Copyright 2017 -

 

           Soos ‘n onheilige driehoek, tussen Laingsburg, Sutherland en Merweville, lê ‘n kale verskroeide stuk aarde, godsvergete en deur alom verlate. Hierdie ongenaakbare amper lewelose stukkie dorre verlore vlakte, wat eens die tuiste van die Quena en die Hottentot was, staan vandag amper dolleeg en verlate.  Verlaat deur ieder en almal behalwe die mees halstarrigstes van die halstarriges. Verknoeide ou kareebome staan wag soos stoere sentinels op die walle van die Geelbek en Kaffersleegte en op die plat-kop koppies wat alleen stomme getuies is van die afgryslike dinge wat hulself hier afgespeel het in vervloë dae, staar stip voor hulle uit. Vandag waag min wat leef dit daar. Die wat waaghalsig genoeg is om hierdie Godverlate stuk wêreld te betreë vind daar slegs stilte, verlatenheid en af en toe miskien ‘n rheebok. Menigte het al hier ingegaan en nooit weer uitgekom nie. Hierdie stuk naakte vlakte heet die Moordenaars Karoo;  ‘n naam verdiend uit wanhoop en vrees en is betaal met bloed op bloed.

Die twee stowwerige esels het sleepvoeterig in die klipperige pad wat net nie op ‘n einde wil kom nie, aangeplots. Die son het kaal kolle agter hulle ore gebrand en die rieme het nuwe plekke oopgeskaaf vir die bosluise om aan te kom suig. Pietman Jordaan het asof in ‘n waas op die twee-wiel waentjie se een-plank sitplek gesit en die leisels lusteloos in sy slap hande laat hang. Hy was nog net ‘n uur op hierdie stowwerige pad, maar dit het alreeds soos ‘n ewigheid gevoel. Hy het geweet daar was ten minste nog twee ure van sug onder die warm son voor hom, maar daar was niks wat hy daaraan kon doen nie, behalwe oë toeknyp en deurdruk dorp toe. Pietman se pa was angstig oor die aankoms van die nuwe ploeg en het vir Pietman gestuur om die ding te gaan haal by die Jood se winkel op Merweville en as pa gepraat het, het Pietman maar geluister. Ja-nee, die Karoo was ‘n moordende plek;  nie gemaak vir die sag van hand en die lig van hart nie. Sy was mergelend en veeleisend. As die son jou nie dood gebrand het nie, dan het die winter-windjie jou ribbekas aan flarde gesny. So was dit hier in die Karoo;  geen kompromie, geen genade en die wat verkies het om daar te bly moes verlief neem of vort.

Maar genade het gekom vir iemand heel onverwags om die volgende draai toe Hotagter skielik proes en sywaarts trap. Pietman het bykans van die kar afgeval. “Hokaai Hotagter!” het hy gebulder, maar soos gewoonlik het sy stem geen uitwerking op die godsverdomme ergelose esel nie. Dié het net weer geproes en effe verboureerd gerunnik totdat Pietman die leisels ingetrek het en die kar tot stilstand gebring het. Met slaperige oë het hy die rand van die pad bekyk,en so op en af in die donga vir die slang gesoek wat vir Hotagter so skrikgemaak het. Maar toe rek sy oë wyd oor die skrikmaak ding wat toe al die tyd nie ‘n slang is nie. Dit was ‘n mens. ‘n Vuil en vernielde mens vol stof en droë bloed. Haastig spring Pietman toe van die wa af, so asof die slang wat hy gesoek het in die sloot toe al die tyd onder sy sitplek opgekrul was. Hy vat grond. Wie de joos?! Dag hy toe hy tot op sy hurke kom in die sloot langs die vernielde man. Leeu? Maar gou sien Pietman die man is geskiet. Twee gate met bloed kringe rondom hulle in sy khaki baadjie het daarvan getuig. Pietman het so met sy vingers gevoel aan die man se nek soos sy ma hom gewys het en hy kon ‘n flou kloppentjie daar bespeur. Die man het nog gelewe, maar ook net-net, dag hy. Pietman het die man fyn bestudeer. Khaki baadjie, Khaki broek, dié was ‘n Engelsman, het hy besluit. ‘n Engelse perd kompleet met saal en leisels wat ‘n entjie daarvandaan in die veld staan en wei het, was verdere getuienis van die man se herkoms. Pietman het daai perde al voorheen gesien. Almal bruin, almal gebou soos ‘n swaergewig bokser en almal dieselfde soort sale en tooms. Hy’t geweet as hy daai saal sou afhaal en omdraai sou hy die woorde “Made in England” aan die onderkant kry. Dié was die vyand. Sy volgende gedagte was om die man net daar te los. Daar was beslis geen rede om die vyand te red nie. Gelukkig of ongelukkig vir daai Khaki daardie dag, het die christelike opvoeding wat Pietman se ma in hom ingeprent het met liefde, daardie dag die oorhand gekry. ‘n Uur en ‘n half later het ‘n regop Pietman Jordaan met twee papnat geswete, maar haastige esels voor die kar en ‘n Engelse perd gebou soos ‘n swaergewig bokser agter aan die kar, die  dorpie van Merweville binne gery. Hy het op die huisie van dokter Brink-Benade afgepyl soos ‘n boesman se gifpyl op ‘n gemsbok se gat. Maar as Pietman toe geweet het wat hy later sou leer, sou hy dalk eerder daai Khaki net daar in die sloot gelos het en dalk nog sommer vir die wis en die onwis hom nog ‘n skoot tussen die oë ook gegee het.

Die goeie ou dokter was oorspronklik van die Kaap. Hy had so vyf jaar voor die uitbreek van die oorlog op Merweville aangekom op soek na rus en vrede. Skinderstories het hom later gevolg en dit het vir ‘n lang ruk rondgeloop dat hy die Kaap haastig moes verlaat nadat een te veel van sy pasiënte in die kerkhof beland het. Die dokter het kwansuis ‘n voorliefdetjie vir Mampoer gehad, maar op Merweville het dokter Brink-Benade nooit ‘n pasiënt verloor oor hy homself aan die mampoer-duiwel vergryp het nie.   Na ‘n ruk het niemand meer die skinderstories oor die dokter oorvertel nie. Hy het die rustigheid van die Karoo aangegryp asof dit sy eie moeder was en het deel geword van die klein gemeenskappie van Merweville, asof hy sy lewe lank daar gebly het. So die middag dat Pietman Jordaan daar by sy deur aangekom het met die Engelsman, het hy dan ook dit so gelate soos altyd aanvaar; Engelsman of te not, die man het nog vasgeklou aan die lewe en daaroor moes hy versorg word! Nie te lank nie, of die hele dorp het geweet daar was ‘n Khaki in die dokter se huis.

“’n Khaki?” het Servaas de Jager gesê. “Wat ‘n aardigheid!”

“Vir wat bring Pietman so ‘n ding hieraan! Van die duiwel sê ek jou!” het tant Gesie Terreblanché haar stuiwer in die armbeurs gegooi.

“Nee genade ons!” het oom Frikkie van Deventer bygevoeg, “die jong kinders van vandag het ook g’n kop nie! Wat leer daai juffrou Viljoen hulle dan in die skool  as hulle nie eens weet wie is wat en wat is wie nie?” Maar oom Frikkie het sy woorde vinnig gesluk, want tant Ossie het hom liederlik aangegluur. Tant Ossie was vir alles die moer in;  altyd. Sommige het gereken dit was haar ma en pa se skuld. Hulle was van die van Helsdingens van Agtertang, ‘n Plekkie in die niks van nêrens in die Noord-Kaap. Toe tant Ossie haar verskyning gemaak het na agt-en-dertig uur van swoeg en sweet, het haar ouers haar Huibregt Gertruida Ossewaenia Kakebenia gedoop.  ‘n Huldeblyk aan hul voorsate se geswoeg oor die Drakensberge in die Groot trek van 1838. Tant Ossie was haar ma-hulle se enigste kind, ten spyte van die feit dat daar op Agtertang baie tyd vir oefen was. Dit was asof na daardie benoeming geen ander kind dit wou waag om daar uit te klim nie, in vrees vir wat volgende deur oom van Helsdingen se kop sou mog kom sowat dit ‘n kind se name aan sou betref. Niemand het ooit durf waag om enigeiets te sê oor die feit dat tant Ossie se voorsate in elk geval nooit oor die Drakensberge getrek het nie.

“Sies vir jou Freek,” het tant Ossie gesis, “waar’s jou christelike siel dan nou ook? Die man is half dood! G’n Godvresende kan hom mos sommer net daar in die sloot laat lê en vrek soos ‘n dier nie!” Hierop het oom Freek maar verkies om sy kop weg te draai en in die verte in te staar.

Na drie weke het dokter Brink-Benade die dorp ingelig dat hy die Khaki terug gebring van die dood. Selfs hy het gedink dit was ‘n wonderwerk van bo. Al wat die man oorgehou het van sy tragiese ondervinding was twee lelike letsels op sy bors waar die goeie dokter die twee boere koeëls uitgegrawe het (met die hulp van ‘n groot hoeveelheid mampoer) en ‘n gat in sy geheue so groot soos ‘n waenhuisdeur.

“Dominee, ek sê jou, die man het geen idee nie, man!” het die dokter gesê.

“Maar broer, hoe meen jy dan nou? Jy meen hy weet nie wie hy homself is nie?” Dokter Brink-Benade vryf sy hande so oor sy onderbaadjie en vat sy baadjie se lapelle so een in elke hand vas. Dan maak hy sy keel skoon en stoot sy hoenderborsie uit soos ‘n punt in die wind.

“Kyk dominee, dit werk nou eintlik so. Wanneer ‘n mens ernstige trauma beleef het soos deur jou kop hard te stamp teen iets soos...sê nou maar ‘n Karoo-klip wanneer jy sê nou maar van jou perd af val, dan kan ‘n mens soms, afhangende van hoe hard jy jou kop stamp en afhangende van ‘n hele swetterjoel ander eh...ingewikkelde en tegniese faktore, waarmee ek dominiee nou nie sal verveel met die mediese terme nie...”

“Ja broer...?” het die dominee hom so effe geirriteerd probeer aanpor. Maar dokter Brink-Benade was aan die rol en selfs nie eens ‘n trein uit die Kaap sou hom van stryk kon bring nie. Hy maak weer sy keel skoon en frons, maar vir die grond, darem nie reguit in dominee se rigting nie.

“...dan kry ‘n mens harsingskudding, dis nou ‘n besering van die brein, en dan is dit nogal heel algemeen dat ‘n mens dan aan ‘n kondisie kan ly wat ons medici (op daardie oomblik het dokter Brink-Benade hom jou waar verbeel, hy is uit een en die dieselfde karos gesny as Leonardo da Vinci – van wie hy ‘n portret in sy voorkamer het) geheueverlies noem.” Eindig hy af met ‘n groot glimlag op sy gesig.

“So broer, jy wil vir my sê dat nie net weet hy nie wat sy naam is nie, maar hy weet ook nie waar hy vandaan kom nie en ook nie...en dalk ook nie dat hy ‘n Khaki is nie?!” Die dominee het skielik kierts regop gesit op die randjie van die riempiesmatstoel. Selfs tant Malie amper so blind soos ‘n mol kon van oorkant die straat af sien, hoe die dominee se rug reguit skiet soos ‘n voorlaaier.

“Reg dominee. Reg. Tyd sal leer hoeveel hy kan onthou en hoeveel  nie. Partykeer na ‘n genoegsame periode verbygegaan het, herwin sommige pasiënte weer ‘n deel of soms als van hul geheue, maar ons dokters kan nie sê hoeveel en wanneer nie. Daar is nog baie navorsing wat in hierdie veld gedoen moet word.” Die dominee het skielik opgespring.

“Ons moet ‘n vergadering hou, dokter, sommer vannaand nog!” en hy stap verward teen die stoeptrappe af. “Ons het die Jordaans nodig en die van Stadens en sommer vir Freek ook! Kry jy solank vir Thomas om met die perdekar teen die lyn af, almal op te komandeer. Sommer môre oggend nog! Agt uur by die kerk!” skree hy oor sy skouer so in die loop.

“Vergadering? Maar vir wat?” roep dokter Brink-Benade agterna terwyl hy probeer byhou.

“Oor wat om te maak met die Engelsman, natuurlik!” En so het die dominee se koppietjie tee in die dokter se beste fyn porselein, skoon vergete bly staan, op die olienhout-tafeltjie langs die riempiesmatstoel waar hy gesit het, op die dokter se voorstoep.

Daardie volgende oggend was bykans die hele gemeenskap in die kerk. Dokter Brink-Benade het in die heel voorste bankie gesit en so ook die Jordaans. Oom Freek wou agterlangs hou, maar tant Ossie het hom gestoot tot by die tweede ry bankies. Sy wou darem nie so ver voor sit dat sy die dominee se asem kon ruik nie, maar sy wou darem wys sy is voor in die koor wanneer dit by belangrike aangeleenthede kom. “Liewe broers en susters...” So het die dominee begin asof hy ‘n preek wou afsteek. Die Engelsman was ‘n gewigtige probleem en ieder en elk het ‘n stuiwer in die armbeurs te gooie gehad. “Skiet die Khaki! Hy’s die verdomde vyand!” het oom Klaas geskree. Oom Klaas Burger was een van daai’s wat enige iets sou skiet as hy die geleentheid kon kry.

“Ag jirriejie tog,” het dokter Brink-Naude gelamenteer, “hoekom het julle nie dit gesê toe Jordaantjie hier met hom aangekom het nie. Dan het ek nie al die moeite gedoen om hom gesond te maak nie!” Verskeie ou boere tannies in die gehoor het hom luidrugtig beaam.

“Sit hom op sy perd en stuur hom in die Kaap se rigting!” het ‘n ander voorgestel.

“Gee hom terug vir die Engelse!” het tant Gesie gehyg en so het hulle aangegaan met koukus oor wat om met die Engelsman te doen noudat hy weer op sy eie twee voete kon staan.

Maar so terwyl die gemeenskap besig was om oor sy lot te besluit, het die Engelsman op die dokter se voorstoep gestaan en die dorpie se leë stofstraat bestudeer. Daar was g’n siel in sig nie. Net ou Moses Teichmann was doenig in sy winkeltjie oorkant die straat. Teichmann was ‘n Jood so hy’t nie kerk toe gegaan nie. Die mense in die omtrek het nie geweet wat ‘n Jood was nie, maar hulle het verstaan dat hy anders was.  Omdat hy so ‘n goeie ou siel was wat nooit ‘n vlieg kon doodmaak nie, het niemand regtig omgegee nie. Verder het ou Teichmann ‘n pragtige dogter gehad. Hy het met Ava daar aangekom toe sy nog ‘n babatjie was en hy het haar al die jare daar in die Karoo vlakte eiehandig groot gemaak. Klaarblyklik het haar ma in kraam gesterf terwyl hulle op trek was. Duboksky het haar daar langs die pad in die dorre aarde naby Sutherland begrawe en alleen met Ava voort getrek tot hier, waar ‘n barmhartige vrou van die kontrei haar oor die baba ontferm het. ‘n Hottentot vrou wat self besig was om te soog, is aan Teichmann geleen, om te help om Ava groot te maak. Teichmann was ook een van die baie min mense in die kontrei wat Engels kon praat.

Skielik was daar beweging, waar daar nie moes gewees het nie. Twee mans met sakdoeke oor hul gesigte gebind en hoede laag oor hulle oë getrek het om die winkeltjie se hoek gesluip gekom. Die Engelsman het verstar en homself dun gemaak agter die stoep se pilaar. Hy het instinktief besef hulle hoort nie daar nie en die gewere in hul hande het sy vermoedens onderstreep. Sonder waarskuwing het die twee die winkeltjie binne gestorm en die Engelsman kon hoor hoe skree ou Teichmann van die skrik. Sonder om twee keer te dink het die Engelsman oor die stofstraat gehardloop. Buite die winkeltjie se deur het hy ‘n graaf gegryp uit die bondel myngereedskap wat Teichmann by die deur gehou het. Met die graaf bewapen het hy by die winkeltjie in gestorm en sekondes later lê die twee booswigte katswink geslaan aan Teichmann se voete. Dié het vir etlike oomblikke botstil gestaan nog met sy hande in die lug en ‘n trek van verbasing oor sy gesig. Voor sy voete het die twee booswigte gelê, katswink, en die Engelsman het bo hulle uit getoorn soos ‘n Goliat van ouds met ‘n skopgraaf in die hand! Toe dit tot hom deurdring wat gebeur het, het die verbasing eers in ‘n huiwerige laggie verander en toe in ‘n breë glimlag. Toe lag hy dat die trane so loop en sy voete begin dans ‘n koddige Horah op die maat van ‘n Joodse deuntjie wat beslis nog nooit in die Karoo gehoor was nie. Die Engelsman val hom toe om die nek en skree, “You saved me! You saved me! O thank you, you saved me!”

“Quick! Rope!” het die Engelsman geskree. Teichmann het sy dansie gelos en laat spaander agter die toonbank in vir tou. Nadat die Engelsman die twee mooi vasgebind het, het hy Teichmann gestuur om die ander te gaan roep. Die Jood het nie op hom laat wag nie en afgesit kerk toe asof hulle besig was om geld weg te gee. Uitasem het hy die kerk ingestorm met ‘n

“Quick dominee! Quick! Die Engelsman!” toe moes hy eers aan die preekstoel vashou om sy asem terug te kry.

“Maar wat de joos, Moses?!” sê-vra die dominee bekommerd. “Wat van die Engelsman?” Van die ander het nader gestaan om te kom kyk waaroor die groot skrik-op-die-lyf-ja gegaan het.

“Nee dominee, die Engelsman, my winkel...twee skelms met gewere!” Dit het Teichmann etlike minute gevat om die storie uit te kry, maar toe hy klaar was, het almal geweet die Engelsman was ‘n held. “My hero!” het Teichmann nog kon inkry, maar toe was die dominee een van die vinnigstes, alreeds uit die kerk se voordeur uit.  Antonius van Staden wat ten tye van nood as die konstabel opgetree het, het alreeds sy konstabel-wapen aan sy lapel gesteek en stoer met sy mauser onder die arm waar hy die voortou geneem het. Daar in die winkeltjie was dit dan toe ook so, net soos Teichmann vertel het. Twee boewe met ongure intensies, met hulle planne in die wiele gery deur die Engelsman. ‘n Engelsman deur God gestuur, het Teichmann gesê, en tant Ossie het dit luidrigtig beaam. So was dit dan toe hoe die vergadering oor wat om te doen met die Engelsman tot ‘n einde gekom het en almal was dit eens saam met Teichmann. Die Engelsman het sy lewe gered en sy besigheid gered en die dorp van wie-weet-wat-anders ook gered. Almal was dit eens, die Engelsman was ‘n held en almal was eens oor die Engelsman se lot. Die Engelsman het gebly en Pietman Jordaan het onderlangs geglimlag, want dit het vir hom gelyk of sy barmhartigheid oor die Engelsman hom dalk nou net goed te staan kon kom.

Ava Teichmann het groot geword in die kontrei. Eers gespeen op die Hottentot se melk, toe geskool deur juffrou de Waal op die bankie langsaan Pietman en mees onlangs het sy vertrek na die Kaap om te gaan leer vir skool juffrou. Haar plan was om by juffrou de Waal oor te vat, want dié was al effe lank in die tand en lankal nie meer lus vir die kontrei kinders se nonsens nie. Drie maande na die voorval met die boewe in haar pa se winkeltjie het sy teruggekom huis toe vir die laaste keer, vir goed. Niemand was meer opgewonde om haar te sien as Pietman nie. Van daardie dag op haar 8ste verjaardag toe Ava hom vol op die mond gesoen het onder die kremetartboom agter die skoolhuisie, het sy hart aan haar behoort, en hare aan hom, so het hy geglo. Hy was vasbeslote om haar te vra om sy vrou te word by haar terugkoms en hy het selfs alreeds sy ouma se ring by sy ma gevra vir die geleentheid. Maar nooit sou hy in sy wildste dag-ten-lewens kon droom dat juis daardie Engelsman wat hy dorp toe gebring het om haar pa se lewe te red, hom soveel probleme sou besorg nie. Die aand van haar tuiskoms het die dorp ‘n groot makietie in die kroeg gehou. Koeksusters, melktert, beesstert en silt het die tafels laat kreun. Niemand sou ooit die Merwevillers daarvan kon aankla dat hulle nie elke geleentheid aangryp vir ‘n geselligheid nie! Daardie aand het Ava omtrent nie ‘n woord met Pietman gewissel nie. Sy was wel bly om hom te sien ja, maar die piksoentjie op sy wang het bitter, soos dié vir ‘n broer geproe. Die res van die aand het sy met daai Engelsman gesels, in Engels! Wat Ava van Engels nie by haar pa geleer het nie, het sy in die Kaap geleer en sy kon ten aanskoue en bewondering van die ander met die Engelsman gesels asof hulle in dieselfde kombuis groot geword het. Die Engelsman het dit ook natuurlik geniet om einde ten laaste met iemand te kon kommunikeer in sy eie taal in plaas van in gebare taal en ‘n mooier kommunikeerder as Ava Teichmann was daar beslis nie te vinde in enige kontrei vir honderde myle ver nie. Pietman het die spulletjie aanskou en met ‘n trek op sy mond asof hy op ‘n naeltjie gebyt het. Llater het hy gereken dat hy seker wel die volgende dag sy beurt sou kry as die nuwigheid van die Engelman nou eers sy gang gegaan het, maar dié het nie sy gang gegaan soos Pietman wou hê nie.

Toe Pietman uiteindelik twee weke later daaronder die ou kremetartboom sy ouma se ring uit sy sak uithaal te midde van ‘n halfhartige en hortende huweliks aanbod, het niks vir hom gewerk nie. Sy Joodse meisiekind het gróót geword daar in die Kaap en daardie Japie van Merweville heeltemal verby gegroei. Sy was nog nie reg vir trou nie, het sy gesê. Sy waardeer dit vreeslik baie en sy ouma se ring is pragtig, het sy gesê, maar nee dankie, noggie nou nie. Pietman het met ‘n ongekende swart in sy hart wat so swaar was soos ‘n ossewa se disselboom huiswaarts gekeer, maar nie voor hy nog ‘n laaste keer die Engelsman en Ava om die winkel se hoek sien verdwyn het nie, met haar vingers styf in syne ingevleg.

Pietman het vir ‘n lang ruk nie sy gesig in die dorp gewys nie. Ava en die Engelsman kon hy nie uit sy gedagtes kry nie. Wanneer hy die beeste aangejaag het in die veld, het hy hom soms verbeel hy sien hulle mekaar speels jaag tussen die bome. By die watergat kon hy eendag sweer die twee kruip vir hom tussen die riete weg, maar dit was net ‘n verskrikte duiker wat tussen Pietman en die water vasgevang was. Die gedagte aan haar vingers styf gevleg in syne het hom tot raserny gedryf. Soms diep in die nag het hy in ‘n koue sweet wakker geskrik met die Engelsman se smalende gesig bokant sy katel. Weldrae het Pietman geweet, daar is net een salf te smeer aan die seer. Die Engelsman moes weg. So het Pietman toe die plan gemaak, die een wat nie net sy lewe onherroeplik sou verander nie, maar ook dies van ieder en elk in die kontrei van Merweville, vir ewig en vir altyd.

Die week tevore het Pietman so ongeërg sy pa uitgevra oor wat sê die boere oor die Khaki’s. So het hy uitgevind dat daar ‘n klein kontingent oppad was hulle kant toe uit Sutherland se area. “Dalk is dit ‘n goeie ding, pa. Dalk kan die Engelsman weer van sy geheue terug win as hy eers met van sy eie tipe te doene het,” sê Pietman. Sy pa het na hom so oor sy skouer gekyk terwyl hy ‘n perdeskoen uit die vuur uitsleep om te hammer, so asof sy seun sy sinnigheid saam met sy liefde verloor het.

“Ghmpf, jy weet wat die Engelse met hom sal maak as hulle hom hier teëloop en besef hy’s een van hulle, né?” het sy pa gesê.

“Wat?” het Pietman gevra en iets in sy seun se stem het sy pa gesê dat hy regtig geen idée gehad het nie.

“As daai Khaki’s hom in die dorp kry, skiet hulle hom vrek vir ‘n deserter.”

“’n Deserter? Wat vir ‘n ding is dit, pa?” het Pietman weer gevra.

“’n Deserter is een wat uit die Army uit weggeloop het, my kind,” het Hendrik gesê. Die spul Tommies sal net dink hy het weggeloop. Dis die wat hy hier is en nie by sy regiment nie.”

Hierdie inligting het in Pietman se voorbrein ontplof soos ‘n ryp granaat en die soet souse van die vrug het sy brein aan die kook gesit soos ‘n pot poetoepap op ‘n weghol vuur. Daardie nag het Pietman suutjies die huis uitgesluip, sy perd opgesaal en by die lig van die volmaan tussen die randjies in verdwyn.

Vir vyf dae het Pietman die Karoo vlaktes en platkop-koppies plat gery op soek na sy prooi. Snags as hy in sy bed rol en gebibber het van die koue, het die gesigte van sy beeldskone Ava en die grynslaggende Engelsman hom in sy drome besoek en hom in ‘n koue sweet laat wakker skrik. Elke oggend dou-voor-dag het hy weer sy perd opgesaal en verder gery. Pietman was die beste skut in die kontrei. Op 16 kon hy al ‘n gemsbok se oog uithaal op ‘n 1000-treë en het homself daarop geroem dat sy ma se voorkamer die enigste een is wat behang en bemat is met bokvelle sonder ‘n enkele koeëlgat;  want Pietman het net kopskote geskiet. Trouens, vanaf ‘n jong ouderdom was Pietman se beste vriend sy Martini Henry, die een wat hy by sy knie in die geweersak gedra het wanneer hy op sy perd se rug was. Menige kere het Pietman ‘n rheebok of ‘n gemsbok sommer so uit die saal uit platgetrek met een skoot. Hy was ook ‘n uitstekende spoorsnyer en as dit ‘n duiker was op wie se spoor hy was, het dié maar min kans gehad van wegkom. Sy skerp spoorsny vernuftigheid het hy by ‘n ou Boesman geleer wat Pietman se pa eendag lank gelede, nog voor Pietman se geboorte van ‘n gewisse dood gered het. Tchi!xo was deur ‘n gemsbok deurboor, een wat hy met ‘n gifpyl geskiet het. Wanneer die Boesman ‘n bok geskiet het, het die gif soms tot drie dae geneem om die dier te dood. Gedurende daardie tyd moes die Boesman op sy spoorsny vernuftigheid staatmaak om op die sterwende dier se spoor te bly. Daardie keer was Tchi!xo te haastig om die “dooie” bok af te slag en die reus het die dwerg met ‘n swaai van die magtige kop met ‘n vlymskerp horing deurboor. Toe Pietman se pa hom daar kom kry het, waar hy gelê het, in die skadu van ‘n kareeboom ‘n entjie van die dooie gemsbok af, was hy bykans bokveld toe.  Sy asemhaling was vlak en die rooi klippers waarop hy gelê het was swart gevlek van sy droë bloed. Die seningrige geel dwerg was taai, taaier as die gemsbok en hy’t die dag oorleef om later lustig te kou en te suig aan die gemsbok se biltong wat Pietman se pa uitgesny het. Die gemsbok se lewenssap het Tchi!xo kan jy maar sê teruggebring na die lewe. Van daardie dag af was Tchi!xo soos ‘n betroubare hond in die Jordaans se huis en toe Pietman gebore is, was die Boesman soos ‘n skaduwee aan hom vasgemaak. Die Jordaans het hom Klein Dawid herdoop want selfs vir die gebore Karoo-vlakte bewoners was die klik-klak-geluide van die Boesman tong ‘n geslote boek. Klein Dawid het eendag verduidelik dat hy bly was oor die nuwe naam, want in sy oorspronklike taal het sy naam “Ongeluk” beteken en sedert hy by die Jordaans kom bly het, het hy nog nooit weer ‘n ongeluk oorgekom nie.

Op die vyfde dag het Pietman oor ‘n randjie tussen twee uitsteek klippe geloer en na die steenbokkie gekyk wat so 200 treë vorentoe gestaan het. Hy was besig om dorre blare van die Karoo bossies af te stroop. Met die Matini Henry het hy aangelê en die bokkie het geval net daar waar hy gestaan het. Toe het hy oor sy skouer gekyk na Klein Dawid waar hy by sy linker skouer gehurk het. Die Boesman het in die lug gespring en een van sy koddige dansies gedoen terwyl hy ‘n warboel klik geluide gemaak het met sy bykans tandlose mond. Toe trek hy soos ‘n pyl uit ‘n boog oor die vlakte om die bokkie te gaan haal. Pietman het bykans geen proviand saamgebring nie, want hy het geweet hy en Klein Dawid kan van die veld af leef wanneer dit moes. In dié dae het hy ook net duikers of klipspringers geskiet sodat hulle so min as moontlik gemors het en so min as moontlik gehad het om saam te dra. Hy het geweet dat dit wat hulle agtergelaat het sou die roofdiere en roofvoëls gou-gou mee klaar gespeel het. Uit die baie lesse wat Pietman van Klein Dawid deur die jare geleer het, was die een van dat ‘n mens nie met kos mors nie, een van die grootstes.

Later daardie middag het Klein Dawid skielik botstil gaan staan en sy hand opgesteek as ‘n teken vir Pietman om die perd in te trek. Instinktief het Pietman geweet dat hulle het die prooi gevind wat hulle gesoek het. Klein Dawid het sy gesig in die windjie ingedraai en met toe oë en oopgerekte neusgate die lug gesnuif soos ‘n leeu mannetjie wat hyenas in die verte bespeur. Toe kyk hy na Pietman, wys in ‘n rigting effe na links en klik-klak sy tong. Pietman het geweet Klein Dawid wys nie na ‘n bok of ‘n roofdier nie. Hy het beduie in die rigting waar die Engelse wat hulle gesoek het was. Uit sy saalsak het Pietman ‘n groot witvlag wat hy van ‘n stuk laken gemaak het getrek en hy het dit aan die voorpunt van die Martini Henry vasgebind. Die lap tussen sy hande het nog na sy ma se blousel geruik en skielik het hy huis toe verlang. Hy het ‘n klein skiet-gebedjie na bo opgestuur, na die seningrige Boesman gekyk en sy kop geknip. Woorde was nie nodig tussen hulle nie. Hulle het albei geweet hoekom hulle hier was. Pietman wou eers alleen gegaan het maar het op die laaste oomblik besluit om Klein Dawid saam te neem. Hy’t gehoor dat die Khaki’s in die omgewing baie kere Boesmans gebruik het vir spoorsnyers en hy’t gereken dat seinde hy bitter min Engels kan praat, die Boesmans dalk as derde-party vertalers kan optree tussen hom en die Engelse. So was dit dan ook. Die klein berede peloton van die Engelse kaptein Gould het Pietman met sy witvlag en Boesman op die vlakte ingewag.  Dertig-man plus die kaptein het hulle wapens op Pietman gerig en hy’t gevoel soos ‘n klipspringer wat hom skielik te midde van ‘n trop leeus bevind het. Hierdie Tommies het nie soos die een in Merweville gelyk nie. Hulle het rooi baadjies en donker broeke gedra. Die baadjies was tot onder hulle kenne toegeknoop en Pietman het gewonder hoe de joos hulle kon asemhaal op die warm kokende vlaktes van die Karoo. Hy’t gehoop en bid dat die wit- vlag hom lank genoeg aan die lewe sou hou sodat hy sy storie aan die kaptein kon oordra. Die hele honderd of so treë wat hy na die Engelse toe moes afloop teen die randjie af het soos ‘n ewigheid gevoel. Die hele tyd het hy Ava se gesig voor hom gehou om hom vol moed te hou, want hy het geweet, wat hy besig was om te doen, was vir haar, die liefde van sy lewe.

Voor die kaptein het hy tot stilstand gekom en het ‘n slaak van verligting gesug toe hy die drie klein geel mensies agter die perde van die Engelse sien wegkruip. Klein Dawid het hulle natuurlik al lankal bespied en sy tong het alreeds geklik-klak toe Pietman sy perd uiteindelik tot stilstand gebring het. Die kaptein was ‘n eerbare man en het nie die nodigheid van 30 gewere gerig op een enkele man met ‘n witvlag gesien nie. Met ‘n handgebaar het hy sy peloton se gewere laat sak. Vir ‘n lang tyd het Pietman en die Engelse net na mekaar gestaar. Nie een het geweet waar om te begin nie.  Aan Pietman se kleredrag was dit duidelik dat hy ‘n Boer van die omgewing was en tien teen een baie min of geen Engels kon praat nie. Onder die Engelse was daar ook geeneen wat Afrikaans of Hollands magtig was nie. Hulle het dit nie nodig gehad nie. Hul gewere en kanonne het al die praatwerk wat met die Boere nodig was gedoen. Maar hierdie situasie het vir ‘n ander taktiek geroep, want hierdie situasie was onderhewig aan die ongeskrewe wet van die Witvlag. Wat nie een besef het nie was dat die klein geel mensies alreeds alles vertel het wat te vertelle was in die bestek van ‘n paar kort klik-klakke van hul andersins geluidlose taal. Een van die klein geel Boesmantjies het gedraf tot by die kaptein se linker stiebeuel. Die kaptein het afgebuk na die dwerg toe om te kon hoor wat hy sê en in ‘n gebroke Engels het hy die nuus oorgedra van die Engelsman in Merweville. Die kaptein het opgekyk na Pietman en gefrons. Toe hy met Pietman praat, was al wat Pietman verstaan het die woord “Englishman”.

“Ja,” het Pietman gesê, “deserter” en met sy duim oor sy skouer beduie. Toe maak Klein Dawid die saalsak oop. Soos een man ruk die Tommies hulle gewere tot skouer hoogte. Pietman het haastig sy hande in die lug gegooi en “Whoa” geskree. Toe wys hy versigting na die saalsak en beduie dat daar iets daarin is wat hulle sou wou sien. Die kaptein het sy hand in die lug opgehou en die rooi baadjies het weer die gewere laat sak. Toe het die kaptein na Klein Dawid toe gewink en vir hom beduie om te bring wat hy wou wys. Die klein geel mensie aan die kaptein se linkervoet het uitgedraf en halfpad tussen Pietman en die kaptein het die oorhandiging van die Engelsman op Merweville se Khaki baadjie plaasgevind. Die kaptein het weer gepraat. Klein Dawid en die kaptein se geletjie se tonge het geklik-klak.

Die kaptein het vyf vingers in die lug gehou. “Five days?” he asked.  Klein Dawid het vertaal die kaptein vra hoe ver.

“Vyf dae, ja,” het Pietman geantwoord met vyf vingers in die lug. So tussen die klik-klakke en die Engels deur het Pietman verneem dat die Engelse in elk geval in daardie rigting oppad was en dat hulle nie van plan was om Pietman en Klein Dawid te skiet nie. Inteendeel, Pietman en Klein Dawid moes hulle wys waar die deserter was. Pietman se hart het gebons van blydskap, want dit was nie lank meer voor die Engelsman uit sy en Ava se lewens was vir goed nie;  voor Ava onder die Englesman se towerspel kon uitkom, voor hy Ava se hart kon terug wen en voor hy sy ouma se ring aan haar vinger kon steek en Ava sy vrou maak nie.

Vier dae later het Pietman en Klein Dawid die Tommies alleen laat afry teen die randjie na die dorpie toe.  Die boere was nie gereed vir ‘n geveg nie. Die enkeles wat dit gewaag het om ‘n geweer op te tel het in hul spore in die rooi stof neergesak. Vrouens het geskree en kinders het gehardloop vir die veiligheid van die huise. Die Tommies het in die middel van die dorp se enigste stof straat gestop en Antonius van Staden het met sy bors uitgestoot en ‘n witvlag aan ‘n besemstok uitgestap, die straat in. Die Engelse het hom vir ‘n hele ruk lank so bekyk, gewere teen hulle skouers.  Toe het die Engelse kaptein gesê: “We are looking for the Englishman that you have been hiding in your town!” Antonius het nie ‘n enkele woord verstaan nie en het botstil gestaan met die besemstok met die wit kussingsloop bo-aan die punt vasgemaak. “Hand him over and we will spare your town!” het die kaptein weer gebulder.

“Antonius!” het ou juffrou de Waal van die winkeltjie se stoep afgeroep. “Hulle soek die Engelsman!”

“O ja!” sê Antonius terwyl sy snor reguit spring in ‘n groot glimlag, “Die Engelsman!” En hy het ‘n tree gegee in die rigting van die winkeltjie waar hy geweet het die Engelsman was.

“Antonius! Nee!” het ‘n stem gebulder van agter. Dit was Pietman se pa. “Hulle wil die man skiet, my goeie donner!” het hy Antonius tot stilstand geskreeu. Maar die Engelse kapteintjie was slimmer as enige van die ander rondom hom en het dadelik gesnap wat besig was om af te speel. Dit was óf dit, óf die geklik-klak van die geel mensie by sy linker stiebeuel. Wat volgende gebeur het, het vir Pietman daar teen die heuwel in ‘n ysblok verander. Die kaptein het doodluiters sy rewolwer uit sy lyfband getrek en vir Pietman se pa vol in die middel van sy borskas geskiet. Twee ander jong boere wat hul gewere regop gepluk het, het ook in die rooi stofpad gesneuwel, voor hulle ‘n skoot kon afkry. Vroue stemme het gegil en Pietman se ma het op haar knieë geval langs haar dooie man. Antonius het die witvlag woes deur die lug geswaai en hard geskree op die burgers om tog asseblief stil te staan met hul hande bo hul koppe voor nog iemand sterf. Dit het hom etlike minute gevat om almal tot bedaring te kon bring. Tussen die geroesemoes deur het die Engelse kalm op hul perde bly sit en die situasie uit die hoogte uit aanskou. Stelselmatig het die mense van Merweville verstar in hul spore soos marionette waarvan die toue skielik styfgetrek het. Stilte het oor die stof straat neergedaal. Al geluid wat hoorbaar was, was die geween van Pietman se ma waar sy oor die lyk van haar man gebuk het. Op die afstand kon Pietman sien hoe haar skouers ruk. Op daardie oomblik het die klokkie bokant die winkeldeur gelui en die Engelsman het in die deur verskyn. Agter hom was die kleiner lyfie van Ava Teichmann duidelik sigbaar.

Die Engelsman het die kaptein stip in die oë gekyk. “I believe you are looking for me,” het hy gesê.

Op die randjie onder die Kremetartboom, het Pietman en Klein Dawid verstard gestaan en die moord onder in die dorpie met afgryse aanskou. Trane van wanhoop en woede het oor Pietman se wange geloop. Uit sy keel het skor hortende geluide gekom soos iets uit die keel van ‘n sterwende leeu. Sy pa het doodgelê in die rooi stof doer onder hom en hy was verantwoordelik daarvoor. As dit die laaste ding is wat hy doen, het Pietman homself daaronder die bome belowe, sal hy die Tommie kaptein vir sy pa se moord laat boet.

Die Tommies het na die Engelsman in die winkel se deur gedraai en hul gewere op hom gerig.

“State your name, rank and number, soldier and you reason for being here away from your regiment!” het die kaptein gesê.

Die Engelsman het rondom hom gekyk na die mense van die dorp, toe na Ava agter hom, en toe het hy gesê, “I am called Walter, but more I don’t know.”

Toe trek die kaptein die Engelsman se khaki baadjie uit sy saalsak en trek ‘n opgevoude papier uit dié se binnesak. Hy het dit oopgevou en lees toe daarvan af; “Lieutenant Walter Arnot of the 3rd South Australian Contingent. You are hereby found guilty of desertion and condemded to die. You will be shot immediately.” En met daardie woorde verdoem die kaptein met die rooi baadjie toe die Engelsman tot die dood asof dit die mees natuurlikste ding in die wéreld was om te doen. Terwyl ou juffrou de Waal vertaal het vir die res van die dorp met ‘n huilerige stem, het vier van die Rooibaaidjies van hul perde afgeklim en die Engelsman ten aanskoue van almal in hegtenis geneem. Ava het probeer keer, maar hulle het haar hardhandig uit die pad gestoot. Haar pa het haar gekeer voordat een van die Tommies dit dalk in hulle koppe kon kry om haar ook te skiet, seinde hulle klaarblyklik nie geskroom het om ‘n boer soos ‘n hond dood te skiet nie.

Die vier Tommies met die Engelsman tussen hulle het teen die trappies van die winkel af gemarsjeer. Hulle het die Engelsman staan gemaak teen die paal voor die winkel, hom daarteen vasgemaak en ‘n doek oor sy oë gebind. Die vrouens het begin ween en van die mans het kwaai onderlangs gemor, maar niemand het ‘n vinger veroer nie. Ses van die Tommies het aangelê met gewere op die geblindoekte Engelman. Dié het kierts regop gestaan met sy kop hoog gelig, asof gereed vir wat sou kom. Die kaptein het sy swaard hoog in die lug gehou en bevele gegee in Engels. Meteens het Ava uit haar pa se greep losgeruk. ‘n Kreet het oor Moses Teichmann se lippe gerol maar hee llaas, hy was te laat om sy beeldskone dogter te keer. Sy het haarself van die trappe afgewerp en haar geliefde Engelsman om die hals geval die oomblik toe die skote klap. Ava en die Engelsman het saam gesterf daar voor Moses se winkeltjie tydens luide gille van die dorpenaars. Elke man wat krag in sy bene gehad het, het op daardie oomblik gehardloop vir ‘n geweer.  Maar die Engelse was voorbereid en veel beter gewapen. Hulle het daardie middag meer as die helfte van die dorp se inwoners vermoor en toe die dorp aan die brand gesteek voordat hulle hul handewerk in ‘n stofwolk agter gelaat het. Nie ‘n enkele Rooi baadjie het gesneuwel nie terwyl die stof straat besaai gelê het met die bloeiende lyke van boere mans, vrouens en kinders.

Daar teen die randjie was Pietman gedoem om die vernietiging van sy dorpie en sy mense in afgryse te aanskou. Hy het op sy knieë neergeval en sy vuiste stukkend geslaan op die rooi klippers van die Karoo-vlakte. Sy trane het die stof in modder omskep en tussen dit alles deur het Klein Dawid stokstyf en doodstil langs die boom gestaan. Die dood was vir hom so deel van die lewe soos die volgende maaltyd,  maar hierdie wanhoop wat Pietman uitgestaal het was vir hom iets vreemds, iets euwel en het amper ‘n metaal-agtige smaak agter in sy keel veroorsaak. Teen die tyd dat Pietman stil geword het daaronder die kremetartboom het Klein Dawid soos ‘n spook in die nag verdwyn en Pietman het hom nooit weer gesien nie.

Pietman het sy perd hardhandig omgepluk en teen die randjie afgejaag, weg van die brandende dorp af.  Agter hom het die Engelse se perde ‘n stofwolk opgeskop groot genoeg om ‘n trop olifante te verswelg. Pietman het die dier hard gery om voor te bly.  Hy wou die vlakte oorsteek en agter die volgende koppies verdwyn voor die Engelse hom kon gewaar. Agter die koppies het hy sy perd weer ingetrek en saggies met hom gepraat asof hy hom wou kalmeer en moed inpraat vir die onvermydelike wat voorgelê het. Pietman het net een ding op sy brein gehad – en dit was moord.

Pietman het sy perd teen die agterkant van die heuwel opgestuur en bo-op die plat koppie het hy die stofwolk van die Engelse dopgehou soos dit oor die vlakte aanbeweeg het in sy rigting. Toe hulle naby genoeg was dat hy die individuele soldate kon uitmaak, het hy aangelê. Drie Rooibaadjies het stof gevreet voor hulle geweet het wat aangaan. Die res het eers vir ‘n paar oomblikke in die rondte gemaal.  Hulle het nie ‘n idée gehad vanwaar die skote gekom het nie. Toe hulle rigting kry, het hulle laat spaander en gou-gou was hulle buite Pietman se geweer se bereik. Weer het Pietman sy perd gemoor en ‘n uur later met ‘n wye draai weer voor die Engelse ingesny. Weer het hy ‘n koppie uitgeklim en vir hulle gewag. Die Rooibaadjies het in die verte aangekom teen ‘n gemaklike pas. Hy het geweet hulle perde was tam. Die Engelse het ‘n manier gehad om perde te ry tot hulle dood neerslaan en hierdie Engelse perde was nie gewoond aan Karoo bossies vreet nie. Sy eie het swaar asemgehaal, maar hy was sterk en fiks. Teen die tyd dat die Engelse perde by hulle gekom het, sou Pietman se perd alweer reg wees vir die volgende lopie. Weer het Pietman die Engelse onverwags gevang. Twee Rooibaadjies het in die stof gebyt voordat die ander hulle perde vinnig genoeg kon aanspoor om buite bereik van die skieter te kon kom. Pietman het grim gefrons en sy onderlip tussen sy tande vasgebyt.

Die kaptein het het sy perd omgedraai en beduie na die koppie waar Pietman verskuil was. Hulle het klaarblyklik besef uit watter rigting die skote gekom het. Pietman kon sien hoe die kaptein bevele uitdeel maar kon nie hoor wat hy gesê het nie. Toe het vyf ruiters weggebreek van die hoofgroep af en met ‘n wye draai agter om die koppie begin beweeg. Toe Pietman nog een van hulle tussen die oë klits, het die ander vier in die teenoorgestelde rigting gejaag, weg van die skieter af. Pietman het gewonder of hulle teen daardie tyd al besef het dat hy alleen was.  Nie dat dit hom gepla het nie. Solank as hy hulle kon ver genoeg weg hou, was hulle nie vir hom ‘n gevaar nie. Vir hom was hulle niks meer as ‘n trop rheebokke nie en ‘n dom trop daarby.

Die vier ruiters het ver genoeg van die koppie afgebly sodat hulle net-net buite Pietman se bereik was. Hulle het stadig beweeg en een het kort-kort die koppie se skadus met ‘n verkyker bespied. Pietman was te slim vir hulle en het buite sig gebly en geduldig sy kans afgewag. Toe die vier aan die agterkant van die koppie omgekom het, het Pietman fyn-fyn aangelê. In sy geestes-oog het hy vir Ava gesien, sy lieflike Ava, nou ‘n lyk in die rooibruin stof. Nog twee Rooibaadjies het gesneuwel voor die laaste twee hotagter weggejaag het asof die duiwel op hulle hakskene was. En hy was.

Pietman het sy perd gaan haal, die saal afgehaal en die perd geroskam. Toe het hy hom gelei na ‘n stroompie water daar naby waar hy sy dors ook geles het. Oor die oorblywende Engelse was hy nie bekommerd nie. Hulle sou hy weldra opvang. Toe beide hy en sy perd hul kragte herwin het, het Pietman weer opgesaal en die wa-pad wat die Engelse ruiters oor die Karoo-vlakte gelos het gevolg. Hy het geweet dat die spoor wat hulle gelos het sou eindig daar waar die Rooibaadjies daardie aand hulle bedrolle sou uitrol, want selfs ‘n dooie man moet slaap.

Laat daardie aand het Pietman hulle gekry, met hulle rûe teen ‘n krans, verseker in hul superioriteit en vreesloos soos buffels wat water drink by die rivier, oënskynlik onbewus van die krokodille wat lê en wag. Pietman het minder as vyftig treë van hulle af in die donker gesit en sy tyd afgewag.

Daar teen die krans het die kaptein wakker geskrik uit ‘n gruwelike nagmerrie met flappende vlerke in sy gesig. Tot sy konsternasie het daar ‘n tamaaie aasvoël bo-op sy bors gesit, kloue in sy rooi baadjie vasgeslaan en skewe krom snawel gevaarlik naby sy oë. Met verontwaardiging vlak in sy oë en ‘n gil op sy lippe, het die kaptein die dierasie met swaaiende arms verjaag. Die ding het net so ‘n paar treë ver gevlieg en die kaptein vies aangegluur, so asof hy aksepsie geneem het met die feit dat hy nie dood was nie. Die kaptein was besmeer van die bloed en hy het homself geinspekteer om te probeer agterkom waar hy orals stukkend gebyt was, maar hy was heel. Die voël het nie aan hom gevreet nie.  Dit was nie sy bloed nie. Toe die kaptein die massiewe voël met die krom nek se volgende sitplek sien, verander sy verontwaardiging in koue vrees. Hy het regop gesit om die prentjie rondom hom in oënskou te neem. Rondom hom, gerangskik soos die gebreekte gesigte van twee-en-twintig klokke, het sy manskappe gelê, met uitgestrekte arms en bene, oë en monde wyd oopgestrek in stille gille van vrees en liggame oopgevlek soos vars karkasse. Die bloed en binnegoed van die Engelse soldate het die aarde donker rooi gevlek en opportunistiese aasvoëls het onder mekaar baklei vir die sagste stukkies vleis. Teen die krans was daar ‘n grynslaggende doodskop geverf in dik strepe rooi bloed, so hoog en so breed soos ‘n ossewa tent.

Eers het die bloed die kaptein se gesig verlaat en as dit nie was dat hy met bloed besmeer was nie, sou hy so wit soos  die troos vlag gewees het. Ook alle wil om te beweeg het uit sy ledemate gevlug en hy het soos ‘n verstarde strooipop daar tussen sy dooie manskappe gesit. Eers toe die leemte in sy wese vervul was met naalde en spelde van vrees, het hy met ‘n vreesaanjaende gil opgespring en die naaste perd bestyg sonder saal of toom. Krampagtig het hy aan die dier se maanhare vasgeklou en weggejaag van die diaboliese skouspel af asof die duiwel self op sy hakskene was en hy was.

‘n Koeël uit Pietman de Waal se .303 Martini Henry het die kaptein se lae rug deurboor en sy rugstring versplinter in ‘n duisend skerwe vlymskerp been. Hy het van die perd afgeval en ‘n voor deur die rooi grond en droë bossies met sy gesig geploeg. Pietman het doodluiters nader gery en die laaste treë doelgerig op die Engelsman afgestap waar hy op sy verminkte rug gelê het en gekrul het van die pyn. Pietman het wydsbeen bo-oor die kaptein gaan staan en hom stip in die oë gestaar. Hy was besmeer van die bloed. Sy klere was deurdrenk en sy hare was stokstyf daarvan. Sy oë was wydgesper soos sy neusgate en die wit het wild in hulle gestaan.

“You!” het die kaptein gesis, sy gesig vertrek van vrees.

“Ja ek, jou Engelse gespuis,” het Pietman sagkens gefluister. “Jou laksman is hier.” Die Engelsman het nie ‘n woord verstaan wat Pietman gesê het nie, maar hy was deeglik bewus van Pietman se bedoelinge. Toe buk Pietman af en met sy knie op die kaptein se bors, saag hy deur die senings van sy nek, deur sy gorrel en sy slukpyp, dwarsdeur die werwels wat sy kop aan sy lyf vasgehou het. Hy lig die Engelsman se kop aan sy hare op en hou dit bo sy kop uit soos ‘n laksman uit die Bybel. Toe skree Pietman ‘n vloek uit oor die Engelse wat sy pa, sy geliefde Ava en sy dorp vermoor en verwoes uit. Hy skree ‘n vloek uit oor elke Engelsman wat ooit weer sou waag om sy voet op daardie dorre stuk aarde te sit en toe sak Pietman neer in ‘n hopie bedremmeldheid in die Engelse kaptein se bloed en ween vir sy verlies.

Heelwat later daardie middag het Antonius van Staden en die veertig-of-so oorblywende manne van die kontrei by die kaptein se koplose lyk aangekom.

“Dis die laaste een manne,” het hy saggies gesê terwyl hy sy hoed van sy kop afgehaal het in eerbied vir die dooie. “Een-en-dertig.”

‘n Enjtie daarvandaan het Pietman de Waal se perd baie van hulle se vermoedens bevestig oor die oorsaak vir die streep dooie Rooibaadjies wat hulle gelei het tot by die slagting by die krans en einde ten laaste tot by die afkop kaptein.

Ja, nes ek gedink het,” het oom de Jager gesê. “Dis Pietman se werk hierdie. Kopskoot, elkeen van hulle.”

Maar vir Pietman kon hulle nêrens kry nie. Hulle het geroep en gesoek maar hy het verdwyn soos ‘n groot speld.

“Dalk is hy met een van die Khaki’s se perde terug dorp toe,” het een van die manne geoffer.

“Vir wat?” het van Staden gesê, “sy perd makeer dan niks nie.”

Maar Pietman was weg. Sy werk gedaan en met niks meer oor om voor te lewe nie, het hy die veld te voet ingeslaan met die kaptein se kop in die hand. In sy waansinnigheid het hy die verkeerde rigting ingeslaan en nooit by die dorp uitgekom nie. Dors en uitputting het hom ‘n paar dae later in ‘n droë rivierloop ingehaal. Daar het hy met die kaptein se kop nog steeds in sy hand vasgeklem, vingers verstrengel in sy hare, beswyk in die kouete van die nag, maar Pietman het dit nie geweet nie. Sy gees het sy liggaam agtergelaat daar in die droë rivierloop en deur die maande en die jare het sy liggaam vergaan tot stof en in die reën seisoen het die water sy beendere toegespoel onder die rooi Karoo stof.

Met die tyd het die Rooibaadjies se liggame onder die krans ook vergaan en een geword met die Karoo stof. Die krans staan vandag bekend as Slagterkrans en die kille stuk aarde tussen Laingsburg, Sutherland en Merweville het in die fluister-stories van die geharde mense wat daar bly ‘n naam gekry;  Die Moordenaars Karoo.

Pietman se gees het uiteidelik weer by Merweville uitgekom en daar tot sy stomme verbasing het hy die Engelsman wat hom soveel leed aangedoen het se graf gevind, in ‘n ereplek, in die middel van die dorp se begrafplaas. Daar het die Engelsman gelê, omring deur die vele ander wat daardie dag aan die hande van die Engelse gesterf het;  sy pa, sy ma, sy geliefde Ava. Dié gesig was net een te veel vir die arme Pietman en hy het geween en geskeeu en die kaptein se kop geslaan teen die Engelsman se grafsteen totdat hy nie meer krag oorgehad het nie.

Vandag nog, as jy dit sou waag om deur die Moordenaars Karoo te ry, op ‘n donker winters nag, en jy dit sou waag om by Merweville se begrafplaas te vertoef, sal jy vir Pietman daar sien; bebloed en verslete met ‘n kop in sy hand, wenende oor die onreg wat die Engelsman hom aangedoen het en die liefde wat hy vir ewig verloor het.

f t g