wat haar gesien het se kop onwillekeurig opgeruk en hulle oë het haar met honger kyke agtervolg.  Suster Anthea het die wangbene van ‘n loopplank model gehad en ‘n neusie so fyn soos ‘n mossie se snawel; ‘n voorkop soos die van Neffertiti van ouds en vingers, lank en slank soos die van ‘n Wit, bruin, swart, geen man was imuun nie. Die seuns in Ampie se slaapkwartiere se gesigte het geblom van trots en onderdrukte glimlagte wat in hul oë geglinster het, toe hulle daardie selfde dag nog kort na middagete styf op aandag moes staan langs hul katels vir die Matrone en haar gevolg. Die Matrone was ‘n formidabele vrou, rou uit Engeland soos elke ander hooggeplaaste beampte op die eiland. Haar stywe gewaad was spier-spier wit en het haar liggaam van kop tot tone bedek. Die rok se kraag was toegeknoop met klein plat perel knopies tot onder haar ken. Die moue van die rok het styf om haar polse gespan en op elke mansjet was ‘n ry van dieselfde plat perel knopies, soos bliksoldaatjies in ‘n ry. Die klok van haar romp het so laag gehang dat dit op die grond geskuur het, so dat ‘n mens nie eens haar skoene kon sien nie en die romp was so styf dat dit soos een soliede stuk wit-gekalkte konkreet vorentoe beweeg het met elke treë wat sy gegee het. Op haar bors was ‘n allemintige groot bloed rooi kruis, die universele teken van haar professie. Aan die matrone se linkerkant het die Griekse godin met die soel vel geloop. Ruggie neffens so styf soos die van die matrone,  rompie ewe hard gestyf, wit skoentjies glimmend genoeg om jou seer oë te gee en wit kopdoek met ‘n gloeiende rooi kruis voor-op laag oor die voorkop getrek. Agter die twee het ‘n gevolg groot genoeg vir ‘n prinses se troue gestap, kompleet met ooreenstemmende wit gewaade en rooi kruise. Die Matrone, so groot soos ‘n Amasone, marsjeer deur die slaapsaal, ‘n netjiese ry katels elk met ‘n jong pasient laan die voetenent op aandag, aan elke kant. Aan die verste punt het sy tot stilstand gekom, ‘n oomblik gehuiwer en toe op haar hak omgedraai. Sy het deur die gevolg susters gedruk met Anthea aan die hand tot sy weer voor aan die bondel gestyfde wit gewaade gestaan het. Haar kille blik het oor die vertrek gevee soos die oë van ‘n luiperd uit die hoogte van ‘n kameeldoring boom. Elke oog in die vertrek was op haar vasgenael. 

Listen up!” Weergalm haar bulderende stem skielik deur die slaapsaal. “And listen well!” Als in Engels. Sy’t nie rerig nodig gehad om dit te sê nie, en almal hoef nie noodwendig Engels te geverstaan het nie. Enige iemand wat meer as ‘n dag op die eiland spandeer het, het geweet die Matrone praat net een keer met haar mond. Daarna met haar plathand of soms met die rottang in een van haar gevolg se hande. Maar met haar mond, net een keer. “This is Sister Anthea! She is joining us today and I have assigned her to your dormitory. She is to be the replacement of Sister Agnes, may God rest her soul.” Haar slang oë het gedartel oor die seuns voor haar, en elkeen ge-inspekteer vir ‘n sweempie van smalende humor. Maar die seuns se gesigte was stil, strak en uitdrukkingloos. “Give Sister Anthea the same respect as you did Sister Agnes and all will go well for you.” Net so vinnig soos sy daar in gestap het, het sy weer daar uitgestap, Suster Anthea en die gevolg agterna. 

Heelwat later, kort voor aandete het Suster Anthea haar verskyning gemaak. Die suens het net kort voor haar aankoms by hul kamer aangekom. Sommige was besig om nog op te was buite by die emmers koue water. Ander het op hul beddens gelê en rus, terwyl hulle wag vir ‘n opening by ‘n emmer. Ampie se bed was naaste aan die deur en hy het op die voetenend gesit. Die sweet het hom afgeloop en sy hemp was aan sy rug vasgeplak. Die dag se arbeid in die veld waar hulle die omgevalle bome opgesaag het vir vuurmaakhout was mergellend. Sy enkel het gebrand soos vuur waar die oop wond onder die vuil verband sy seer oog uitgesteek het. In die 4 jaar wat Ampie op die eiland was, was die wond op sy enkel al ‘n paar keer amper gesond. Maar net hy opgewonde raak daaroor en dit lyk of die stoere Dokter Green hom gaan huis toe stuur, dan wel die duiwel weer op en die ding verander oornag in ‘n kookpot van geel etter en rooi kwaad.  Na ete sou Suster Agnes dit beslis wou was in daai geel goeters wat so verskriklik brand. Ampie se maag het so gegrom aan die gedagte van aandete dat hy skoon vergeet het van Suster Agnes se afstorwe. Maandagaand. Vispastei. Hmmm.... Hier op die eiland was daar baie kere wat hulle mae so gegrom het. Kos was maar skraps en vir ‘n jong man van 19 jaar was dit totaal onvoldoende. Baie van die inwoners wat al jare lank op die eiland gewoon het, het hol wange en groot oë gehad en het vir Ampie gelyk soos fotos van die kindertjies uit die konsentrasie kampe van die Boere oorlog. Maar skielik het Ampie verstar daar waar hy op die punt van die bed gesit het, so asof hy ‘n spook gesien het. Skielik was alle gedagtes van kos uit sy kop. Sy jis het swaar gevoel asof vasgesement aan die bed en sy oë vasgegom aan die Engel voor hom. Sy het soos ‘n skim oor die vloer aangesweef gekom na hom, op teen die trappies en dan in by die deur. Soos ‘n Engel het sy die slaapsaal ingesweef. Haar arms was volgelaai met beddegoed, haar romp het skaars beweeg. Eers toe die Engel voor hom tot stilstand kom en sê, “Toe meneer, gaan jy my nie help nie?” skrik Ampie uit sy waas uit wakker en sien dat die Engel al die tyd Suster Anthea was.  

Ampie het van die bed af gespring, amper asof op aandag en stotter verwilderd, “Skies, skies Suster...” en sy hande uitgesteek om die beddegoed by haar te vat. Die brand in sy enkel was vir ‘n oomblik vergete en hy kon niks anders raaksien as net die skone waasbeeld voor hom nie. Die skone waasbeeld het terstond die hoop lakens in sy arms gegooi. Die hoop was so hoog dat hy haar nie meer kon sien nie.  

“Sit die daar op die kassie vir my.” Het Suster Anthea gesê.  

“Ja Suster, reg Suster...” Ampie het stywerig getrippel na die aangeduide kassie toe en die hoop lakens versigtig daarop neergesit. 

“Kom hierso,” het Suster Anthea gesê. Daar was ‘n bekommerde klank in haar stem wat Ampie oor sy skouer maak loer het. Toe sien hy waarna sy kyk. Sy blik het hare gevolg tot by sy enkel. “Kom sit hierso dat ek na daai ding kan kyk.” Het sy weer gesê, haar stem fermer. Ampie het gedwee terug na sy bed gestap. Skeilik was hy weer akuut bewus van die brandpyn in sy enkel. Hy het gaan sit op die bed se rand en sy voet opgelig sodat sy die wond kon inspekteer. Die verband was vuil en het los om sy enkel gesit. Stof en sand het in en om die wond gekoek en ‘n gelerige, septiese afskeiding het ui die wond gesypel. Versigtig het sy die verband los gewikkel en Ampie se skoen uitgetrek. Sy het oor gebuk en die wond goed bekyk. Haar kop was baie naby aan sy gesig. Sy het lekker geruik. “Wat is jou naam?” Het sy skielik gesê sonder om op te kyk.  

“A-Ampie, Suster.” Het hy saggies gesê. Haar nabyheid het sy keel toegetrek, soos wat nog baie kere in die toekoms sou gebeur.  

Dan kyk sy op. Haar oog het een van die ander seuns gevang wat aan die oorkant van die vertrek op sy bed gelê het. “Jy daar, langeraat!” Die seun het regop gespring. “Bring vir my ‘n kommetjie warm water en ‘n waslap! Gou-gou! Roer jou bene!” Haar stem was ferm, gesaghebbend, dog kalm en vriendelik terselfdertyd. Nietemin het Andries soos ‘n pyl uit ‘n boog uit die slaapsaal uit gevlieg om haar bevele te gehoorsaam, hy’t nie eens gevra waar nie. 

Haar geur het sy neusvleuels geprikkel soos nog niks ooit tevore nie. Onder die reuk van vars gestyfde linne en lyfseep was daar iets anders...iets wat Ampie nie regtig kon plaas nie, iets wat hy nog nooit te vore teë gekom het nie. Dit was amper soos sy Ma, maar tog ook baie anders. Amper soos die bos blomme wat sy tante eendag vir sy Ma met haar verjaardag op die plaas aangebring het, maar ook nie dielfde nie... Toe kyk Suster Anthea op. “Ampie, waneer laas is hierdie wond skoongemaak?” wou sy weet. 

“Vrydag Suster. Maar dit was heel naweek mooi skoon, ons was mos in die bos vandag.” Sy het Ampie vierkant in die oë gekyk. Sy was so naby, hy kon haar asem voel teen sy gesig. Haar oë was twee groot poele donkerbruin. Haar neusvleuels fyn afgewerkte kunswerkies en oor die brug vanhaar neus en oor haar wange kon hy duidelik onder die donkerte van haar vel, fyn sproetjies waarneem.  Van so naby af kon Ampie sien dat sy was nie veel ouer as hy self nie. Haar fiere houdinkie het haar jare veel meer gemaak as wat hulle rerig was. In die donkerbruin poele het meerminne verskyn, elkeen so mooi soos Suster Anthea en hulle het vir hom gewink, gewink om in te kom, om te kom verdrink in daardie heerlike koele poele.  

“Ampie?” Het suster Anthea van ver af gesê. “Ampie?” Ampie het stadig weer begin dryf na die oppervlak van die bruin poele toe hy haar stem hoor. “Ampie? Waarna staar jy?” Skielik skrik Ampie sy jis af. 

“Maar Suster het dan sproete, Suster!” Het hy uitgeblaker. Toe bars Suster Anthea uit van die lag. Sy het met haar hand op haar been geslaan en geskater soos sy lag. Die rokke was so styf, Ampie was bang sy breek haar hand. Hy was verstar en verbouereerd in sy verleentheid. Hoe kon hy so iets sê! Sy’s ‘n bruin vrou! Wat moet sy van hom dink! Toe Suster Anthea klaar gelag het buk sy oor na Ampie toe en geheimsinnig in sy oor gefluister 

“Dis oorlat my Pa wit is”. Terwyl Ampie se oë so groot soos pierings gegroei het, het Suster Anthea doodluiters aangegaan om sy wond skoon te maak. Sy het dit gewas met warm water en seep en dit toe droog gemaak met haar voorskoot. Van iewers uit ‘n sak tussen die stywe voue van haar rokke het sy  salf en ‘n nuwe verband uitgehaal en sy enkel netjies verbind. Al die tyd terwyl sy gewerk het, het sy met Ampie gesels. In Afrikaans! Dit was wonderlik vir Ampie om met iemand te kon gesels in Afrikaans; Iemand wat nie ‘n patient was soos hy nie; Iemand wat sopas aangeland het; Iemand wat die buite wêreld so onlangs as daardie oggend nog gesien het!  

Maar van die ander ouens in die kaserne het na hulle kant toe gegluur en onderlangs onder mekaar gemompel. Daar was duidelik diegene wat nie die geselsery wardeer het nie. Nadat die Suster weg was het Gert Slanggraat na Ampie se bed toe geslenter en gesê, “Hey! Wat klap jy so tanne met daai meid? He? Jy moet nie so met hulle soort gesels  nie, hulle word gou wit en dan dink hulle hulle’s jou maatjie!” 

“Voetsek Slanggraat! Dit het niks met jou uit te waai nie! Sy’t net my enkel verbind! Sy is ‘n Suster, jy weet!” Ampie het nie die skielike woede verstaan wat in sy bors opgewel het nie. Die skielike dringendheid om die Suster te verdedig het hom deurmekaar gelaat. Op ‘n ander tyd sou hy dalk saam gespot het, of net Gert se komentaar afgeskud het, maar nee, hy was briesend kwaad. Hy kon dit sien in Gert se houding, hoe sy oë verklein het, hoe hy effens, net effens terug gedeins het. Ampie kon slange vang...en waaroor? 

In die weke wat gevolg het, het Ampie baie van Suster Anthea gesein. Hy het inderdaad agtermiddae opgewonde uitgekyk vir haar wit gewaad  wat in die stofpad aankom met die hoop vars gestyfde linne. Nadat sy die beddegoed uitgedeel het, het sy na almal wat haar wou toelaat se wonde gekyk en die wat dit nodig gehad het skoongemaak en verbind. Ampie het altyd ‘n spesiale glimlaggie gekry, soms ‘n ekstra kussing en hy was al een met wie sy rerig gesels het.  

Een Woensdag middag het sy stip na Gerhardus Meyer se wond op sy knie gestaar en haar kop geskud. Die wond was groot en smetterig. Gerhardus was een van die groter lummels in die kaserne. Hy was altyd bakleierig en skoorsoekerig en van die ander het gesê hy was van ‘n weeshuis en sy ma het hom en sy tweeling sussie weggegooi toe hulle nog klein was. Sy tweeling sussie was bruin en hy was wit. Oor haar vel kleur, kon sy nie na dieselfde kinderhuis toe gaan as Gerhardus nie en as gevolg van die rasse segregasie wette het hy haar nooit weer gesien nie. Gerhardus het ‘n ongekende wrok in hom rondgedra en dit uitgehaal op enige iets wat nie wit was nie. Selfs ‘n swart hond moes uit sy pad uit bly.  

So toe Suster Anthea tsk, tsk met haar tong teen haar tande klap en vir Gerhardus sê, “Gerhardus, jy moet...” 

“Meneer Meyer!” het hy haar in die rede geval. Suster Anthea het ‘n oomblik stilgebly. Sy het nie opgekyk nie.  

“Meneer Meyer, ek stel voor dat jy Dokter White dringend gaan sien more oggend en nie gaan werk nie...” 

“Shaddap meid!” het Gerhardus kliphard geskeeu. “Daar’s niks fout met my knie nie! Wat weet jy! Jy’s g’n Dokter nie!” Die spoeg het wit gesit rondom sy lippe en sy oë het vuur geskiet. Suster Anthea se ruggie het soos ‘n stuk springstaal reggop geskiet. Sy het die ongemanierde Meyer stip in sy oë gekyk. 

Gerhardus Meyer!” en toe klap hy haar! Sy groot hand het haar hele gesig versteek en sy het soos ‘n sak mielies op die grond neergesak. Ampie het instinktief vorentoe gespring en geskree, “SusterAnthea!” van die ander het verskrik opgeky na wat die konsternasie oor gegaan het. Ander het gegrinnik en nog ander het hardop uitgebars van die lag oor Gerhardus Meyer die meid so mooi op haar plek gesit het. Toe Meyer sy voet agtertoe trek om haar in die maag te skop, tref Ampie se kop hom in die wind en hy het dubbel gevou soos ‘n moeë spons matras en het op sy rug op sy bed beland. Gebalde vuiste het deur die lug geswaai en Meyer se trawante het op Ampie toegesak soos ‘n trop hyenas. Tussend ie vuiste en die skoene wat opAmpie afgereën het, was harde woorde soos “Meide naaier!” en “Kaffer Boetie!”, maar deur die wit flitsende pyn het Ampie die skaars gehoor. Dit het ses groot mans, Dr White en die Superintendent gevat om die boosdoeners van Ampie af te trek. Teen daardie tyd was Ampie uit soos ‘n kers en sy gesig was net een bebloede massa opgekerfde vleis. 

Ampie was vir vier weke in die kamp hospitaal en op ‘n stadium wou Dr White hom Kaapstad toe laat verplaas toe hy gedink het die rib wat deur sy long gesteek het sou die oorsaak van sy dood wees. Maar die Superintendent het sy kop geskud en Dr White het geweet wat dit beteken. Nog een grafsteen meer of minder op die kaal sand vlakte van Robbeneiland sou nie ‘n verskil gemaak het nie. Maar Ampie het deurgetrek. So sterk soos ‘n Agtertangse van Helsdingen, het sy Ma altyd gesê. 

Die eerste dag terug in die kaserne het Ampie gretig gelê en wag vir Suster Anthea se koms, maar sy hoop was beskaam. In haar plek was ‘n wit suster wat nie haar naam gedeel het met die inwoners van Kaserne WJ6 nie. Sy het te vinnig geloop, die beddegoed te haastig neergesit, almal by die punt van hul beddens laat staan en elkeen se wonde kortliks bestudeer; en as sy vir jou ‘n geel slippie papier gegee het, dan het jy geweet om Dr White te gaan sien die volgende oggend. En sy het nooit ‘n woord gepraat nie. 

Gerhardus Meyer se been is bo die knie afgesit twee weke na die insident en hy was verskuif na ‘n ander kaserne waar hy blykbaar almal se lewens versuur het met stories van weerwraak teen die regering, teen sy Ma, teen Dr White, teen Ampie en teen die wit meid wat die oorsaak was dat hy sy been verloor het. Maar by weerwraak het Gerhardus nooit uitgekom nie. ‘n Ander (Engelse) booswig met net een arm van die Kaap het hom een Sondag oggend voor kerk met ‘n skerp gemaakte tafel mes dood gesteek oor ‘n koekie seep. Die’ booswig het Ampie net geken as Smiley en vir Smiley het hulle Breekwater toe verplaas na 6 weke in die kamp tronk en ‘n brief van Dr White om te sê hy was skoon. Daar het hy die watermeul getrap totdat hy eendag gegly en sy brandmaer lyf onderstebo in die wiel vasgesteek het, kop onder die water. Toe die bewaarders uiteindelik by hom kon uitkom en sy boeie afhaal, was hy reeds lankal verdrink. 

Ampie het vir Anthea vir amper ‘n jaar nie gesien nie. Telkemale het hy probeer om uit te vind waar sy was en op ‘n tyd het hy geglo sy was nie meer op die eiland nie. Maar hy het haar nooit vergeet nie en saans waneer hy sy oë toegemaak het om die Here te bedank vir die dag wat verby was, was haar gesig die laaste ding wat hy vor sy geestes oog gesien het. So groot was sy verbasing toe sy Engel in haar wit gewaad eendag nonchalant deur sy kaserne se deur gestap kom met ‘n arm vol wit gestyfde linne asof sy nooit weg was nie. Al wat Ampie kon doen was om na haar te staar met sy onderkaak ferm op die grond.  

“Toe Meneer? Gaan jy my nie help nie? Het sy gesê en breed vir hom geglimlag toe hy die hoop linne by haar vat. Behalwe vir Jopie Oberholzer heel onder in die kaserne, was hulle alleen.  

“Jissie! Jirretjie!” Was al wat Ampie kon uitkry vir ‘n wyle. “Waar kom jy vandaan? Ek dag jy is lankal weg van die Eiland af!” Hy was so oorstelpt om haar te sien dat hy moes homself bedwing om haar nie om die hals te val en styf vas te druk nie. “Ek dag jy’s ‘n spook!”Anthea het ‘n kyk van heimwee in haar oë gekry.  

“Ek was weg. Na daardie voorval met Gerhardus kon ek nie meer onder die wittes werk nie. Almal het geweet wie ek is en elke wit skobbejak wat ‘n held in Gerhadus gesien het wou my doodmaak. Ek het in die Kleurling blok gewerk. 

“En nou?” het Ampie gevra. 

“Nou?” Het sy terug gevra terwyl sy oor haar skouer na hom gekyk het, besig met die linne. “Nou is ek terug.” En dit was al. So het Anthea terug gekom in Ampie se lewe, die tweede keer, net so skielik soos die eerste keer en hy was bly. Daardie aand toe hy langs sy bed op sy knieë gegaan het, het hy baie saggies gebid en die Here bedank dat Hy sy Engel terug gestuur het. 

‘n Week later het Ampie ‘n klein opgevoude briefie in sy kussingsloop gekry. Die handskrif was fyn en netjies. Dit was van Anthea. Daardie aand na almal in die kaserne aan die slaap was, het hy uitgesluip na die vuurmaak hout stoor aan die anderkant van die parade grond en vir Anthea daar in die donker ontmoet. Daar in die donker het haar lippe soet geproe en haar lyf was sag en gewillig. In die donker was hulle asems ewe warm en in die donker kon ‘n mens nie die verskil in hul velkleur sien nie. In die donker, was hulle een kleur en later daardie aand, in die donker, was hulle een mens. 

 

Vyf jaar later toe maak die Staat vir Robben Eiland toe. Die besluit het skielik gekom. Daar was ‘n nuwe regering aan bewind. ‘n Resessie het gedreig om die wêreld in te sluk en geld vir liefdadigheids institute was skaarser as hoender tande. Skielik was die melaatse epidemie iets van die verlede en Ampie kon huis toe gaan. Maar daar was nie meer ‘n huis nie. Sy Ma was dood sy Pa was ‘n wrak, die droogte het die plaas gevat en sy sussie was klaarblyklik ‘n prostituut in Johannesburg. Ampie het in die Kaap gebly. Deels omdat hy nerens anders kon gaan nie want hy had geen geld nie en deels omdat hy naby Anthea wou wees. 

Maar in die Kaap was daar nie ‘n hout stoor nie. In die Kaap was daar baie, baie oë en wenkbroue wat hoog lig as ‘n wit man en ‘n bruin vrou  sou waag om saam te lag en te gesels. Op die Eiland het mense later gewoond geraak aan hulle, alhoewel hulle nooit hulle gevoelens vir mekaar in die openbaar gewys het nie. Maar daar was n vlak van tolleransie wat daar in die Kaap nie was nie. In die Kaap kon ‘n mens maklik in die tronk beland vir lag en gesels met die verkeerde mense en saam bly of trou met ‘n bruin vrou het Ampie baie gou besef is nie iets wat in sy leeftyd sou gebeur nie. 

Hy het by die Hoof Poskantoor werk gekry as ‘n karweider en heel dag trollies pos en pakkies rond gestoot van opgaar plek na sorteer plek en dan na aflewerings punte. Van die All Saints Susters het daar niks orgebly nie en Anthea was bruin; en bruin vrouens kon nie susters wees nie. So sy het by ‘n vis en tjips stalletjie op Kerk Plein gewerk. Elke middag ete was hy by haar stalletjie vir ‘n sikspens se vis en tjips. Sommige dae het sy gespot en gesê dalk moet sy ‘n ander stalletjie soek om by te werk voor hy skubbe groei. Maar sommige ander dae kon hulle skaars vir mekaar kyk, te bang die verkeerde mense kry die verkeerde gedagtes.  Op daardie dae moes sy maar sê, Ja Baas en Dankie Baas waneer hy sy sikspens oorhandig.   

Saans het hy terug gekeer na die kamertjie wat hy by die Royal gehuur het en sy het die lang pad teen die berg op Distrik Ses se kant toe gestap na die kamertjie wat sy met haar Ma, twee tantes en drie susters gedeel het. Soms het hulle ‘n alleen plekkie op Kerk Plein se ring muur gesoek en so ‘n meter of so van mekaar af gesit met hul rue na mekaar en hul vis en tjips geëet. So kon hulle gesels sonder dat dit lyk of hulle met mekaar gesels. Daar op die ringmuur het hulle gedroom van ‘n beter wêreld waar hulle saam kon loop hand aan hand met hulle voete in die seewater op ‘n Sondag agtermiddag op Blouberg se strand. Daar het hulle gedroom van hul eie huisie iewers met ‘n stukkie agterplaas waar kinders kon speel. Daar het hulle gedroom van ‘n land waar alle mense saam kon lag en gesels, ongeag die kleur van jou vel.  

Ampie het vir ses jaar gespaar voor hy vir “hulle” ‘n huisie kon koop. Dit was klein; piepklein en in 1955 was dit al oud. Maar tenminste was dit ‘n plekkie waar hulle kon saam wees, vir oomblikke kon gesels asof dit net hulle op die planeet was en waar hulle aan mekaar kon vat. Die vattery was aan die begin maar skamerig want baie water het in die see geloop sedert die gesteelde oomblikke in die hout stoor op Robben Eiland. Eers was sy skaam, toe was hy skaam. Toe een middag toe trek sy die gordyne styf toe, sit die ligte af en trek die slaapkamer se deur toe. Hy het selfbewus die deken op die bed met sy hande gestryk en die kussings op gepof. Toe hy omdraai was sy naak, soos die dag toe sy gebore was. En so het Anthea weer die leiding geneem en die vonk terug gesit in hul verhouding; die onwettige verhouding wat beide van hulle in die tronk kon beland. 

Anthea het vir hom gewerk as huis bediende vir 20 jaar. Aan die begin moes sy nog werk by die vis en tjips stalletjie en later by Woolworths as ‘n rak pakker en het op haar af dae ingekom, want Ampie kon nie beskostig om albei van hulle te onderhou nie. Op daardie dae was daar die uur of so vandat Ampie by die huis kom en sy moet huis toe gaan wat hulle saam kon spandeer.  Maar in 1960 toe verloor hy sy voet, die einste voet wat Anthea so liefderik versorg het op Robben Eiland in ‘n swaer masjienerie ongeluk by die Ford fabriek waar hy gewerk het in Philippi. Met die uitbetaling kon hy die huisie afbetaal en die ongeskiktheids pensioen daarna was genoeg om hom te onderhou en vir Anthea ‘n voltydse salaris te besorg. Dit was ‘n heugelike dag toe sy haar voorskoot in die Kaapse tak van Woolworths ophang vir altyd en ‘n blink nuwe voorskoot oor haar kop trek in haar ne Ampie se huisie. Dit was so ‘n spier witte met royal blou paisley patrone. Ampie het dit vir haar gekoop by Ackermans, waar al die ryk anties koop, het hy gesê. Maar elke aand, voor die son sak, moes Anthea haar voorskoot ophang aan die hak agter die kombuis deur, haar handsakkie vat en die pad aandurf Parow stasie toe. “Het jy jou ID? Ligloop vir die polisie vannaand,” het Ampie soms gemaan. “Onthou, loop aan die oorkant van die straat en hou jou kop af.” Dit was vreugde jare daardie. 

In 1966 is Distrik Ses as Wit verklaar en in 1968 is Anthea en haar familie sak en pak verplaas na ‘n Council Flat op die Kaapse Vlakte. Die Vlakte was ‘n troostelose plek. Vuil-wit sand vlaktes besaai met Port Jackson bossies wat se houtjies yl hitte verskaf het teen die bittere koue Suid-ooster. Die grou beton woonstel blokke was niks meer as rye en rye kamers wat bo-op mekaar gestapel was soos leë karton bokse nie; oorvol gestop met verlore siele wat snags in die donker moes lê en luister na die angs gille van diegene wat deur die skollies en tsotsies buite aangerand word. Die Vlakte het ‘n hool geword. Die wat nie gesterf het aan kinkhoes en tering nie, was deur die tien talle bendes afgemaai. Ampie het hom dood bekommer elke aand waneer Anthea moes huis toe gaan en in vrees gelewe totdat sy weer haar verskeining gemaak het die volgende oggend.  

Vir Ampie en Anthea het die tyd nie stilgestaan nie en die rou passie in hul verhouding het gewaan soos tyd sy verloop geneem het, maar hul liefde het net sterker geword met elke meulsteun wat die lewe hulle kant toe geslinger het. Soggens kon hulle vir ure lank in die sitkamertjie sit, met die gordyne styf toegtrek en die voor en agterdeure veilig gesluit, elk met ‘n stomende koppie soet rooibos tee soos net Anthea dit kon maak.  Dan het hulle gesels oor die vorige aand se gebeurtenisse op die Vlakte. Soms het hulle stories op die radio geluister en soms het hulle nog geglimlag oor kindertjies in die agterplaas, maar hulle het geweet daarvoor was hulle tyd verby. Die land van hulle was nou een maal maar wat dit was en vir hulle was daar geen salf aan te smeer nie. Die agterplaas sou leeg bly. Die gras netjies gesny, maar leeg so Anthea se moederskoot tot die dag van haar dood. Vir 20 jaar het Anthea vir Ampie gewerk as huis hulp en verpleegster tot op daardie winters oggend in 1974 toe Ampie kom kyk hoekom sy so vreeslik hoes en hy die bloed op haar lippe sien daar waar sy oor die kombuis wasbak gebuk het. Sy oë het vol trane geskiet asof hy geweet het wat dit beteken. Hy het die vadoek gevat en haar lippe afgevee. Toe het hy haar in sy arms geneem en sy het met haar kop teen sy skouer geleun. Daardie aand het hy haar nie laat huis toe gaan nie. Hy het die land en sy wette vervloek en haar in hul bed toegemaak met die ekstra gehekelde kombers wat sy 5 jaar tevore vor hom as Kers geskenk gegee het. Vir vier dae het hy haar versorg voor hy die ambulans gebel het om haar te kom haal.  

“Dis tering.” Is al wat die dokter gesê het. Ampie het in die stilte van sy eie huisie hard gepraat. Hard gevloek. Die Regering, die President, vir God. Hy was kwaad vir almal en alles maar meestal vir homself om dat hy haar daar op die Kaapse Vlakte laat bly het in die misrabele siekte-besmette, vreemde, koue hel. Dae het hy omgesit langs haar hospitaal bed. Die laaste ding waaroor hy hom bekommer het was wat ander sou dink van ‘n wit man langs ‘n bruin vrou se bed. Waneer sy by was en hom kon herken, het sy vir hom geglimlag, en hy kon sien in haar oë sy was dankbaar omdat hy haar nie verlaat het in haar uur van nood nie. Op haar laaste dag het sy vir hom gesê, “Ampie, moenie huil nie, ek gaan wag vir jou. Ek gaan vir ons ‘n plekkie maak in God se Koningkryk. Hy sal nie omgee nie.” ‘n Hewige hoesbui het bloed spatsels oor haar ken gelos wat hy saggies afgevee het met ‘n koel lappie. “Ampie, jy sal sien, eendag sal swart en wit, bruin en geel, almal soos een man staan in hierdie mooie land van ons. Eendag sal die Here oorwin en die duiwel sal sy houvas op ons land verloor en daardie dag sal almal soos die kleure van die reënboog skouer aan skouer staan en die nuwe volkslied sing en ‘n nuwe vlag waai! Ampie! Jy sal sien!” 

Ampie het Anthea se as met sy trane gemeng en dit oor die see uitgestrooi op Blouberg Strand. Daarna het hy vir ‘n lang ruk oor die see uitgestaar na die eiland wat hulle bymekaar gebring het en hy het God omverskoning gevra oor hy hom so gevloek het en hy het Hom bedank vi daai seerplek op sy enkel wat hom Robben Eiland toe gevat het en dat hy Anthea oor sy pad gebring het 

Nog twintig alleen-jare in daardie huisie in Parow sou verby gaan voor Ampie die Reënboog land waarvan Anthea gepraat het,  sou sien; en nog twintig jaar sou verbygaan voor die dag wat Ampie die ou huisie se voordeur vir die laaste keer sou toesluit en op die stoep sou sit en wag met ‘n laaste koppietjie soet rooibos tee en wag vir die bus. 

Toe Oom Ampie die bus hoor die draai vat daar onder in sy straat, toe sit hy die koppietjie versigtig neer op die bankie, staan suutjies op en stap by die trappetjies af met sy klein leer koffertjie in sy hand. By die voorhekkie streel hy die rosies saggies en voel die satyn-sagtheid van hul blaartjies onder sy vingers. So sag soos Anthea se vel in die holte van haar rug na ‘n warm bad op ‘n soel somers aand, onthou hy. Hy draai om, om ‘n laaste keer na sy en Anthea se huisie te kyk. Hy verbeel hom hy sien haar in die voordeur staan, daardie pragtige glimlag van haar op haar gesig, en sy waai vir hom, so asof hy werk toe gaan en sy by die huis bly. Oom Ampie waai vir haar terug, dan draai hy om en maak die knippie van die tuin hekkie los en stap deur vir ‘n laaste keer.

f t g