Copyright 2017 -

Sy was ‘n lelike blêrrie ding. Sy had ‘n neus so krom, die snot drup in haar mond met ‘n moesie daarop so groot soos ‘n bosluis op ‘n Albertinia-skaap se uier. Daar het hare uitgegroei, langer as dié in James Small se kieliebakke en haar ken was so skerp soos ‘n pofadder se agterend. Haar lippe was so dun soos ‘n vlentergat se skoenveters en deur hul gleuf het drie geel tande vir jou geloer soos my ouma se ou telefoon nommer op Rooi Els – twee kortes en ‘n lange. Sy was krommer as ‘n verlepte komkommer, meer benerig as ‘n kameelgeraamte, meer onheilig as ‘n Kaapse biskop en sy’t gestink, erger as ‘n pisbossie op ‘n koue Karoo oggend op die van Rijn’svallei-vlakte. Die eelte op haar vingers was soos knope in ‘n tou en haar vingernaels was vlymskerp, geel en giftig.

Niemand het geweet waar sy vandaan gekom het nie, of hoe oud sy was nie.  Sy was net altyd daar.  Sommige het bespiegel sy was die vrou van ‘n Kaapse heer wat lank gelede gatvol geraak het vir haar dinge en geite en haar daar afgegooi het oppad terug van ‘n belangrike jaarvergadering in Johannesburg.  Ander sê weer sy kom uit die Noordpool en is dieselfde heks wat Scott se skip in die ys vas getoor het. Nog andere reken hoogdrawend dat sy is beslis ‘n arbitrêre oorblyfsel van die Steen-tydperk, ‘n intelligensie wat agtergebly het nadat die res van haar soort uitgesterf het. Ander weer het geglo sy was die spook van ‘n non van die ou Hepzibah sendelinge wat hulle daar in 1814 gevestig het. Hoe dit ook al sy, sy was ‘n enema.

Die storie was dat vir dekades lank, het sy die kinders van Colesberg gesteel en geëet, gestop, gestoom en gebraai. So het diegene gesê wat oorblyfsels van haar gruweldade in die heuwels rondom Colesberg gekry het. Huis en haard het sy nie gehad nie. Sy’t net altyd verdwyn in die heuwels en die dorpenaars het gereken sy bly iewers in ‘n grot of ‘n gat onder die grond, die ponder Towerberg.  Daar was al verkeie jagpartye in die verlede uitgestuur, om haar lê-plek uit te snuffel en die ou heks van kant te maak, maar niemand kon ooit enige tekens kry van waar sy wegkruip nie. Die skoolhoof het gesê sy bly in ‘n ander realm. Die dominee het gesê sy bly in die dieptes van die Hel en die ou by die garage het gesê hy gee nie ‘n duit om nie, solank sy net sy kinders uitlos.  Hy’t hulle nodig vir petrol pomp en parte was.

Nee, niemand het geweet waar die ou uitvaagsel haar nes gemaak het nie, maar wat wel ‘n feit was, is dat kinders het verdwyn, en die grootmense wat haar pad gekruis het, het sleg daarvan afgekom. Sy wou hulle klaarblyklik nie eet nie, seker te seningrig of te stowwerig. Sommige het waansinnig van vrees geraak en in die malhuis beland of in ‘n toestand verval soortgelyk aan bomskok, wat veroorsaak het dat hulle nooit weer hul huis verlaat en koes-koes by die venster uitgeloer het wanneer die familielede besluit dit is tyd dat hulle ‘n slaggie die buitewêreld sien of hulle het net eenvoudig spoorloos verdwyn.

Die eerste keer toe ek haar gesien het, was in ‘n droom.  Ek sê jou, dit was weird en scary.  Ek was nie eens in Colesberg nie! Ek was in my bed agter in my pa-hulle se karavaan, in ‘n oornag-kamp net buite Beaufort-Wes, oppad na Die Eiland vir ‘n Junie skool-vakansie. Sy het my letterlik die rillings gegee.  Met middagete het die hare op my lyf nog penorent gestaan en die geringste skaduwee het my laat spring soos ‘n bokkapater wat weet hy soek niks in die antie se groentetuin nie. Ek was maar net tien.  Die volgende aand het ek weer van haar gedroom.  In my droom het sy krom-krom en waggel-waggel, maar met mening in haar stap ‘n bult uitgeklim. Dit was ‘n styl bult, die voete van ‘n klein bergie met ‘n plat kop, amper soos Tafelberg.  Oor haar skouer was ‘n goiingsak en in daai sak het iets gewriemel. Dit was iets so groot soos ‘n kind.  Dan kom sy tot stilstand en loer oor haar skouer voor sy agter ‘n groot klip verdwyn. Sekondes later weergalm ‘n roerende, vreesbevange kreet deur die koppies wat uitgerek lê oor ‘n dorre vlakte….

So het dit aangegaan die hele vakansie deur.  Elke nag, dieselfde droom.  Ek het dit naderhand so goed geken., Ek kon die ou teef amper met die hand groet. Ten spyte van die feit dat ek die droom verwag het elke aand as ek my kop op die kussing neerlê, het sy my nog steeds die rillings gegee.  Ek het gewonder hoekom droom ek van haar.  Inteendeel, ek het nie eens geweet wie sy was, voordat ek nie my pa van my drome vertel het nie.  Hy tel my toe op sy skoot en druk my kop teen sy bors vas en sê,

“Lin, wie’t jou die storie vertel van die heks van Colesberg?”.

Die heks van Colesberg?” wou ek vraend weet.  “Ek het nog nooit van haar gehoor nie?”  Pa het sy agterkop gekrap en sy klein mondjie op ‘n plooi getrek.

“Hmm.” sê hy toe. “Dit klink vir my wraggies  of jy van die ou duiwelskind droom.” Sy oë was op skrefies getrek en die plooie op sy voorkop het die hare van sy kuif  rondgestoot.  “Hmm.” sê hy weer, “Sy is ‘n ou legende in die Colesberg omgewing.  Ek dink nie enige iemand het haar al rêrig gesien nie, maar almal daarso glo blykbaar dat sy wel bestaan.” Hy’t sy boud in ‘n meer gemaklike posisie ingeskuif en die ou kampstoel se seil het voorbodig gekraak.  Hulle sê sy steel al vir jare lank kinders in die omgewing en eet hulle op.” My ore skiet toe penorent.

“Maar dis dan waarvan ek droom!  Sy loop met die wriemelende sak die koppies in en dan daai onaardse gil wat deur die lug skeur…”

“Nou dis hoekom ek sê, iemand moes jou die storie vertel het, anders hoe sal jy daarvan droom? Dalk onthou jy net nie…” Hy sit skielik regop. “Was dit nou weer daai onnutsige broer van jou? Jou ma het hoeka so baie probleme met hom deesdae.  Te groot vir sy skoene…”  Ek het nie geweet hoekom hulle dan nie maar net vir hom groter skoene koop nie, maar ek was seker hy’t my nog nooit ‘n storie van ‘n heks vertel wat kinders eet nie.  Ek sou reguit na my ma toe gehardloop het as hy dit sou durf waag!

Nee, ek kan nie onthou nie, pappa. Waar is Colesberg?”

“Colesberg?” herhaal hy my vraag.  “Colesberg lê in die Karoo, my kind. So skuins duskant Niks oppad na Nêrens. Ons gaan hoeka daar oorbly vir ‘n aand oppad terug huis toe en dan sal jy self sien of Towerberg die een in jou droom is of nie.” Pa vat so ‘n slukkie uit sy wynglas en sê:  “Skies my Frans, maar op tien het die woord oor my kop gegaan; my gedagtes was op ‘n ander plek – ‘n plat koppie op ‘n Karoo vlakte met niks anders in sig behalwe skaapwolletjies wat lui-lui waai van elke bossie en merino mis by die kruiwa vol.  ‘n Heks, met ‘n sak oor haar skouer, ‘n sak wat wriemel en kreun,  Ja, ek kan hoor hoe dit kreun en snik, roep na sy ma wat ver daarvandaan op ‘n agterstoep staan en roep vir Pietjan om tog nou in te kom, want dit raak donker en sy pa is nou-nou by die huis”.

“Vertel my die storie, pappa, toe?”  vra ek op my mooiste.

Hy sug toe en ek weet, hier kom die storie. “Wel, hou vas, Lin, sy’s ‘n lelike entjie-mens!” en toe vertel hy my van hoe sy gelyk het. Waar die mense reken sy vandaan gekom het. Wat sy alles aangevang het en hoe sy al ses die burgemeester se kinders gesteel het tydens die Groot Depressie (alhoewel almal in die dorp dink dat sy vrou iets daarmee te doen gehad het). Na die derde glasie wyn het hy my vertel hoe sy van haar vleisies gehou het. Wat sy gebruik het vir tandestokkies, tot hoe haar asem gestink het.  Dit was my ma wat tot my redding gekom het, want teen daardie tyd het al my hare penorent gestaan. 

“Ag nee man Skollie Man, watse stories vertel jy nou weer vir die kind!” My pa het vinnig die wynglasie probeer wegsteek onder die stoel, maar ma het dit klaar gesien. Sonder ‘n woord maar met ‘n vies uitdrukking op haar gesig het sy die glasie gegryp en dit in die lang gras uitgegooi.  “Die kind sal vanaand nooit geslaap kry nie!” Ja nee, my pa kon ‘n storie vertel, as hy die dag lus was!  “Kom Lin, ons stap gou kafee toe vir melk, anders is daar nie môre-oggend melk vir pap nie. En jy los daai wynsak uit, Skollie! Jy’t nou genoeg gehad! Jy maak nou weer ‘n blêrrie gewoonte daarvan!”

Met dié, storm sy toe daar weg in die rigting van die kafee met my aan die hand.  My pa het nog agterna geroep: “Bring vir my ‘n pakkie sigarette saam!” Maar ek dink nie sy het hom gehoor nie, want by die kafee het die pakkie Ransom bly lê in die houtrakkie agter die toonbank saam met sy maatjies.

Daardie aand het ek gedink ek gaan nog ‘n kloooomp goed by droom, na my pa se vertellinge, maar nee, net weer dieselfde droom.  Die volgende dag het ek die hele dag loop en wonder oor wat die droom kon beteken. Ek het gaan swem en gedink dat die waterwurm iets in my sal losskud en my die antwoord gee, maar nee, dit was ‘n ander soort skud daardie dag wat my die lig laat sien het!

Die Eiland is ‘n warmwater vakansie-oord in die ou Oos-Transvaal naby Tzaneen, in die hartjie van avokado-en-piesang-land.  Kapenaars en dies meer stroom elke jaar in Junie-maand soontoe wanneer die see te koud is om in te swem. Hulle slaan kamp op tussen denne- en bloekombome,  Sommige in karavane, ander in tente en die “fancy” mense in bungalows. Ons was natuurlik karavaners in murg en been. Ten spyte van die feit dat my ma, my pa, gedurig uitgejou het oor sy boksie wyn, kon hy darem ‘n venynige kamp opslaan kompleet met kombuis, spens, klein huisie en hy kon braai!  Vis, vark tjoppie, skaap tjoppie, ribbetjie en boerewors en dan Desember-maande by die see was dit kreef, perlemoen en   arikreukel-in-die-blik. Mensig, ons kon eet!

Anyway, as ‘n familie bestemming, het Die Eiland allerhande dinge gedoen om die kinders mee besig te hou, terwyl die ouers luier en luier word soos die warm dae verby drentel en solank die warm water bly spuit uit die Oog uit. Die Eiland het ook ‘n span perde gehad wat ons kinders kon ry vir ‘n rand vir ‘n half-uur.  Die perde was eintlik ‘n klomp lamsak merries met litte so los dat dit gevoel het hulle gaan uitmekaar val met elk moeë treë. Hulle het al in die rondte deur die bloekombos geloop op ‘n uitgetrapte paadjie wat randjie op en randjie af gedrentel het soos ‘n lam haas op ‘n agtermiddag uitstappie. Daai middag in my vervelendheid terwyl my ma en pa met hul kamp-maats in die Oog kuier – dis nou die warmste bad in die kamp, waar geen kinders toegelaat word nie. Ek het ‘n rand uit my ma se beursie gevat om ‘n perd te gaan ry.  Ek kry toe vir Bella – so ‘n vaalbruin merrie met droopy oë wat op die grond hang. Ek kon sien die laaste ding waarvoor sy lus was, was die laaste stappie van die middag deur die bloekombos voor sy kon teruggaan na haar lekker koel stal . Ek onthou, toe ek haar so kyk en die booi my agter op haar rug help, het ek gedink:  “Gaan vlieg jy ou Bella, ek het my rand betaal en loop sal jy loop!”

Ou Bella het so stadig as wat sy kon uit die kampie gestap, haar benerige boude het geklap met elke tree en ek was half vieserig vir die saltpeter deurdrenkte hare van haar flanke wat teen my kuite geskuur het.  Randjie op en randjie af, het sy geloop en ek het maar saam met die ritme gewieg en gedink aan daai dêm heks van Colesberg. Waar het sy vandaan gekom?  Hoe het sy in my droom beland? Bestaan sy regtig?  Eet sy regtig kinders? Wat beteken dit alles? Ek sluimer-sluimer nog so op ou Bella se rug in die koeltes van die bloekombome, toe sy skielik ‘n by in haar gat kry en op ‘n hopperige drafstappie gaan.  Ek voel die saal sit los en ek gly so effens skuins in die saal.  Vinnig kry ek weer my balans, net so voor Bella op ‘n stewige gallop die laaste honderd meter terug na die kampie toe aanpak.  Die ou lamgat merrie het natuurlik besef die rit staan einde se kant toe en sy kon seker die vars hooi in die stalle ruik.  My hoed het iewers in die laaste stretch afgeval, maar ek het dit nie agtergekom nie. So vreeslik moes ek klou om bo te bly. Toe sien ek die ander ryers op hulle lam ponies.  Ou Bella was besig om hulle een-vir-een verby te steek en soos sy by hulle verby dryf, so gaan hulle ook aan die gallop – soos ‘n span skape, sê ek jou. Tien of te not, afval voor al die ander ryers wou ek darem nou ook nie. Ek sou nooit weer my gesig kon wys by die stalle, as dit gebeur het nie! Teen die tyd dat ou Bella die stalle kon sien, was sy op ‘n amper voluit gallop en dit was net klippe en stof wat spat waar jy kyk soos sy hardloop.  Van iewers af het ek ‘n begeestering gekry.  Dalk was dit die skree-ery van die ander rondom my.  Toe Bella by die kraaltjie in storm, staan ek regop in die stiebeuels en trek aan die leisels soos ‘n wafferse jokkie! Die boois in die kraaltjie se oë was wit van die skrik en hulle het hulle hoedens gewaai om ou Bella te oorreed om tot stilstand te kom.  Ek het teruggeleun in die saal en my bene styfgeskop om nie vooroor te val nie en toe spring ou Bella op haar agterbene, kop in die lug! Sy is dié moer in.  Seker oor die stang wat in haar verhemelte inboor! Ek kon voel hoe ek agteroor kantel en ek kon al sien hoe land ek in die stof, maar op een of ander wonderbaarlike manier kry ek die saal vasgegryp met my los hand en klou soos ‘n duiweltjie aan ‘n wolkombers…of so iets…

Toe ek uiteindelik tot verhaal kom, toe sit ek nog op Bella se rug, verward, maar lewendig en al die boois in die kraal en van die ander ryers staan rond. Hulle fluit en klap vir my hande.  Een ou skree, “Maggies, niggie, jy ry daai merrie soos ‘n propperse Knight van die Round Table!” en toe weet ek hoekom die heks my pla. Toe weet ek wat die drome beteken! Ek was ‘n ridder!.  Nie enige ridder nie. Dié ridder wat gestuur is om Colesberg van hul heks te verlos.  Ek was gekies om die ou draak van kant te maak en eensklaps net daar op ou Bella se rug, het ek geweet hoe ek dit gaan doen ook!

            Daardie nag kon ek nie wag om te gaan slaap nie.  Ek wou met mening mooi kyk waar daai flerrie haar nesskop. Waar sy daai goiingsak met die kriewelende bondel in toe dra, sodat ek kon weet waar om haar raak te loop. O jissie, ek was reg vir haar!

***************************

            Dit was twee weke na daai middag van my ridderlike rit op ou Bella se benerige rug, dat die langste skoolvakansie nog ooit in my lewe op Die Eiland tot ‘n einde gekom het.  Die karavaan was gepak en die padkos was veilig op die agtersitplek. Ma was vasgegordel en pa het nog die laaste checks op die karavaan se Snowsway gedoen voor hy homself vir die lang pad huis toe agter die stuur van die geel strykyster ingeskuif het.  Ons het stadig, te stadig die paadjie deur die kamp gevat en vir almal langs die pad gegroet.  Meeste ander mense was in elk geval ook of op pad of besig om kamp af te breek.  Almal behalwe ou oom en tannie Verster van Witbank – hulle het klaarblyklik geboek tot einde Augustus.  So ver ek verstaan het, het hulle geen kind of kraai gehad nie en Witbank was seker nie so ‘n lekker plek om na toe terug te gaan nie. Dit het soos ‘n ewigheid gevoel voordat ons die teerpad bereik en die snelweg suid onderdeur die ou strykyster se wiele begin rol..

            Die eerste aand het ons skuins duskant Pretoria in ‘n kampeerplek geslaap.  Ek was so eager om in Colesberg te kom, dat ek nie eens meer die naam kan onthou nie.  Die volgende oggend dou voor dag was ek op, gestort, tande geborsel en reg om te ry.  My ma het gevra of ek dan siek is, maar ek het net gesê ek het genoeg geslaap en wanneer gaan ons ry? “Nie nou nie,” het my ma gesê. “Ou Haile Selassie slaap nog,” beduie sy in my pa se rigting waar hy nog in die bed gelê het en gewens het ons wou hom uitlos sodat hy nog net so ‘n klein rukkie kon slaap. Slaap was vir ‘n ander dag en ek het viervoet bo-op hom gespring en hom begin kielie. Hy’t gemaak of hy snork en net dieper onder die komberse ingewriemel. Ma se tong en die geur van spek en eiers het hom darem ‘n half-uur later uit die bed gekry en teen agt-uur was ons in die pad.  Dit was ‘n lang en reguit pad Colesberg toe.

            Dit was al laat middag en ek was al doodmoeg van Karoo skape tel. Pa het die stories van Klaas Deswind, Van Hunks en die Duiwel, die Drie Susters en die Spook van Uniondale seker al elkeen vier keer vertel voor die geheimsinnige Towerberg sy verskyning op die horison gemaak het. Nou daai is ‘n snaakse bergie daardie.  Jy sien hom al van ver af en soos jy nader kom, skuif hy verder van jou af weg. Dit lyk of jy nooit nader kom as wat jy reeds is nie.  Dis asof hy jou op ‘n afstand hou, so asof hy wil sê,: “Bly weg, jy is nie welkom nie. My geheim is my geheim…” As hy maar net geweet het dat ek was van plan om hom oop te vlek en sy geheim te ontbloot en daai heks aan haar einde te bring. Verlossing vir Colesberg vir altyd!

Ek het nie regtig verstaan hoekom ek so passievol gevoel het oor my geheime missie nie.  Dalk was dit die drome. Dalk die gedagte aan al die arme kindertjies wat so deur die jare opgeëet was. Dalk daai epiese rit op ou Bella. Dalk my ma se ge-orrel-spelery in die kerk, maar onthou ek was tien.  Ek was onverskrokke en ek het net geweet dat ek kon nie verloor nie. Ek het niemand daarvan vertel nie, nie eens vir pa nie.  Niemand sou my geglo het nie en ek het nie gedink dat dit ‘n goeie ding was dat ‘n ridder van die Ronde Tafel uitgelag word nie. Nee, hierdie missie was net myne en ek sou dit alleen moes doen.  My planne was agtermekaar.

Dit was Saterdag-agtermiddag. Die hoofstraat was stil en verlate. Net ‘n dronk booi of twee hier en ‘n verlore brandsiek hond wat rondslenter, met vaal oë en ‘n tong wat uit die kant van sy bek uithang in die stowwerigheid.  Die uithangbordjies het alles ge-adverteer van Karoo lam (sug) tot Backpackers akkommodasie. ‘n Donker-rooi Nissan bakkie met ‘n gekrapte wit kappie voor die enigste oop kafee was die enigste kar in die pad.  Aan die einde van die dorp draai my pa die strykyster regs-op in ‘n stof paadjie en ‘n paar minute later verskyn ‘n wit prefab geboutjie onder die enigste boom hoër as ‘n meter op die horison.  Toe ons nader kom, sien ek ‘n paar karavane wat in die stof staan. Elkeen in ‘n vierkant, mooi netjies afgebaken met wit klippe.  Hier is waar ons die nag gaan spandeer.

“Vanaand gaan jy sien hoe baie sterretjies daar regtig in die lug is, Lin. In die stad sien ons nie ‘n tiende van wat regtig daar buite in die hemelruim is nie. Hier in die Karoo waar daar nie ligte is nie, sien jy hulle op hulle beste!” het pa my ingelig.

“Ek dink dis nog volmaan ook,” sê ma. “Kom Skollie, laat ons afhaak en regmaak. Ek moet nog ‘n telefoonhokkie gaan soek in die dorp.  Ek beter vir Boeta bel en hom laat weet ons is oppad sodat hy die huis kan regtrek.  Hy en daai Johnny het die plek seker teen die tyd al blou gerook!”

“Ja skat,” is al wat pa kon uitkry terwyl hy agter die Citroën se stuurwiel uitskuif.  Ek sien hy voel-voel so vir sy pakkie sigarette toe ma weer sê, “ou Lin, jy moet tog nooit eendag rook nie. Dit mors net jou longe op! En dit laat jou klere en alles stink!” Ek sien pa skuif toe maar die pakkie Ransoms weer terug in sy sak. “Daai broer van jou sou nooit gerook het as dit nie vir daai bloomin Johnny-kind was nie. Hy leer Boeta allerhande slegte goeters, sê ek jou! Ek sal nie verbaas wees as ons hele huis nog vol meisies ook gelê het terwyl ons weg was nie!” Ek kon sien ma raak lekker opgewerk en ek stap toe maar na my pa se kant toe waar hy besig is om aan die karavaan se haak te krap. 

Daardie aand, nadat ma vir Boeta gebel het en hom die Leviete voorgelees het oor rook, drank en meisies, pa vir ons ‘n tjoppie, ‘n worsie en braai-broodjies op die kole gerooster het,ons die veld ingestap het en die sterre gekyk het,en nadat my pa sy eerste snorke gee het, het ek geweet hulle is nou aan die slaap. Dis toe wat ek my plan in werking sit.

Nadat my pa my die eerste keer vertel het van die ou gedierte, het ek hom nog baie keer uitgevra na haar doen-en-late.  Ek wou soveel van haar leer as wat ek kon.  Ek moes dit net altyd so doen dat my ma nie hoor nie, want sy sou verseker weer soos ‘n swaar-gepriemde voorlaaier afgegaan het as sy my pa hoor hekse-stories vertel.  Wel, uit sy vertellinge het ek geleer dat op ‘n volmaan aand was die ou antie op haar besigste. Dan het sy op-en-af deur Colesberg se parkie gedwaal op soek na ‘n verdwaalde sieletjie om in haar sak te stop en huis toe te dra.  So my eerste stop was die parkie.  Ek dwaal toe so deur die parkie en gaan sit op die rondomtalie en stoot myself toe so luierig met een voet.  Ek maak of ek glad nie oplet nie, maar eintlik was al ses my sintuie so skerp soos ‘n twee-sydige swaard.  My oë het geflits, my ore het gespits, my neusvleuels het gevlier en die hare in my nek het pen-orent gestaan. Ek was bewus van elke blaartjie wat beweeg het in die wind.  Van elke voël wat ‘n voet verskuif het op ‘n tak en van elke rondloper hond wat aan die vullisdrom kom snuffel het.  My sakkie vol van goed om ‘n heks mee te vang was veilig weggesteek onder my trui en ek was bang…skytbang.

Kort voor lank word ek bewus en gewaar ‘n anderse beweging.  So ‘n halwe skuifel-sleep geluid wat al hoe nader gekom het.  Ek hou die paadjie dop – daar is net een paadjie wat deur die parkie loop en hy gaan reg by die rondomtalie verby. Toe sien ek haar.  Eers net ‘n donker wasigheid wat lyk of dit bokant die paadjie dryf, maar kort voor lank kon ek haar gestalte uitmaak. Die eerste ding wat ek kon sien was haar oë.  Hulle het rooi gegloei soos kat oë in ‘n kar se ligte en hulle was direk op my gevestig. Soos sy nader gekom het, kon ek meer van haar sien. Sy had ‘n groot boggel op haar rug en in haar een hand was ‘n lang stok, soos ‘n kierie met ‘n kop bo-op wat sy amper krampagtig tussen haar benerige vingers vasklem. Ek sit vasgenael op die rondomtalie. Dis asof haar rooi oë my versteen het. Ek kon nie beweeg nie, al wou ek ook.  Iewers in my benewelde brein het ek gewonder, wat de joos maak ek daar, en my brein het gesê, “hardloop!” maar my bene wou niks weet nie. Toe kom die ding tot stilstand reg voor my.  Haar gesig was sentimeters van myne af en dêm, in die vlees was sy leliker as in my drome!  Ek kon elke kreukel in haar uitgedroogte gesig sien en ek kon elke haar op haar moesie sien.  Haar neus en bo-lip was nat van die snot en ek kon selfs die plaak sien op haar lange geel tande.  Toe lig sy ‘n arm en vee die snot van haar bo-lip af.  Die mou van haar swart gewaad was nat en vol wit strepe van gedurig snot afvee.  Toe snork sy hard en spoeg ‘n groen gop op die grond so groot soos ‘n vrot tamatie.  Die stank van haar asem walm oor my heen en ek skrik so groot.  My brein skrik hom heeltemal wakker en skielik weet ek hoekom ek daar is. Ek is die ridder.

Sy gluur my aan met daai rooi oë van haar. Ek het nie nodig gehad om te maak of ek bang was nie.  Ek was reg om in my broek te piepie.  Toe gryp sy my aan my keel met ‘n bossie benerige vingers en grawe haar geel naels in my nekvel in.   Toe piepie ek in my broek. Die warm straaltjies wat teen my been afgeloop het, het my laat terug dink aan eendag lank, lank gelede toe ek nog valletjies broekies oor my doeke gedra het.  Ek het soos altyd, gepeuter aan goed wat ek nie moes nie en dié dag was dit een van my broer se houtwerk projekte in my pa se garage. Hy’t hom vervies en gemaak of hy my met die hamer op die kop wou slaan.  Maar hy’t nie rekening gehou met hoe swaar die hamer was nie en slaan my toe regtig op die kop.  Ek onthou ek het net sterretjies gesien.  My ma het my vertel dat toe ek skree-skree in die kombuis aankom met ‘n eier op my kop, was my valletjies broek ook sommer nat – so deur die doek! Die dag toe die heks my aan die keel gegryp het was die tweede en die laaste keer dat ek ooit in my broek gepiepie het.

“Weet jy nie dis gevaarlik vir kinders om na donker uit die huis uit te wees nie?” Haar halitose het my oë laat water en sy’t my nek so ‘n rowwe skud of twee gegee.  Ek kon nie ‘n woord uitkry nie. “Wat?!” grom sy, “niks om te sê nie?!” Sy’t daai benerige arm reguit gemaak en my so in die lug laat hang vir ‘n paar oomblikke terwyl sy in die maanlig gegrynslag het, nes ‘n brandmaer leeu wat sy lippe aflek terwyl hy ‘n muis onder sy voet vasdruk. Toe sê sy: “Weet jy wat maak ek met kinders soos jy?!” Haar krakerige hees stem skree gedemp deur die stil nag. Nog steeds kon ek nie ‘n woord uitkry nie.  My oë moes so groot soos spotlights gewees het en my tande het opmekaar geklap soos daai plastiek kake wat jy so opwen en wat dan onder jou pa se voete in hardloop. Sy gee my toe weer so ‘n skud. “Lewe jy nog?!” vra sy snedig. Toe begin ek ruk en skud van die bangheid maar sy gee my so ‘n skuins klap met die ander hand en sê: “Hou stil, dêmmit!” en toe weet ek, hier kom die sak.  Ek knyp my oë toe, styf toe en bid vir Liewe Jesus om my tog nie te verlaat soos sy pa hom verlaat het in die tuin van Getsemané nie.  Ek voel haar vroetel en loer so deur ‘n skrefie wat aangaan.  Toe sien ek die vuil ou goiingsak, net soos in my drome.  Sy stop my toe daarin en trek die lus toe bokant my kop.  Daar swaai ek toe oor die ou heks se skouer, en sy skuifel-sleep aan oppad na ‘n plek waar geen mens nog ooit lewendig vandaan teruggekom het nie.

Na so ‘n rukkie het my senuwees begin bedaar.  Ek het seker gemaak dat my sakkie wapens nog veilig onder my trui was.  Die gevoel van die goeters in die sakkie het my gemoedsrus gegee. Ek het elkeen van hulle versigtig bevoel.  “n Matmes, ‘n sakkie droë bone, ‘n vleishamer, my pa se sigaret-aansteker, my ma se blikkie haarsprei, twee haarnaelde, ‘n skêr, ‘n naelvyl, ‘n tweezer uit my ma se make-up sakkie en ‘n botteltjie bitteraalwyn. Versigtig het ek die matmes uit die sakkie getrek en ‘n gat in die goiingsak gesny.  Net genoeg om te kon asemhaal. My nat broek was koud en onaangenaam in die beknoptheid van die sak. Deur die gleufie in die sak kon ek stadig maar seker die liggies van die slapende dorpie sien verdwyn en was doodseker ons was oppad in die rigting van Towerberg.  Toe die ou siel eers lekker aan die steun en kreun was, het ek dit gewaag om die gleuf in die sak groter te sny sodat ek my kop kon uitkry. Ek het eintlik heel braaf gevoel daar in die sak, op die ou heks se rug.  Met my kop uit die sak kon ek rondkyk. Die dorpie se liggies het al flouer geraak, maar in die lig van die volmaan kon ek duidelik sien waar ons loop.  Die vlakte is in elk geval so plat dat ek nie anders kon om presies te weet watter rigting die ou ondier inslaan nie.

Kort voor lank het die paadjie al hoe meer klipperig geraak.  Rotse het weerskante van die paadjie verskyn en die bossies het al hoe langer geraak.  Terstond het die paadjie verdwyn en die dorpie het agter ‘n kliprantjie verdwyn.  Ek het my hand onder die trui ingesteek en instinktief die pakkie boontjies uitgehaal. Toe die ou duiwel op ‘n slag tot stilstand kom, trek ek toe vinnig my kop terug in die sak in. Sy het begin rondkrap tussen die hoë bossies en skielik toe verdwyn ons in ‘n donker gat in. Versigtig steek ek my hand by die gleuf uit en gooi ‘n boontjie neer. Ek tel een, twee, drie, en toe gooi ek nog een neer.  In die tonnel was dit pikdonker.  Toe haal die ou gedierte ‘n flits uit van êrens en dit word helder lig rondom ons.  Iewers in my agterkop het ek gewonder waar kry sy batterye vandaan, maar eintlik het dit my min gepla, want, ek was te besig om boontjies te laat val.

Die tonnel het gedraai en geswaai en in die verbygaan kon ek sytonnels sien wat in ander rigtings loop.  Dit was ‘n waarlike doolhof van tonnels daar diep binne-in Towerberg.  Toe ek my laaste boontjie uitgooi, toe maak die tonnel oop, in ‘n groot grot wat plek-plek helder verlig was deur fakkels wat brand in houers teen die mure. Die ou heks het my terstond laat val op die grond en ‘n groot sug van verligting geslaak. Ek het tjoepstil gelê soos ‘n dronk muishond op ‘n Saterdagoggend en gewag vir wat kom volgende.

Nadat wat gevoel het soos ‘n uur verby gegaan het, maak die ou heks toe die sak oop en trek my aan my hare daaruit. “Toe, kom, kom, wat lê jy so, daar’s nie tyd vir slaap nie!” skree sy in haar krakerige stem. “Daar’s werk om te doen!” My bene het onder my geswik toe ek probeer opstaan, maar sy’t my regop gehou aan my hare. “Moenie nou omval nie, entjie-mens, maak styf daai maer-gat bene van jou!” Genadiglik het die bloedsomloop na my bene teruggekom en kon ek op my eie staan. Ek het my so vervies vir die ou ding dat ek haar amper met die matmes bygekom het en die hele plan net daar lelik verongeluk het!

“Maar, maar, wat meen jy werk? Ek dag jy gaan my opeet?” vra ek onthuts. Toe skater sy soos sy lag.  Haar kekkel weergalm teen die grot se wande af en penetreer my oordromme soos ‘n sarsie breinaalde uit ‘n tennisbalmasjien uit.

“Eet kom later, doggie, eers moet jy my huis skoonmaak!” skree sy en swaai haar arm in ‘n boog oor die grot.  Ek kyk rond en gril my amper net daar op die plek morsdood. Dit was nie ‘n “huis” nie, dit was ‘n ashoop! Die grot was min of meer rond, soos ‘n ondergrondse rondawel en in die middel daarvan was ‘n pen in die vloer ingekap.  Sy sleep my onseremonieel na die pen se kant toe en voor ek kon teëstribbel, het sy ‘n honde-halsband om my nek vasgemaak!  “Die tou is net lank genoeg vir jou om elke hoekie en gaatjie van my huis by te kom! Moenie eers dink aan probeer weghardloop nie.  Daar is net een ingang en uitgang - ” en sy wys met ‘n benerige vinger in die rigting van die swart gat waardeur ons vroeër in die grot ingekom het en net ek ken die paadjie deur daardie doolhof van gangetjies! Kê-kê-kê-kê-kê!!” lag die ou suur teef weer. “As jy daarin wegraak sal selfs ek jou nie weer kry nie!” Toe stop sy my ‘n besem en ‘n swartsak in die hand en sê: “Begin vee!” Daarmee los sy my net daar in die middel van die vloer en verdwyn weer in die swart gat waaruit ons gekom het minute tevore.

Ek kon nie waag om enigiets te doen wat die ou gedierte suspisieus sou maak nie, want ek het nie geweet of sy my dalk van êrens af dophou nie. Al wat ek kon doen was vee die vloer en tel die gemors op en pak goeters weg in kassies en gate en stof af waar daar af te stof was en skrop die massiewe ou swartpot waarin sy my verseker later sou kook as sy die kans sou kry. Toe ek haar bed opmaak, val daar iets onder die kopkussing uit. Dit het eers gelyk soos ‘n flentertjie papier maar toe ek dit optel om weg te gooi, toe sien ek dit was ‘n foto.  Dit was oud en gebleik soos ‘n verlepte koolkopblaar maar ek kon nog uitmaak in die foto was ‘n ma en ‘n pa en ‘n klein dogtertjie, seker so ses of sewe jaar oud. Eers het ek gedag die ou feeks het dit seker op een van haar slagoffers gekry, maar toe ek stipter na die foto kyk, skrik ek my amper boeglam.  Die ma in die foto het my reg in die oê gestaar. Sy had ‘n skerp neus, ‘n klein mondjie en ‘n skerp ken. Haar hare was in ‘n bolla op haar kop vasgemaak en op haar neus was ‘n moesie so groot soos ‘n bosluis wat hang aan ‘n Albertinia skaap se uier. Dit was die ou heks! Jonger, mooier maar onmiskenbaar die ongedierte wat my hier aan die paal vasgemaak het! My kop het oortyd gewerk. Die mense in die foto het teen ‘n kar geleun.  Dit was ‘n ou kar met ‘n ronde gat soos my oom se DKW. So ek het gereken die foto moes ook omtrent so oud soos die DKW gewees het, so 40 jaar oud. Is dit hoe lank die ou heks al hier in Towerberg se doolgange bly? Wie was sy? Waar kom sy vandaan? So sy was ook eintlik maar net ‘n gewone mens? Die gewaarwording het my sterker laat voel.  Ek het die foto teruggesit onder die kopkussing en met mening begin vee.  Ek wou hê die ou ding moes impressed wees met my wanneer sy terugkom.

Kort voor lank sien ek die skynsel van die flitslig afkom in die donker tonnel. Ek was reg vir haar.  Die grot was silwerskoon. ‘n Warm koppie tee het gewag op ‘n tafeltjie wat ek langs haar lendelam stoel getrek was en haar flenter slippers het op die matjie voor die stoel gelê. Toe sy deur die gat verskyn, was ek by, om te help.  Ek sien sy dra swaar aan ‘n bondel hout en steek my hande uit om dit aan te vat. “Shame,” sê ek, “gee vir my laat ek aanvat.  Tannie se arms is seker lam van al die dra.” Woordeloos gee sy die bondel aan en ek dra dit oor na die vuurherd. “Kom sit hier,” sê ek weer. “Ek het vir tannie ‘n lekker koppie tee gemaak…” Sy kyk my woordeloos aan en met verbasing in haar oë.

“Tannie?!” sê sy uiteindelik toe sy neersyg in die stoel. “Lyk ek vir jou soos ‘n dêm tannie?!”

“Skuus…antie, hoe noem ek antie dan?” Die ou ding slurp aan die koppie tee. 

“Net nie antie nie! Asseblief! Vir wat wil jy my iets noem voor? Hoekom sjarrap jy nie liewer nie! My aandete het nog nooit tevore so baie gepraat nie! Jy maak my ore seer!” skree sy.  Ek buk om haar skoene uit te trek. Toe ek aan haar skoen vat, pluk sy haar voet terug met mening. “Verdomp! Wat de joos maak jy?” gil sy verontwaardig.

“Ek wil maar net tannie se slippers vir tannie aantrek,” sê ek liefies en trek weer saggies die voet nader.  Sy wou nog teëstribbel, maar ek was ferm en voor sy haar kon kry, het ek die paar ou stowwerige velskoene af en die dowwe pers slippers aan.

“Gmph,” brom sy so tussen die slurpery deur.  “Dink jy miskien as jy vir my tee maak en my slippers aantrek ek gaan jou nie eet nie?” gryns sy. Ek gril byna my gat af toe sy sê, “miskien sal ek eers jou keel afsny voor ek jou in die pot stop…”.

“Is okay, moenie worry nie,” sê ek, soos ek altyd my pa hoor sê wanneer hy nie mooi weet wat om te sê nie, maar weet dat dit die veilgste koers is om ma rustig te laat voel. “So wat noem ek tannie dan? Ek meen, wat is tannie se regte naam?”

“Die heks van Colesberg!” sê sy. “Dis mos my naam, is dit nie?”

“Ek weet nie,” jok ek, “ek is nie van hier nie. Ons slaap maar net oor hier vanaand in die karavaanpark. Eintlik kom ek van die Kaap af en…”

“Sjarrap!” gil sy skielik en stort bietjie tee op die bors van haar swart rok. “Ek het mos gesê jy moet sjarrap! Het ek nie?”

“Skies tannie heks,” sê ek saggies, “ek wou maar net…” en toe snik ek dat die biesies bewe en hardloop so ver weg van haar as wat die tou my kon toelaat. Ek staan daar teen die muur en pak my beste huil uit. Die trane het gestroom van my wange af en ek het gesnik vir wat ek kon. Ek loer haar toe so onder my arm deur om te sien of ek darem ‘n uitwerking het.  Ek kon sien hoe sy ongemaklik rondskuif in haar stoel en toe skree sy weer;

“Sjarrap dêm jou!” Hou op met jou geskree of ek braai jou sommer nou! Maar vir al haar geskree en gedêm-jou kon ek hoor sy was ongemaklik oor die trane.

“Ek snork my snot terug en snik, “skies tannie heks, is net, ek mis my ma. My pa het met haar baklei vanaand en het haar toe uit die karavaan gejaag.  Toe jy my in die park gekry het, was ek besig om haar te soek.  Ek weet nie waar sy is nie! Ek dink hy wil môre-oggend met my ry en haar hier los!” die ou heks ruk haar hoender-nekkie so vinnig om ek dag dit gaan afdraai in een flinke beweging.

“So ‘n blêrrie vark! Wat vertel jy my? So ‘n donnerse nikswerd!” Sy staan orent uit haar stoel uit en gooi die koppetjie tee dat hy doer trek. “Waar’s die bliksemse bliksem nou? Sê my dan gaan vreet ek sommer die vleise lewendig van sy armsalige nikswerd rug af!” Haar oë het vlamme geskiet en ek was vir ‘n oomblik bevrees ek het te ver gegaan; maar ek het ook besef dat my intuïsie een-honderd persent reg was oor haar herkoms!

“Ja tannie, hy drink vreeslik en veral as ons so op vakansie is, dan gaan dit eers erg! Hy hardloop agter elke skirt aan en my ma is net nooit goed genoeg vir hom nie. Selfs al sloof sy haarself elk dag af voor die warm stoof om vir hom ‘n bord kos te maak nie!” lieg ek deur my tande soos ‘n matroos.  Die ou heks tuur die donkerte in asof sy iets probeer onthou. Haar oë is op skrefies getrek.  Ek loop toe so saggies as ek kon na die bed toe. Ek haal die ou verlepte foto onder die kopkussing uit. Ek kyk oor my skouer, maar sy tuur nog in die niet in. Toe ek by haar skouer kom, trek ek saggies aan haar mou.  “Tannie, wie is dit hierdie, tannie?” vra ek en hou die foto na haar toe uit. Sy kyk om en kyk na die foto. Toe gluur sy my aan.

“Gee my daai foto! Wie’t gesê jy kan in my goeters krap!” gil sy en swaai om.

“Moet tog nie so skree nie tannie, ek kan jou help!” skree ek terug. Veg vuur met vuur, my kind, hoor ek my pa se stem.

“Wat wil jy my help voor? Môre suig ek die murg uit jou dun beentjies uit, sê ek jou!” skree sy weer.

“Nie voor ek tannie gehelp het nie!” het ek terug geskree.

“En wat wil jy almiskie vir my doen!”

“Tannie se hare doen! Die hare op jou moesie uittrek! Jou naels knip!”

“Dit sal die blêrrie dag wees, Porktjop!”

“Ja ek kan! En ek weet ook hoekom jou dêm neus die hele tyd loop! Sit in jou blêrrie stoel en sit stil dat ek kan begin!” het die ridder deur my keel gegil en wonder-bo-wonder, daar gaan sit die ou heks in haar stoel en staar my aan asof ek van die maan af kom! “Wat nou gemaak?” vra ek die ridder in my kop.

Ek lê toe maar my gereedskappies uit.  Dra ‘n kommetjie warm water nader vanaf die vuurherd en krap rond vir seep, ‘n borsel en ‘n spieël. Gelukkig het ek tydens die skoonmakery ‘n tas onder die bed gekry en gesien alhoewel stowwerig, daar alles in was wat ‘n vrou nodig het om mooi mee te lyk. Ek was die ou siel se hare.  Knip dit in ‘n styl min of meer soos in die foto.  Skrop haar gesigvel tot dit gloei.  Pluk die lang hare op haar moesie uit en sommer haar snor ook.  Al beweging wat die ou heks gemaak het, was nou en dan wanneer sy haar neus met haar mou afgevee het. “So wat maak my neus loop?” waag sy dit toe later, half versigtig.

“Dis die bloeming vuil rok wat tannie dag-in en dag-uit dra.  Die ding is te harerig en dit irriteer jou neus.  Hoe meer jy afvee, hoe meer loop dit.  Ek weet, my ma laat my so ‘n jas dra kerk toe elke Sondag. Die ding se hare laat my neus ook loop. Ons moet vir tannie ‘n ander rok uit die tas haal en die een in die vuur gooi.  Hy’s nikswerd.

“Gmph” is al wat sy daarop te antwoord gehad het.

Toe vra ek maar die jackpot vraag: “Tannie, wie is die man en die dogtertjie saam met jou in die foto?” Ek kon voel hoe sy verstyf onder my hande, maar ek het dit verwag en ek masseer toe so haar skouers tot ek kon voel hoe die styfheid haar verlaat.

“Dit was my man…en my kind…” het sy saggies geprewel.

“Wat het van hulle geword?” waag ek toe weer. Daar was ‘n lang stilte.  Ek het amper gedink sy gaan my nie antwoord nie, maar toe sê sy.

My man was ‘n belangrike staatsamptenaar onder in die Kaap, maar hy was ook ‘n vark.  Eendag toe ons terugry van nog een van sy belangrike vergaderings in Johannesburg, het ek so ‘n bietjie gelag. Toe vervies die booswig hom so vir my, dat hy my hier buite Colesberg met my tas afgooi, langs die pad en my net daar los!” Die ou heks het uitgebars in trane en het geruk soos sy snik. Maar ook net vir ‘n oomblik, toe gaan sy aan. “Ek was totaal gestrand!  Ek was ‘n vrou van aansien en was te trots om by enige iemand hier aan te klop vir hulp! Vir 4 nagte het ek in die veld geslaap saam met die merinos en gehoop die ou bliksem sal my weer kom haal!  Maar nee!  Hy het nie!” Sy het ‘n slag diep asemgehaal en toe borrel die hele ou suur verhaal uit haar mond uit.  Die vernedering om agtergelaat te word. Die eerste skaap wat sy met haar kaal hande doodgemaak het en rou geëet het.  Die inbrake in plaashuise om aan die lewe te bly. Hoe sy die grot in Towerberg ontdek het.  Haar dogter wat sy 40 jaar laas gesien het. Hoe sy begin het om kinders te steel en tot by die jig in haar bene en hande wat dit vir haar al hoe moeiliker maak om kos in die hande te kry. Al die tyd terwyl sy praat, luister ek met so ‘n halwe oor en lê my wapens heimelik tussen die gereedskappies uit wat ek gebruik om haar mee te transformer. Die twee haarnaalde, die vleis hamertjie, die haarsprei en die sigaret aansteker.

Toe ek klaar was met die hare, die gesig, die vingernaels, die toonnaels en die moesie, kies ek ‘n rok uit die tas uit vir haar.  So ‘n gele wat so helder was, dit sou selfs ‘n dassie op ‘n koue winteroggend se gemoed kon verander. “Trek die aan,” sê ek vir haar in my soetste stemmetjie en loop staan met my gesig teen die muur. Daar was geen manier wat ek daai ou benerige lyf sonder klere wou sien nie! Nou kon een van twee dinge gebeur.  Sy kon my of van agter af oor die kop slaan en ek sou nooit weet wat verder gebeur nie, of sy kon die rok aantrek. Na ‘n laaang stilte draai ek versigtig om.  Daar staan die ou heks geklee in die geel rok, en staar na haarself in ‘n vollengte spieël wat net sy geweet het waar dit vandaan gekom het! Ek klop toe die ridder op die skouer, Dit was voorwaar ‘n transformasie!  Nou vir die finalé!

Ek stap nader na die ou heks toe. Die vleis hamertjie in my belt agter my ruk en die twee haarnaalde in my hande.  Noudat haar aandag totaal afgetrek was, is dit tyd om my ridderlike plan te volbring. Toe ek naderkom, sien ek ‘n wonderwerk.  Oor die ou heks se wange, rol twee trane so groot soos seewater pêrels. Skielik kry ek haar jammer.  Sy was ook maar net ‘n ma. Sy draai om na my toe en kyk my in die oë. Dink jy rêrig dis daai ou swart rok wat my neus so laat loop?” vra sy.

“Ja,” sluk ek, “ ek dink rêrig so, tannie.” En toe smile sy  en ek smile terug, en toe gryp sy my en draai my arms agter my rug. Sy pluk die twee haarnaalde uit my vuiste en die vleis hamertjie uit my broek se belt.

“So! Jy’t ander plannetjies, nè! Jy’t gedink jy kan my om die bos lei nè! Jy’t gedink kom ons maak die ou heks op haar gemak en dan surprise jy my, nè!” Toe vervies die ridder in my haar iets verskrikliks en ek ruk los uit haar benerige kloue uit. Ek spring met twee treë eers op die ou lendelam stoel en vandaar op die tafel. Soos Bruce Lee en met ‘n bypassende gil spring ek toe vandaar tot bo-op die ou heks se rug. Ek knoop my bene om haar bors en ry haar soos ‘n brandmaer merrie om en om die grot! Mid-galop pluk ek die haarsprei en my pa se sigaret aansteker uit. Ek mik vir haar boskaas en skree, “vat so jou gedierte!” en ek laat waai met die sprei en hou die sigaret aansteker voor die straal.  Die blikkie haarsprei verander in ‘n flamethrower en ek ry haar bloots tot sy al brandende op die vloer neerval. Voor ek in die donker tonnell af verdwyn, gryp ek die flits en steek die bed aan die brand. Toe hardloop ek so vinnig as wat my bene my kon dra en ek die boontjies kon raaksien tot buite in die maanlig en om die randjie en af in die paadjie, terug na die karavaanpark toe.

Die volgende môre staan ou oom Servaas op sy voorstoep en wag vir sonop vir die 27,375ste keer en tuur in die rigting van Towerberg waar hy afge-ets lê in die donker teen die starheid van die komende dag. Toe sien hy vanuit die koppie kom ‘n dik swart rookkolom. “Saartjie,” roep hy, “Saartjie, kom kyk, Towerberg is toe al die tyd ‘n vulkaan! Ek het jou mos gesê!  Saartjie?!”

f t g